Verbruikersake: Druk op SA’ners se beursies neem steeds toe

Argieffoto: Pixabay

Suid-Afrikaners leef nou al ʼn paar maande saam met volgehoue beurtkrag en nou word die Nasionale Energiereguleerder se massiewe 18,65%-verhoging in elektrisiteitstariewe ook nog geïmplementeer. Dit is dus nie verbasend dat die resultate van ʼn onlangse opname deur Debt Rescue toon dat die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners nie meer glo dat hulle dit kan bekostig om die ligte aan te hou nie. Ina Opperman vertel meer.

Meer as 1 000 mense het aan die opname deelgeneem en hul antwoorde weerspieël die desperaatheid van mense regoor die land, met ʼn oorweldigende 77% wat sê hulle glo die koste van elektrisiteit het onbekostigbaar geword, terwyl ʼn verbysterende 89% gesê het dat dit hul begrotings aansienlik sal beïnvloed.

Dit sou alles goed en wel wees, as dit nie was vir die feit dat almal behalwe ʼn gelukkige paar nie kan leef sonder die krag wat Eskom verskaf nie. Met die winter wat al hoe nader kom, het die land nodig dat Eskom meer doeltreffend funksioneer, sodat huishoudings warm kan bly, kos gemaak kan word en daar lig kan wees in die donker.

“Suid-Afrikaners word gevra om op die mees onregverdige en onbekostigbare manier vir korrupsie en wanbestuur by Eskom te betaal,” sê Neil Roets, uitvoerende hoof van Debt Rescue. “40% van diegene wat ons ondervra het, het gesê hulle bestee reeds tussen R500 en R1 500 per maand om elektrisiteit te koop en dat hulle eenvoudig nie nog ʼn verhoging kan absorbeer nie.

“Boonop moet gesinne wat die minste verdien ʼn buitensporige bedrag van hul inkomste aan noodsaaklikhede soos vervoer, elektrisiteit en kos bestee, terwyl hulle steeds met die dubbele swaard van verlammende kragonderbrekings moet worstel. Dit is die werklike nasionale ramptoestand,” waarsku hy.

Terwyl die regering mense aanraai om elektrisiteit spaarsamig te gebruik, met voortdurende aankondigings dat die netwerk onder druk is en raad gee wat gelykstaande is aan ‘hou net aan om in die donker te dans’, het die meeste mense maatreëls getref om hul elektrisiteitsverbruik te verminder.

Volgens Roets het 61% van die deelnemers bevestig dat hulle in energiedoeltreffende toestelle belê het, 29% het oorgeskakel na voorafbetaalde elektrisiteit in ʼn poging om hul maandelikse verbruik te verminder en 16% het sonkrag laat installeer.

“Beurtkrag het ʼn ontstellende uitwerking op elke Suid-Afrikaner se lewenswyse,” sê Roets. “Dit is onomwonde bevestig deur 65% van diegene wat ondervra is, wat gesê het dat beurtkrag elke aspek van hul lewens ernstig geraak het. Dit is moeilik om te glo dat die regering onbewus is van die haglike omstandighede waarin die grootste deel van die bevolking hulle tans bevind.”

Terwyl verbruikersprysdruk sedert die tweede helfte van 2022 geleidelik verslap het en die hoop laat opvlam het dat die Reserwebank binnekort sy verhogingsiklus kan beëindig, het die daaropvolgende intensiteit van beurtkrag en die uitwerking daarvan op veral ondernemings ʼn stok in die wiel gesteek. Dit word gestaaf deur die energiekenner, Lungile Mashele, wat sê dat die komende wintermaande waarskynlik nog erger sal wees.

Die jongste verbruikersprysindeks lui die oordeelsdagklok vir 61 miljoen burgers met die nuus dat Suid-Afrika se inflasiekoers in Maart tot 7,1% gestyg het weens die skerp styging in voedselpryse. Die ontstellendste is dat voedselinflasie in die laaste 12 maande met 14% gestyg het, wat die jaarlikse voedselinflasiekoers tot ʼn hoogtepunt in 14 jaar geneem het – die grootste jaarlikse styging sedert Maart 2009.

Dit beteken dat gesinne regoor die land in die nabye toekoms geen verligting in die koste van hul maandelikse kosmandjies kan verwag nie en soos altyd is dit die kwesbaarste huishoudings wat die meeste ly. “Hoekom sien ons nie dat meer beslissende stappe gedoen word nie?” vra Roets.

Hoe om van jou skuld ontslae te raak

Hoe om van jou skuld ontslae te raak, is  ʼn vraag wat verbruikers gereeld vra, aangesien die meeste van hulle baie verskuldig is en graag uit die skuldstrik wil ontsnap. Middelinkomsteverbruikers bestee gemiddeld 30% van hul inkomste op ongesekureerde krediet en 35% op versekerde krediet, met min oor vir die res van die maand.

TransUnion se voortgesette Consumer Pulse-studie toon dat meer as die helfte van Suid-Afrikaanse huishoudings (55%) steeds die uitwerking van die pandemie op hul finansies voel, met 85% wat “hoogs bekommerd” is oor hul vermoë om hul rekeninge en lenings te betaal, insluitend persoonlike lenings, mashonisa (informele en/of ongeregistreerde kredietverskaffers) lenings, private studielenings en kleinhandel- en klerewinkelrekeninge, sê Kriben Reddy, hoof van verbruikersake by TransUnion.

