Verbruikersake: Jou regte as die prys verkeerd is

Argieffoto (Foto: beeki, Pixabay)

Verbruikers hoor verskillende stories oor wat jou regte is wanneer die prys op ʼn produk verkeerd is, maar niemand weet regtig wat die regte storie is nie. Natuurlik sal jy verkies om die laer prys te betaal, veral as jy al die mite gehoor het dat iemand eenkeer R1,99 vir ʼn televisiestel betaal het omdat dit so gemerk is, terwyl die korrekte prys op die rak R1 990 was. Ina Opperman verduidelik wat inderwaarheid jou regte is.

Al hoe meer verbruikers kla oor prysfoute, veral nou dat almal aanlyn koop. Volgens die ombudsman vir verbruikersgoedere en -dienste handel die meeste klagtes wat hierdie kantoor ontvang oor pryse wat verskil van die vertoonde prys, pryse wat nie ooreenstem met die een wat geadverteer is nie of wat bloot misleidend is.

Dit is so dat baie verbruikers en winkelpersoneel steeds nie weet wat jou regte as verbruiker is wanneer die prys op die produk verkeerd is nie en dit lei dikwels tot argumente dat die verbruikers sommer die produk gratis moet kry as die prys op die rak laer is as die prys wat opgelui word.

Hierdie argument kan alles opgelos word deur drie artikels in die Wet op Verbruikersbeskerming, wat maak voorsiening vir wat om te doen as die prys verkeerd is.

Wys wat die prys is

Artikel 23 van die wet handel oor prysopenbaarmaking en bepaal dat kleinhandelaars nie gedwing word om ʼn prys te vertoon op goedere wat as ʼn vorm van advertensie vir die verskaffer van goedere op die verskaffers se perseel gebruik word waar die publiek gewoonlik nie toegang het nie.

Maar ʼn kleinhandelaar mag nie goedere aanbied sonder om aan te dui wat die prys is nie. Pryse moet skriftelik rand en sent aandui en kan aan die produk geplak of vasgemaak word. Dit kan geskryf, gedruk of gestempel word of met ʼn band, kaartjie, omslag, etiket, verpakking, rol of rak aangebring word.

Die wet lui dat jy as verbruiker redelikerwys moet kan aflei dat die prys betrekking het op die goedere. ʼn Katalogus, brosjure, omsendbrief of soortgelyke publikasie wat produkte of dienste aanbied, moet aandui tot wanneer die prys geldig sal wees en dit moet gedateer word sodat jy kan sien of die prys nog van toepassing is.

Meer as een prys

ʼn Kleinhandelaar mag nie van jou verwag om ʼn prys te betaal wat hoër is as die aangeduide prys nie, of ʼn hoër prys as die laagste prys as meer as een prys aangedui word nie. Dit beteken as jy by die kassier kom en die prys hoër is as die op die rak, jy kan aandring om die laer prys te betaal, maar binne perke.

Jy kan nie daarop aandring om R1,99 vir ʼn televisiestel te betaal nie, wat duidelik ʼn fout is omdat niemand dit teen so ʼn lae prys sal verkoop nie. Daarom, as die prys duidelik ʼn fout is, is die handelaar nie daaraan gebonde nie, maar slegs as die fout reggestel word en die winkel redelike stappe gedoen het om jou in kennis te stel dat die prys verkeerd was.

Kleinhandelaars is ook nie gebonde aan ʼn prys wat in verhouding tot enige goedere vertoon word as ʼn ongemagtigde persoon die prys verander, bedek, verwyder of vervals het nie. Wanneer ʼn  prysplakker oor ʼn ander een vassit, word die prys op die boonste plakker as die regte een beskou.

Hierdie afdeling is egter nie van toepassing op goedere waar die prys deur openbare regulering bepaal word nie, soos die petrolprys.

Foute in geadverteerde pryse

Wanneer ʼn winkel pryse adverteer wat laer as normaal is, moet die prys die gewone prys wees minus ʼn afslag, wat in rand en sent of in persentasie aangedui moet word, tensy ʼn nuwe, laer prys op die item geplaas word en dan moet die verskil tussen die hoogste en laagste prys gelyk wees aan die prysafslag wat geadverteer is.

Wanneer dit nie van toepassing is nie

Artikel 23 is nie van toepassing wanneer iemand reeds vir jou ʼn kwotasie gegee het of jy aangedui het dat jy nie een wil hê nie. Hierdie artikel is ook nie van toepassing op transaksies wat onder artikel 43 van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies val nie.

Geen misleiding word toegelaat nie

Volgens artikel 29 mag niemand goedere of dienste bemark op ʼn manier wat misleidend of bedrieglik is oor die prys waarteen die goedere verskaf kan word of hoe dit met ʼn ander winkel se prys vergelyk nie. Dit beteken dat ʼn kleinhandelaar nie toegelaat word om iets as “die goedkoopste in die land” te adverteer as dit nie die geval is nie.

Pasop vir aasbemarking

Artikel 30 handel oor lokaasbemarking en bepaal dat verskaffers nie toegelaat word om enige goedere of dienste teen ʼn bepaalde prys te adverteer op ʼn manier wat verbruikers op enige manier kan mislei oor die werklike beskikbaarheid van die goedere of dienste teen daardie geadverteerde prys nie.

As alles wat teen spesiale prys geadverteer word, uitverkoop is

Verbruikers kla ook dat al die goedere wat teen ʼn spesiale prys aangebied is, uitverkoop is. Tensy die advertensie uitdruklik ʼn limiet stel vir hoeveel voorraad teen daardie prys beskikbaar is, mag die handelaar dit nie doen nie. Dit kan egter moeilik wees om te bewys dat die verskaffer voorraad geadverteer het wat hy nie gehad het nie.

Onthou:

  • Pryse moet duidelik op alle goedere of rakke onder die produk aangedui word.
  • Jy betaal altyd die laagste prys (binne perke) wanneer die kassierprys hoër is as die prys op die rak.
  • As daar per ongeluk geen prys op ʼn item is nie, moet die winkel genoeg doen om te verseker dat jy weet wat die prys is voordat jy betaal.
  • Pryse moet so aangedui word dat jy dadelik kan sien hoeveel jy vir iets gaan betaal.
  • Pryse moet BTW en aflewering insluit.
  • As iets slegs vir ʼn sekere periode teen ʼn spesiale lae prys beskikbaar is, moet dit duidelik aangedui word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter ·

Wel die laat my aan kar pryse dink. Hulle moet die ook so begin maak wat in daai ruit staan is wat jy betaal. (Ek verstaan jou Wesbank lening en hulle rentes na as jy op skuld koop), maar al die klein goed wat die handelaar opsit om die prys op te stoot, is wat my kwaad maak. EK betaal die prys wat die kar op die vloer staan voor. (Ek wonder wie stem saam met die?).

Lurock ·

Pieter dit maak my ook warm onder die kraag. Nêrens in daai prys word Admin kostes of aflewerings kostes of kostes om die voertuig van ‘n ander handelaar te laat kom as jy n sekere kleur verkies. Daar is altyd iets wat bykom.

Diepoppie ·

Wel wat van as clicks n bottel parfuum adverteer op hulle website as R620 en jy sit die item in jou trollie(aanlyn koop) en dan verander die prys na R775? Wat doen n mens dan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.