Bemagtig jouself by Nuwe Jy-fees

Foto: Verskaf

Of jy nou fiks wil word, gesonder wil eet, mooier wil lyk, jou huis in orde wil kry of meer positief wil dink, moenie die komende King Price & Finesse Voelgoed-tydskrif se Nuwe Jy-fees misloop nie.

“Die somer is om die draai en vir die meeste vroue, en sommige mans, is die idee van wit bene in ʼn swembroek vreesaanjaend. Om nie eens te praat van die ekstra vyf kilogram wat skielik sy verskyning gemaak het ná die bredieseisoen nie,” sê Venessa Schoeman, Finesse se redakteur.

“Gelukkig kan almal nou hul pad na ʼn gesonder, slanker en gelukkiger liggaam ʼn hupstoot gee by die Nuwe Jy-fees.”

Almal wat meer aktief wil leef, kan hul tekkies aantrek en deelneem aan die 5 km-vroegoggendpretdraf. Later die dag is daar ʼn Pound- en Zumba-dansklas en Linda Kriel sal ook demonstreer hoe en watter oefening vet vinnig verbrand en wat beter werk vir opferming.

Vir dié wat nie lus is vir sweet nie, sal die Nuwe Jy-kennerslokaal meer aanloklik wees. Hier kan geluister word na topsprekers. Mandi Baard vra vir vroue of hulle leef of net oorleef. En Catherine van Heerden spreek immergewilde kwessies van vroue, emosies en kos aan. Sunet Vermaak, voorkomskonsultant op Glam Guru, verklap watter tien items elke stylvolle vrou in haar kas het, en dan gesels dr. Elmie Nel, ʼn estetiese dokter, oor die allernuutste tegnologie en behandelings vir ’n jonger, varser voorkoms.

Izelle Hoffmann en Nathanya van Zyl Chapman is die dag se seremoniemeesters en die kunstenaars Adam en Chané Valentine gaan musiek maak.

Daar is ook gratis gesondheidstoetse vir bloeddruk, bloedsuiker en cholesterol, stalletjies met klere, juwele, gesondheids- en skoonheidsprodukte en die Nuwe Jy 2019-wenner word ook gekroon.

Die Nuwe Jy-fees vind Saterdag 19 Oktober van 07:30 tot 16:00 plaas by die Serengeti Gholflandgoed in Kempton Park.

Kaartjies kos R160 per persoon. Klik op voelgoed.co.za/nuwe-jy-fees/

#DOENgoed & Helpende Hand

Feesgangers kan enige klere, skoene wat te klein of te groot is, of enigiets wat hulle nie meer dra nie na die Nuwe Jy-fees toe bring. Die items gaan aan Helpende Hand se Ons Winkel-welsynswinkels geskenk word!

Helpende Hand het onlangs sy 50ste Ons Winkel oopgemaak. Enigiets kan by die Ons Winkels afgegee word – van ou klere, meubels, oudhede, kombuisware, beddegoed, gordyne, speelgoed, skoene, sporttoerusting en tegnologiese ware tot enigiets anders wat by huise of kantore in die pad staan.

Die winkels neem hierdie goedere en omskep dit in geld wat onder meer vir Helpende Hand se studiefonds benut word. Helpende Hand se studiefonds bied rentevrye studielenings aan behoeftige studente wat kwalifiseer om verder te studeer, maar nie oor die nodige geld beskik om dit te kan doen nie. Die opbrengs word ook aangewend vir verskeie ander projekte van Helpende Hand wat poog om armoede te verlig, te verbreek en te voorkom.

Altesaam 10% van die kaartjieverkope van die Nuwe Jy-fees word ook aan Helpende Hand se FroueVonds* geskenk. Die FroueVonds poog om meisies en vroue deur verskeie projekte te bemagtig om hul eie lewe te verander, én pilare in hul gemeenskappe te word.

*FroueVonds word opsetlik verkeerd gespel om aan te sluit by sy slagspreuk – “want alles loop nie altyd reg nie”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.