Bemagtig ’n kind: So word daar gehelp

 vrou-alleen-bankie-pixabay.jpg

(Foto: Pixabay.com)

Deur Chandré Oosthuizen

Ons leef in ’n tyd waarin die sosiale en ekonomiese uitdagings al hoe groter word en soms voel dit asof die klein bietjie wat jy wel kan bydrae net in ’n groot put gaan verdwyn en geen verligting gaan bring nie. Dit is dus ’n riem onder die hart om te hoor van gevalle waar elke bydrae wat gemaak word, ’n reuseverskil maak.

So ’n geval is dié van Carien*. Sy is ’n tienermeisie met groot drome, maar ongelukkig werk dinge nie altyd soos jy hoop of droom nie.

Anel Steyn*, ʼn familievriend van Carien vertel:  “Ons het Carien deur my seun ontmoet. Die twee was saam op skool. Aan die einde van Carien se gr. 10-jaar, het haar ma haar werk verloor. En met die hoop dat daar vir haar werk sal wees, het hulle sak en pak na haar oupa-hulle toe verhuis in die Kaap.”

Ongelukkig het die hoop op werk nie gerealiseer nie en kon Carien nie terugkeer skool toe.

 tiener-rekenaar-studeer-pixabay.jpg

(Foto: Pixabay.com)

“Later daardie jaar het Carien vir haar ouma in Kimberley kom kuier en my oorlede man het haar die geleentheid gegee om sy ontvangsdame te wees. ʼn Taak wat sy met baie trots en deeglikheid gedoen het. Die inkomste wat sy hier verdien het, het sy gespaar as deposito om gr. 11 aanlyn te voltooi. Ongelukkig is my man in dieselfde jaar oorlede aan Covid-19. Carien het egter deurgedruk en gr. 11 geslaag te midde van ’n uiters moeilike en emosionele jaar,” vertel Strydom.

Hoewel dit glad nie maklik was nie en baie jong mense moed sou opgee, het Carien besluit haar volgende stap is matriek. Dit is waar Helpende Hand se Bemagtig ’n kind-projek ingetree het.

Met ’n hart wat oorloop van dankbaarheid vertel Carien: “Ek kan nie genoeg dankie sê nie aan Helpende Hand wat my die geleentheid gegee het om gr. 11 en 12 aanlyn te kon voltooi. Ek het gewerk in 2020 om te spaar sodat ek die deposito vir my gr. 11 kon betaal. Helpende Hand het my gehelp met die res van die uitstaande bedrag vir gr. 11, maar as gevolg van omstandighede het ek nie genoeg geld kon bymekaar maak vir my gr. 12 nie.”

Net toe sy dink daar is nie meer hoop nie en dat sy nooit haar matriek sou kon voltooi nie, het Helpende Hand weer eens ingetree en haar gewys daar is altyd hoop.

(Argieffoto: Emmanuel Offei/Unsplash)

“Ek is so ongelooflik dankbaar vir die groot geleentheid wat ek gekry het. Ek sal nooit genoeg kan dankie sê vir die hulp en ondersteuning nie”, sê Carien en sy voeg by. “Get your hopes up. Raise your expectations. Your best days are still in front of you.”

Strydom voeg by: “Te midde van finansiële tekortkominge en emosionele terugslae het sy tog deurgedruk. En ek is so dankbaar dat Helpende Hand kinders soos Carien bystaan om hul drome te help verwesenlik.”

Carien het die wil en deursettingsvermoë gehad en Bemagtig ’n kind was die baken van hoop en die bruggie wat sy nodig gehad het om uitdagings te oorkom.

Bemagtig ’n kind glo dat elke kind wat die wil het om sy of haar omstandighede te verander, ʼn kans verdien. Carien en kinders in dieselfde omstandighede word gehelp slegs deur vrywilligers wat bydra tot dié fonds. Om doelgerig te skenk deur ʼn verantwoordelike organisasie wat die gemeenskap en nood ken, is ʼn wenresep wat waarde toevoeg.

Hierdie verhaal kon ʼn ander einde gehad het as die gemeenskap nie saamgestaan en geld aan die Bemagtig ʼn kind-projek voorsien het nie. Sonder die gemeenskap sou Helpende Hand nie kon intree en help nie. Dit is ʼn goeie voorbeeld van ʼn gemeenskap wat saamstaan om mekaar te help.

Dankie weer eens aan elke persoon wat aanhou gee vir die Bemagtig ʼn kind-fonds.

As jy vandag hierdie artikel lees en jy wil en kan ook help, besoek gerus ons webwerf of sluit aan as ʼn ondersteuner. Jy kan vandag ʼn verskil maak – ʼn verskil wat ʼn leeftyd gaan voortduur.

*Anel Steyn en Carien is skuilname wat gebruik word om die identiteit van die dogter te beskerm.

  • Chandré Oosthuizen is ‘n maatskaplike werker by Solidariteit Helpende Hand se sentrums en nasionale takke.
                                                   bemagtig-n-kind.jpg  

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nommer 7 ·

Chandre, hoekom kon Carien nie terugkeer skool toe nie? Volgens die finansiele konsessie deur die Minister toegestaan, soos gestipuleer in Staatskoerant 29311, sou Carien se ma 100% skoolfonds kwytskelding gekry het, selfs by ‘n top model C skool.

Groen Ghoen ·

Gegewe dat dit ‘n ware gebeure is, kan ‘n mens spekuleer dat daar waarskynlik net nie die fondse was om vir Carien te versorg nie. ‘n GROOT dankie aan almal wat vir hierdie kind deure oopgemaak het. Sy het ambisie. Mag haar drome waar word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.