Verbruikersake: Hoe gemaak as voetstoots nie werk nie?

(Argieffoto: pixabay)

Baie verbruikers het al onder die “voetstoots”-klousule deurgeloop, veral wanneer hulle gebruikte motors koop. Wanneer die motor dan later probleme gee, weier die handelaar om te help, want hy sê die verbruiker het die voertuig “voetstoots” gekoop. Hierdie klousule is egter onwettig in Suid-Afrika, waar dit met verbruikersooreenkomste verband hou. Ina Opperman het gaan kyk wat sê die wet.

Voetstootstransanksies word nie toegelaat in terme van die Wet op Verbruikersbeskerming nie en verskaffers mag nie goedere verkoop sonder om enige aanspreeklikheid te aanvaar vir foute en probleme nie.

ʼn Voetstootsklousule is gebruik voordat die Wet op Verbruikersbeskerming in 2011 van krag geword het en is gebruik om die verkoper vry te stel van aanspreeklikheid wanneer goedere latente gebreke gehad het, tensy die verkoper kon bewys dat die verbruiker daarvan bewus was en dit nie gebruik is om die verbruiker te bedrieg nie. ʼn Latente gebrek is ʼn fout in goedere wat jy nie sou raaksien gedurende ʼn redelik deeglike inspeksie voordat jy dit koop nie.

ʼn Voetstootstransaksie is dus onwettig in terme van die Wet en verskaffers word nie toegelaat om enige aanspreeklikheid te ontduik vir gebreke nie en ʼn voetstootsklousule word ook verbied.

Kan goedere nog voetstoots verkoop word?

Volgens die Ombudsman vir Verbruikersgoedere en -Dienste was die doel van voetstoots dat dit ʼn vrywillige ooreenkoms tussen twee partye is wat albei goed verstaan, maar in die praktyk is hierdie verhouding gewoonlik ongelyk en die sterker party, gewoonlik die verskaffer, kan homself uitkontrakteer uit seker wettige pligte met vrywarings en uitsluitingsklousules.

Al was daar aan die begin ʼn debat oor of voetstootsklousules van toepassing kan wees op verbruikerstransaksies in terme van die Wet, het die Nasionale Verbruikerstribunaal intussen besluit dat ʼn voetstootstransaksie nie van toepassing is op enige transaksies wat onderhewig is aan die Wet nie en dat hierdie soort van transaksie ook nie toegelaat word nie in terme van artikel 5.

Die enigste uitsonderings is wanneer goedere op ʼn veiling verkoop word, wanneer dit na die verkoop verander is en waar die verbruiker uitdruklik ingelig is dat spesifieke goedere in ʼn spesifieke toestand aangebied is en óf uitdruklik ingestem het om die goedere in daardie toestand te aanvaar, óf bewustelik opgetree het op ʼn wyse wat ooreenstem met die aanvaarding van die goedere in daardie toestand nadat die verkoper hom van bepaalde gebreke ingelig het.

Afgesien van die uitsondering van goedere wat op ʼn veiling gekoop word, is die enigste ander uitsluiting waar die verbruiker ʼn entiteit is met ʼn jaarlikse omset van meer as R2 miljoen, aangesien die CPA nie dan van toepassing is nie.

Wat sê die Wet op Verbruikersbeskerming?

Volgens die Wet het verbruikers die reg op veilige goedere van goeie gehalte volgens artikel (55)(2) van die CPA, wat bepaal dat goedere:

  • redelikerwys geskik vir die doel moet wees en oor die algemeen bedoel of geskik wees vir enige spesifieke doel wat aan die verskaffer gekommunikeer is;
  • van ʼn goeie gehalte, in goeie werkende toestand en vry van gebreke moet wees;
  • bruikbaar en duursaam vir ʼn redelike tydperk moet wees; en
  • voldoen aan enige ander wetgewing wat die gehalte daarvan reguleer.

Artikel 55 (3) bepaal ook dat verbruikers die reg het om te verwag dat die goedere redelikerwys geskik is vir die spesifieke doel waarvan die verbruiker die verskaffer in kennis gestel het.

