Verbruikersake: Meeste SA’ners kan nie gemaklik aftree

(Foto: Matt Bennett/Unsplash)

Kenners waarsku al lank dat die meeste Suid-Afrikaners dit nie kan bekostig om gemaklik af te tree nie. Suid-Afrika sit eintlik op ʼn aftree-tydbom, met slegs 6% van die land se bevolking wat dit kan bekostig om gemaklik af te tree. ʼn Onlangse opname het bevind dat mense steeds in dieselfde bootjie as verlede jaar is, met geen verbetering in Suid-Afrikaners se vermoë om vir aftrede te beplan nie. Ina Opperman het gaan kyk wat die navorsing en kenners hieroor sê.

Volgens die sesde uitgawe van die 10X Investments Retirement Reality Report 2023, wat onlangs vrygestel is, het die meeste Suid-Afrikaners nog nie formeel vir aftrede beplan nie en diegene wat wel beplan het, het nie veel vertroue dat hulle hulself op die langtermyn sal kan onderhou met inagneming van inflasionêre druk en die ekonomiese klimaat nie.

Die verslag is gebaseer op die bevindings van die 2023 Brand Atlas Survey wat die leefstyl van 15,4 miljoen ekonomies aktiewe Suid-Afrikaners, wat in huishoudings woon met ʼn maandelikse inkomste van meer as R6 000, wat ouer as 16 is en internettoegang het, dopgehou het deur middel van aanlyn meningsopnames.

Dié nuus kom op ʼn tyd wanneer die helfte van die Suid-Afrikaanse volwasse bevolking (49,2%) volgens Statistiek SA onder die armoedegrens leef. Daarbenewens is verbruikersvertroue, soos gemeet aan die FNB/ BER-verbruikersvertroue-indeks, negatief sedert die laaste kwartaal van 2019.

Toe inperkings van die Covid-19-pandemie toeslaan, het dit tot ʼn rekord -33 punte gedaal, in 2021 tot sowat -10 punte herstel, maar weer gedaal en in 2022 en in die eerste helfte van 2023 weer rondom -20 punte geboer.

“In vergelyking met 2022 se opname het die 2023/ 24-verslag ʼn toename gevind in die aantal mense wat besef hoe belangrik dit is om ʼn aftreeplan in plek te hê,” sê Tobie van Heerden, hoof uitvoerende beampte van 10X Investments.

“Die verskil tussen hoe Suid-Afrikaners verwag dat hul aftrede gaan lyk en die werklikheid wanneer hulle aftree kan nie onderskat word nie.

“Suid-Afrikaners moet beter ingelig wees oor die belangrikheid daarvan om te spaar vir langtermyndoelwitte, die krag van saamgestelde rente, die gevolge daarvan om nie te spaar nie, die bykomende nadele wat vroue moet oorkom en die impak van koste.”

(Foto: Towfiqu Barbhuiya/Unsplash)

Beplanning vir aftrede

Ongeveer die helfte van die respondente wat ʼn aftreeplan gehad het, het aangedui dat hul planne ‘waarskynlik’ of ‘beslis’ op koers was, met ʼn mate van variasie tussen ouderdomsgroepe. Dit is betekenisvol dat 29% van mense ouer as 50 aangedui het dat hul planne ‘beslis nie’ of ‘waarskynlik nie’ op koers was nie.

Volgens Van Heerden is dit uiters moeilik om enige tekort aan spaargeld reg te stel nadat ʼn mens die ouderdom van 50 bereik en dit vereis dat jy dan minstens 30% tot 40% van jou maandelikse salaris in aftreespaargeld belê om gemaklik af te tree.

Byna driekwart van die respondente (72%) wie se planne nie op koers was nie, het “ek kan nie genoeg spaar nie” as rede gegee. Van Heerden sê dit sluit aan by redes wat gegee is omdat hulle nie in die eerste plek ʼn aftreeplan gehad het nie: 70% van die respondente sonder ʼn plan het saamgestem met die antwoord: “Ek kan nie bekostig om te spaar nie, ek het niks oor aan die einde van die maand nie”.

