Verbruikersake: Hoe weet jy ’n webwerf is eg

Argieffoto (Foto: Christopher Gower/Unsplash)

Kubermisdadigers raak al hoe slimmer en die mees onlangse skelmstreek wat hulle gebruik is om webwerwe te skep wat eg lyk, maar inderdaad ʼn bedrogspul is om jou te laat glo dit is die ware Jakob waar jy jou geld bestee. ʼn Valse webwerf kan jou baie geld kos as jy betaal vir ʼn bestelling wat nooit sal opdaag nie. Hierdie vals webwerwe word dikwels gebruik wanneer jy deur PayPal betaal. Ina Opperman verduidelik waarvoor jy op die uitkyk moet wees.

Kuberskelms gebruik gevorderde tegnologie en gereedskap om vals webwerwe te skep wat eg lyk, selfs vir die slimste internetgebruikers. Hulle gebruik toenemend bedrieglike webwerwe om niksvermoedende individue te mislei en om die bos te lei en hul identiteit, sensitiewe inligting en swaarverdiende geld te steel.

Uitvissing (Phishing), smishing, e-pos-swendelary, afspraakskelmstreke, bedrog, inbraak – kubermisdaad het meer algemeen en gesofistikeerd geraak as ooit tevore, sê Simon Campbell-Young, medestigter van Digimune, wat sagteware teen kuberkrakers in Suid-Afrika versprei.

“Vals webwerwe, wat ontwerp is om presies te lyk soos die handelsmerke wat hulle naboots, het heuningpotte geword vir niksvermoedende mense wat daarheen gelok word om hul besonderhede in te tik en die slagoffer van swendelaars te word. Aangesien kubermisdadigers voortgaan om individue uit te buit, is dit van kardinale belang om ingelig en toegerus te bly met die kennis om hierdie misleidende webwerwe te identifiseer.”

Sommige vals webwerwe kan baie realisties lyk

Hy sê as jy weet waarna om te kyk, kan jy die meeste vals webwerwe identifiseer en vermy. “As jy egter op ʼn realistiese e-pos geklik het wat vir jou sê jou bankrekening is gekaap of gevries, sal jy uit vrees reageer, eerder as logika. Jy gaan nie eers die webwerf na nie en klik net op die skakel, voer jou besonderhede in en daar is jy gevang.”

Valse webwerwe is doelbewus ontwerp om so realisties as moontlik te wees, tot by die URL, wat aanvanklik outentiek kan lyk.

“Swendelaars maak daarop staat dat ons nie die subtiele verskille in die URL of die ontwerp van die webwerf opmerk nie. Omdat ons glo dat dit eg is, voer ons onwetend ons aanmeldinligting in en gee die swendelaars toegang tot ons rekeninge. Sodra hulle toegang verkry het, is hul eerste aksie gewoonlik om jou wagwoord op die wettige webwerf te verander en jou effektief permanent uit jou eie rekening te sluit.”

Om sake te vererger, kan selfs wettige webwerwe die slagoffer word van indringerware (malware). Daar is verskillende maniere waarop webwerwe besmet kan raak, soos deur kwesbaarhede in hul kode te vind of deur kuberaanvalle.

Sodra ʼn webwerf besmet is, kan dit virusse of kodes bevat wat outomaties inskop wanneer jy die webwerf besoek. Hierdie kwaadwillige elemente is ontwerp om enige inligting wat jy invoer vas te lê, wat jou sensitiewe data in gevaar stel.

Hoe om jouself te beskerm teen vals webwerwe

Campbell-Young sê daar is egter maniere om jouself teen hierdie risiko’s te beskerm deur ʼn eenvoudige kontrolelys te volg om elke webwerf te verifieer voordat jy enige persoonlike inligting invoer.

  • As jy op ʼn skakel geklik het om ʼn webwerf te besoek, ontleed die bron van die skakel noukeurig en ondersoek die domein-naam en URL. Dit sal jou help om vinnig vas te stel of die URL nie aan die onderneming behoort waarop die webwerf aanspraak maak nie. Let op klein spelfoute, bygevoegde letters of leestekenfoute in die URL.
  • Gaan die SSL- of TLS-sertifikaat in die hoek links bo van die URL-balk na. Klik op die sertifikaat om die geldigheid daarvan te verifieer. Die klein hangslotsimbool beteken teoreties dat ʼn terrein veilig is, maar onthou, dit kan gemanipuleer word. Daarom is dit nie genoeg om slegs op die hangslot te vertrou om die egtheid van ʼn webwerf te bepaal nie.
  • Maak seker dat jy die webwerf deeglik nagaan en kyk na die bladsye “About us” of “Information”. Enige inhoud wat swak geskryf lyk of nie reg klink nie, sal ʼn aanduiding wees dat dit ʼn valse webwerf is. Verifieer ook die kontakinligting wat op die webwerf verskaf word om te verseker dat dit outentiek is.
  • Gebruik intelligente instrumente soos “safe search” en antivirusbeskerming. Hierdie instrumente bied veilige blaai en intydse sekuriteit teen verskillende bedreigings soos wanware, aanlyn-swendelary, vals webwerwe en uitvissingsboodskappe.

“Sekuriteitsinstrumente is spesifiek ontwerp om ongewone patrone te identifiseer wat ongesiens kan verbyglip by gebruikers wat moeg of onder stres is. Hierdie instrumente kan verdagte domeinname opspoor, kyk of die domein met HTTP of HTTPS begin en waarskuwings aan gebruikers gee as ʼn webwerf met indringerware besmet is. Dit gee internetgebruikers bykomende veiligheidsmaatreëls om hul aanlyn sekuriteit te verbeter.”

Campbell-Young sê dit is duur om die prooi van hierdie soort swendelary te word. ʼn Verslag van 2022 onthul dat verbruikers die vorige jaar ongeveer $5,8 miljard aan internetbedrog verloor het. ʼn Suid-Afrikaanse opname het in Desember 2021 bevind verbruikers verloor gemiddeld R14 253 per transaksie weens banktoepassingsbedrog.

“Om beskermingsmaatreëls in te stel en waaksaam te bly teen hierdie risiko’s gaan nie net oor veilige blaaie nie. Dit maak ook finansieel sin.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.