Die ombudsman sê in ʼn adviesnota dat hierdie regte beskerm word as ʼn geïmpliseerde term in enige transaksie of ooreenkoms wanneer goedere aan ʼn verbruiker verskaf word dat die produsent of invoerder, verspreider en kleinhandelaar elkeen waarborg dat die goedere aan al hierdie vereistes voldoen.

Indien die gebrek binne ses maande na aflewering kop uitsteek, kan die verbruiker dit, op die verskaffer se risiko en onkoste, terugstuur en sonder boete ʼn terugbetaling, vervanging of herstel eis. Die keuse is die verbruiker s’n.

Al laat artikel 55 (6) van die Wet ʼn verskaffer toe om aanspreeklikheid vry te spring vir gebreke wat onder die aandag van die verbruiker gebring is, mag hierdie klousule nie gebruik word met terme wat onbillik, onredelik of onregverdig is nie en moet dit teen die verkoper geïnterpreteer word met inagneming van wat ʼn redelike persoon sou verwag. Artikels 51 en 2 wys egter dat daar geen plek is vir voetstoots in transaksies wat onder die CPA val nie.

Verkopers mag ook nie uit die Wet kontrakteer nie

Volgens artikel 51 mag ʼn verskaffer nie ʼn transaksie of ooreenkoms aangaan onderhewig aan enige termyn of voorwaarde indien die algemene doel of uitwerking daarvan is om die doeleindes en beleid van die Wet te omseil, die verbruiker te mislei of die verbruiker aan bedrieglike gedrag te onderwerp nie.

Dit word ook nie toegelaat indien dit direk of indirek ʼn verbruiker van ʼn reg ingevolge die Wet laat afstand doen of ontneem nie, ʼn verskaffer se verpligting of plig ingevolge die Wet omseil of die effek van enige bepaling van die Wet tersyde stel of ignoreer nie.

Verder bepaal artikel 2 (10) dat geen bepaling van die Wet geïnterpreteer mag word as die uitsluiting van ʼn reg wat ʼn verbruiker ingevolge die gemenereg sou hê nie. Artikel 56 (4) bepaal ook dat die geïmpliseerde waarborg van gehalte bykomend tot enige ander waarborg ingevolge die gemenereg is.

Die ombudsman sê in die praktyknota dat ʼn verskaffer ingevolge artikel (55)(6) goedere in ʼn bepaalde toestand kan verkoop, maar dit sal vereis dat die gehalte en gebreke van die goedere breedvoerig aan die verbruiker beskryf moet word. Indien die verkoper ʼn gebrek voor die verkoop uitwys en die verbruiker die goedere koop, kan die verbruiker nie die verkoper aanspreeklik hou vir daardie gebrek nie.

Dit stem ooreen met een van die filosofieë wat die Wet onderlê, dat ʼn verbruiker gebonde is aan ʼn ooreenkoms wat aangegaan is nadat hy voldoende, ware en akkurate inligting gekry het om hom in staat te stel om ʼn ingeligte keuse te maak.

As ʼn kontrak egter beperkings of uitsluitings bevat, moet hierdie klousules steeds aan sekere bepalings van die Wet voldoen. Ingevolge artikel (4)(4)(b) van die Wet, moet ʼn kontrak, standaardvorm of dokument wat ʼn beperking, uitsluiting of ontneming van ʼn verbruiker se regte bevat, tot voordeel van die verbruiker geïnterpreteer word.

Artikel 48 (1)(c) bepaal verder dat ʼn verskaffer nie van verbruikers mag vereis om afstand te doen van enige van hul regte, aanspreeklikheid van ʼn verskaffer of enige verpligtinge hoef te aanvaar as die voorwaardes onbillik, onredelik of onregverdig is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Franz ·

Nou wonderEk wat van onderdele winkels wat nie Elektriese onderdele wil vervang of geld terug gee nie.Se net nee. Mens koop die spesefieke onderdele met geen waarborg dat dit wel werk nie.Dit is soos n geluks pakkie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.