Die opname-reaksies onderstreep die harde ekonomiese werklikhede vir die meeste Suid-Afrikaanse verbruikers, sê hy. “Jaar na jaar sien ons ʼn groot deel van die respondente wat gedeeltelik of sterk van mening is dat hulle sal moet aanhou werk ná hul formele aftreedatum om ʼn bestaan te maak.”

Van die respondente wat wel ʼn aftreeplan het, kon slegs 37% ʼn definitiewe antwoord gee op die koste as ʼn jaarlikse persentasie bates van hul aftreebeleggings. Nog 37% het geen idee gehad wat die koste op hul beleggings was nie, terwyl 13% geglo het dat die fooi afhang van prestasie en 13% geglo het dat hulle glad nie heffings betaal nie.

Vroue se finansiële gesondheid

Vroue is oor die jare deurgaans laer as mans gegradeer in die meeste maatstawwe oor finansiële welstand en aftreebeplanning. Die helfte (49%) van al die vroulike respondente het aangedui dat hulle nie ʼn aftreeplan het nie, vergeleke met 43% van mans. Meer as dubbel (11% teenoor 5%) die aantal mans as vroue het gesê dat hulle noukeurig ʼn goed deurdagte aftreeplan volg.

Van Heerden wys daarop dat vroue geneig is om meer as mans te spaar (30% van vroue teenoor 26% van mans), terwyl mans geneig is om meer te belê (24% van mans teenoor 14% van vroue).

Hoewel ʼn omsigtige, versigtige benadering tot belegging bewonderenswaardig is, kan dit volgens die verslag uiteindelik tot vroue se nadeel wees, aangesien slegs hoër risiko beleggings, soos genoteerde aandele, groei wat inflasie klop oor die langtermyn kan lewer.

Van Heerden sê stagnante bruto binnelandse produk (BBP), grootskaalse afleggings en die impak van die pandemie het daartoe gelei dat mense toenemend van werk verander het. Volgens die Retirement Reality Report 2023 het 56% van werkende mense wat van werk verander het, erken dat hulle hul aftreespaargeld laat uitbetaal het.

(Foto: Unsplash)

Minder mense kan op hul eie voorwaardes aftree

Minder mense kan op hul eie voorwaardes aftree. In die 2021-verslag was hierdie syfer 70% en vanjaar het dit tot 60% gedaal, een van die belangrikste statistieke wat uit die opname gekom het.

“Hierdie tendens weerspieël die uitdagende ekonomiese tye waarin ons leef, wat dui op ʼn toename in werkgewers wat hul ouer werkers dwing om vroeë aftreepakkette te neem.”

Slegs net meer as ʼn derde (35%) van die afgetredenes wat vir aftrede gespaar het, het aangedui dat hulle ‘billik’ of ‘baie vol vertroue’ is dat hul spaargeld genoeg is, terwyl slegs 2% van die afgetredenes aangedui het dat hul spaargeld reeds opraak, wat beteken dat hulle op familie- of staatsondersteuning staatmaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Cherokee ·

Die 6% beraming is so oud as wat ek hierdie tipe artikels kan onthou. Snaaks dat dit nooit 5% 0f 7% word nie, maar oor die dekades heen, steek dit vas op 6%. Waarskynlik omdat ou-ou syfers bloot herhaal word in soortgelyke skrywes.

Dit mag reg wees, of is ten minste uiters naby aan die kol, maar dìt verwys slegs na datum van aftrede. Die groter(wordende) probleem is wat inflasie, wat moeilik vooruit voorspel kan word, aan dieselfde 6% doen na etlike jare. Ek het 20 jaar gelede afgetree, en volgens my berekening, is huidig 3 x die bedrag nodig, wat 20 jaar gelede ‘n gemaklike inkomste was.

Nici ·

Probleem is dat ons oorbelas word in SA en ons kry amper niks vir ons belasting geld nie. In ander eerste wereld lande kry jy baie meer mbt pensioen, medies en selfs hulp as mens fisies verswak, maar in SA is dit net ‘n gemelk van almal wat iets verdien. Mens hoes vir skoolgeld, sekuriteit (om op te maak vir die tekort aan polisiediens) en hoer rentekoers.

Anel ·

En dan kyk die a en c met leep oë na jou pensioenfonds en beraam allerhande planne om jou daarvan te ontneem!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.