Aardklop nou ‘gewildste kunstefees’ ná doodsklok eens lui

(v.l.n.r) Japie Gouws, Bosman Purén, Alexa Strachan, Cindy Purén en Delmari van Zyl (Foto: Facebook)

Die Potchefstroomse Aardklop Nasionale Kunstefees is pas as die kykNET Fiëstas se gewildste kunstefees in die land aangewys – dít net twee jaar nadat die doodsklok oënskynlik finaal vir dié kunstefees gelui het.

Gesprekke in 2016 dat dié fees met onmiddellike effek gestaak moes word, het skokgolwe deur die kunstefeesgemeenskap gestuur.

Dit was egter ʼn groep “Aardklop-belanghebbendes” wat verseker het dat dié fees voortleef en die fees is nou reeds vir twee jaar – in onderskeidelik 2016 en 2017 – weer ʼn dawerende sukses.

Hoewel daar aanvanklik besluit is dat die fees nuttig is en wél moes voortgaan, was daar geen begroting nie, daar het ʼn negatiewe persepsie oor die fees bestaan en daar was boonop slegs drie maande om Aardklop suksesvol aan te bied.

Alexa Strachan, Aardklop-feesbestuurder, meen die fees het egter oorleef as gevolg van ʼn sentiment by rolspelers, vervaardigers, kunstenaars en mense wat die fees destyds toe al vir 18 jaar ondersteun het.

Nou is dié fees weer terug waar hy hoort: op die voetstuk as die gewildste in die land. “Dit is nie sleg vir ’n fees wie se deure twee jaar terug toegemaak is nie. In só ʼn kort tydperk is die fees van niks af opgebou tot die gewildste fees in die land,” vertel Strachan.

“Ons wil graag elke Potchefstromer bedank vir hul gasvryheid en die merkwaardige rol wat hulle in die sukses van die fees speel. Aardklop hoort op die Bult, in die hartjie van Potchefstroom, maar ons kan nie alleen die rooitapyt vir duisende feesgangers uitrol nie, dit doen die Potchefstromers saam met ons.”

Bosman Purén, Alexa Strachan en Delmari van Zyl (Foto: Facebook)

Dié kunstefees het verlede jaar ʼn inkomste van meer as R50 miljoen vir die plaaslike ekonomie van Potchefstroom ingebring.

“Die impak van die sukkelende ekonomie kan nie ontken word nie, maar hier by Aardklop is ons positief en bou ons voort op die R50,3 miljoen se impak wat ons verlede jaar gemaak het op die plaaslike ekonomie,” sê Strachan. “Beplanning rondom vanjaar se kunstefees het reeds afgeskop. Die kantore is oop en ons is volstoom besig om te beplan aan Aardklop se 21ste verjaarsdag.”

Verskeie produksies wat verlede jaar hul buiging by dié fees gemaak het, is ook vereer. Onder dié produksies tel Melk & Vleis (Paul du Toit – beste akteur) en Marina Albertyn (beste nuutgeskepte Afrikaanse teks). Retief Scholtz is ook vereer vir die beste teks vir die produksies Dop en Weerkaats.

DEURnis is ook met die gesogte Blou Fiësta-toekenning vereer. Dié een-tot-een-teaterproduksie het vanjaar groot opspraak gewek weens die intieme en eksperimentele aard daarvan.

Aanhangers kan vanjaar uitsien na nóg ʼn produksie uit Albertyn se pen wat onder leiding van Marthinus Basson by Aardklop gaan debuteer. Aardklop sal vanjaar van 2 – 7 Oktober op Potchefstroom plaasvind. Die fees begin op 1 Oktober met die immergewilde Kunssafari.

Lees Maroela Media se resensies oor Die reuk van appels en Melk & Vleis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Lithop ·

Was twee keer soontoe. Aaklige sale met swak akoestiek. Ongemaklike stoele. Duur kaartjiepryse. Nog duurder akkommodasie. Vele amateuragtige vertonings. As dit die grootste kunstefees in SA is is die SA kunstegemeenskap regtig in die moeilikheid.

ek vra jou ·

Laat staan tog maar die nare kritiek as jy nie van iets hou nie wat – wie gee om? Om te kla oor swak akoestiek – wel dis gewoonlik skoolsale, kerksale ens waar optredes is, wat verwag jy? Dis by ALLE kunstefeeste dieselfde. Hulle kan tog nie ‘n spul sale spesiaal vir die kunstefees bou sodat akoestiek ens perfek is nie – wat dan van die res van die jaar? Dan is dit soos met die sokkerstadiums – staan leeg! Dink tog voor jy negatief is. VIVA Aardklop!

lizl ·

Was nog nooit daar… maar wat ek wel raaksien is dat dit toe nie so maklik is om Afrikaans dood te maak nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.