Wenke om jou skuld te verminder

TransUnion se raad vir verbruikers om hul skuld te verminder sluit in:

  • Begroting, begroting, begroting. Die enigste manier om op hoogte te kom van jou finansies en oorbesteding te vermy, is om ʼn effektiewe begroting te skep. Dit hoef nie ingewikkeld te wees nie.
  • Spaar vir onvoorsiene uitgawes. Probeer om ʼn gedeelte van jou salaris opsy te sit om te betaal vir enige onverwagte finansiële krisisse, soos gesondheidsnoodgevalle of groot herstelwerk aan jou motor of ʼn huishoudelike toestel. Op hierdie manier kan jy keer dat jy gedwing word om duur krediet te gebruik om onverwagte uitgawes te hanteer.
  • Betaal jou skuld af. Prioritiseer jou skuld en as jy dit kan bekostig om meer te betaal, begin eers met die duurste skuld. As jy kan, betaal meer as die minimum saldo wat elke maand verskuldig is, anders sal jy uiteindelik meer rente betaal as wat jy moet.
  • As jy sal sukkel om al jou skuld te betaal, praat met jou krediteure en herstruktureer jou terugbetalings. Sodra jy ʼn betaling misloop, beïnvloed dit jou krediettelling negatief en sal dit jou kanse om krediet te kry in die toekoms benadeel.
  • Kry jou jongste kredietverslag wat jou lopende kredietrekeninge lys, insluitend kredietkaarte en huis-, motor- en studielenings. Gaan jou verslag na vir enige foute wat jou krediettelling kan beïnvloed. Sodra jy weet wat jou telling is, kan jy stappe begin doen om dit te verbeter.
  • Verander jou bestedingsgewoontes en bestuur jou blootstelling aan krediet noukeurig. Maak seker jy betaal elke maand die volle saldo wat op jou kredietkaart verskuldig is af. En as jy daardie spoggerige nuwe grootskerm-TV wil hê, spaar daarvoor.

Sien om na jou huislening

Tej Desai, uitvoerende hoof van Alefbet Collections & Recoveries, het ook hierdie wenke om van jou skuld ontslae te raak:

  • Wees proaktief en praat met jou krediteure as jy enige risiko loop om jou skuldterugbetalings mis te loop.
  • As jy skuld by een krediteur afbetaal, gebruik die geld wat jy reeds gewoond was om te betaal om jou volgende terugbetaling aan te vul, wat beteken dat jy jou termyn en rente aansienlik sal verminder.
  • Moenie jou huislening-ekwiteit gebruik om jou skuld te konsolideer nie, want jy kan uiteindelik meer rente betaal.
  • Dink baie mooi oor skuldhersiening, want dit sal jou verhinder om nuwe krediet te kry en jy kan nie die proses verlaat voordat al jou skuld vereffen is nie.
  • Kyk mooi na jou bestedingsgewoontes en vermy dié wat jou in onnodige en impulsiewe bestedingstrikke lei.
  • As jy finansiële probleme ondervind as gevolg van aflegging, kyk of jy kredietversekering het op sommige van jou lenings, kleinhandelrekeninge en kredietkaarte wat daar is om jou te beskerm as jy jou werk verloor en nie jou skuld kan betaal nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

melaney ·

Ek weet van heelwat mense wat nou tente aankoop (of verniet by kennisse ontvang), wat werkloos is en geen heenkome het nie. Van hulle het kinders én sorg vir hul ouers. En die winter is klaar hier. My hart gaan uit na hulle.

Schalk ·

Dit is baie erger as wat dit op die stadium lyk. Mense is nog trots en steek swaarkry weg . Onder die dekmantel as besigheids eienaar kan ek getuig die mense kry swaar. Alles gaan op en dit raak almal wat werk. Of jy nou mense help soos familie , vriende en werknemers hoor jy van nog meer wat desperaat is. Gepaard daarmee gaan mense se maniere soos druk sielkundig toeneem en die vlak van beskuldiging daal dikwels tot hulle werkgewers. Maar onthou sommige is ook onder druk en winste is klein. Ons help met voedsel en basiese mediese hulp soos alledaagse griep , hoofpyne en verwante oor die rak hulpmiddels. Oortollige kos word uitgedeel en vervoer word gedeel waar moontlik. Alles peil egter op ‘n dag D af waar die laaste dag aanbreek. Mense wat soos familie en vriende saam werk moet afbetaal word want die minimum loon hang soos ‘n swaard oor finasies en voeg daarby werksbeleid deur die regering wat onvanpas is om te groei en eerder ‘n belasting op die winste word. Wat doen die werkgewer

Koen ·

Wat doen die kerke? Ooo, OK. Hulle dolleer en baklei nog oor guys. Hulle het nie tyd om oor sulke onbenullighede te bekommer nie

otter ·

kyk ek gana met jou saam stem. kerke wil net ontvang. oordeel heeldag (terwyl daar gese word jy mag nie oordeel nie) daar is mense wat swaar kry en die kerk verwag nog steeds dat daar n 10 de of so van hul geld na hulle gaan …. dinge soos die verstaan ek glad nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.