Verbruikersake: Vodacom beboet vir oortreding op verbruikerswet

Foto: vodacom.com

Baie verbruikers het hul werk tydens die pandemie verloor en wou hulle Sim Only-kontrakte met Vodacom kanselleer, maar moes steeds daarvoor opdok. Die Nasionale Verbruikerstribunaal het egter nou vir Vodacom ʼn administratiewe boete van R1 miljoen opgelê nadat hy bevind het dat die selfoondiensverskaffer se gedrag gewetenloos was toe hy kansellasiebepalings en -voorwaardes opgestel het wat sou geld as verbruikers hul kontrakte wou kanselleer. Ina Opperman vertel meer.

Die bepalings en voorwaardes vir kansellasie het nie voldoen het aan die bepalings in die Wet op Verbruikersbeskerming vir die kansellasie van vaste termynkontrakte nie. Dit was die Nasionale Verbruikerskommissie se bevinding in die saak.

Dié kommissie het tussen 2020 en 2022 talle klagtes ontvang en ondersoek oor Vodacom wat na bewering verskeie artikels van die wet oortree het, sê Thezi Mabuza, waarnemende verbruikerskommissaris.

Verbruikers beweer dat Vodacom hul reg ontken het om hulle vaste termynkontrakte te kanselleer deur ʼn kansellasieboete van 75% te hef. Daarbenewens het Vodacom van hulle vereis om alle uitstaande fooie en die kansellasieboete te betaal voordat hul kontrakte gekanselleer is.

Die klaers het ook beweer dat hulle gedwing is om die kwotasiebrief wat vir 12 dae geldig was te onderteken en die brief met bewys van betaling aan Vodacom terug te stuur.

“Die kommissie het die grootste aantal klagtes tydens die Covid-19-pandemie ontvang toe baie klaers hul werk verloor het of hulle salarisse gesny is, wat dit vir hul onmoontlik gemaak het om met die Sim Only-kontrakte voort te gaan,” sê Mabuza.

Die kommissie se ondersoek het aan die lig gebring dat Vodacom betrokke was by verbode optrede deur artikel 14 van die CPA te oortree, saamgelees met regulasie 5.

Artikel 14 (3) (b) (i) bepaal dat die verskaffer ʼn redelike kansellasieboete kan hef vir enige goedere of dienste wat aan die verbruiker verskaf word, terwyl regulasie 5 (2) bepaal wat diensverskaffers moet oorweeg by die besluit oor ʼn redelike kansellasieboete en regulasie 5 (3) bepaal dat ʼn verskaffer nie ʼn kansellasieboete mag oplê wat dit te duur maak vir die verbruiker om te kanselleer nie.

Mabuza sê Vodacom se kansellasieboete van 75% was ʼn oortreding van dié artikel.

Versuim om betyds te kanselleer

“Vodacom het versuim om verbruikers se kontrakte betyds te kanselleer nadat verbruikers gevra het om te kanselleer soos vereis deur die wet en Vodacom het dus artikel 14(2) (b)(i) (bb) oortree. Die weiering om verbruikers se kontrakte te kanselleer op grond daarvan dat enige kansellasie onderhewig is aan die betaling van ʼn kansellasiefooi voordat ʼn kontrak gekanselleer kan word, was ʼn oortreding van artikel 14 (2) (b).”

Vodacom het ook versuim om verbruikers se kontrakte binne 20 werksdae na kennisgewing van kansellasie te kanselleer en het eerder kwotasiebriewe aan verbruikers gestuur met ʼn kansellasieboete van 75%, wat artikel 14 (3) oortree, sê sy.

Artikel 14 (2) (c) bepaal dat verskaffers, in die geval van ʼn vaste termynooreenkoms, die verbruiker binne 40 tot 80 werksdae voor die verstryking van die kontrak skriftelik of op enige ander manier waarvan rekord gehou kan word, in kennis moet stel dat dit sal verval.

Hierdie kennisgewing moet enige wesenlike veranderinge insluit wat van toepassing sal wees indien die ooreenkoms hernu word of andersins verder gaan verander as die vervaldatum en die opsies wat aan die verbruiker beskikbaar is. Mabuza sê Vodacom se versuim om verbruikers in te lig dat hul kontrakte op die punt staan om te verval en hulle van hul opsies in kennis te stel, het artikel 14 (2) (c) oortree.

“Vodacom het ʼn onredelike kansellasieboete gehef, wat dit onmoontlik maak vir verbruikers om te kanselleer. Daarbenewens het Vodacom betaling van alle uitstaande fooie en die kansellasieboete vereis voordat kontrakte gekanselleer is, wat verbruikers se finansiële probleme op daardie stadium net vererger het. Hierdie gedrag is nie in die gees van die bevordering van die wet nie.”

Die tribunaal het ook bevind dat Vodacom se gedrag gewetenloos was omdat die maatskappy voortgegaan het om verbruikers te laat betaal nadat hulle hul kontrakte behoorlik gekanselleer het of probeer het om dit te doen en deur dit na skuldinvorderaars te verwys, hulle by kredietburo’s te lys as slegte betalers en hulle met regstappe te dreig.

Deur verbruikers herhaaldelik die reg te ontsê om die kontrakte te kanselleer, het Vodacom artikel 40 (1) (b) en (d) van die wet oortree. Vodacom het ook artikel 29 (b) (i) (ii) en (v) saamgelees met artikel 41 (3) oortree deur ʼn databondelpakket te bemark wat nie beskikbaar was nie en nie verskaf is nie.

“Vodacom se optrede was gewetenloos”

Afgesien van die administratiewe boete, het die tribunaal Vodacom se optrede as gewetenloos en verbode verklaar.

“Die kommissie verwelkom hierdie uitspraak aangesien ons van mening is dat dit ander verskaffers of operateurs gaan afskrik om by dieselfde gedrag betrokke te raak. Ons sien dit verder as ʼn oorwinning vir Suid-Afrikaanse verbruikers wat vir die langste tydperk aan kontrakte onderwerp is wat ten gunste van die verskaffer was.”

Op ʼn vraag om kommentaar het Vodacom gesê die kommissie het hom na die tribunaal verwys ingevolge ʼn vorige beleid wat 75% van die uitstaande fooie vir die voortydige beëindiging van SIM-kontrakte hef. Die tribunaal het Vodacom beveel om teen 13 November 2023 ʼn administratiewe boete van R1 miljoen te betaal.

“Vodacom sal voldoen aan die tribunaal se bevinding en beplan om voort te gaan om met die kommissie saam te werk oor enige toekomstige verbruikersverwante kwessies. Vodacom het die boete van 75% vir voortydig beëindigde SIM-kontrakte in Oktober 2022 gewysig en dit vervang met ʼn beleid wat vereis dat kliënte 30 dae kennis moet gee vir sodanige beëindiging.

“Vodacom het selfs voor die uitspraak kliënte vergoed wat benadeel is weens die vorige beleid,” sê ʼn woordvoerder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kaal Keiser ·

Ek het ook ‘n lelike stel met Vodacom af getrap…en ek sit met skuld teen my naam en geen hulp van Vodacom af nie. Hulle ignoreer bloot net jou eposse en navrae.

PoppieK ·

Ek sit met presies dieselfde, is oorhandig aan prokureurs en betaal steeds daaraan. Regskostes bly die hoogte skiet

willie ·

Ok vodacom is beboet met R1m, in wie se sakke word daai geld gestop?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.