Boelies is oral, maar boelies kán ook verander

(Foto: Andre Badenhorst/Verskaf)

Boelies is oral – in die skool, by die werkplek, aanlyn en selfs tuis. Hulle kan onberekenbare skade veroorsaak. Dikwels is mense boelies sodat hulle beter oor hulself kan voel. Kwaad moet egter nie met kwaad vergeld word nie. En boelies kán ʼn ommeswaai maak.

Dit is die boodskap in die rolprent Boelie issie cool nie waarvan die voorvertoning 18 April by die gewilde ATKV Buffelspoort-vakansieoord tussen Pretoria en Rustenburg in die Noordwes gehou is. Die fliek is in ʼn saal vertoon wat tot barstens toe vol was.

Reyno Wepener, besturende direkteur en bemarker van die ATKV Buffelspoort, is saam met sy vrou Heidi, betrokke by kinderbediening. Uit die aard van haar werk as spelterapeut en maatskaplike werker is die egpaar deeglik bewus van die negatiewe gevolge wat boelies se gedrag op kinders kan hê. Reyno werk ook baie saam met skole wat die oord besoek en in sy gesprekke met onderwysers en skoolhoofde duik boeliegedrag gereeld op. Om nie eers van die media te praat nie wat dikwels oor boeliegedrag verslag doen. Dit het die gedagte by Reyno laat ontstaan om ʼn rolprent te maak waarin boeliegedrag aandag kry, maar wat ook hoop moet gee – selfs vir diegene wat hul skuldig maak aan boeliegedrag.

Lente die pop saam met Letitia en Cor Uys. (Foto: Andre Badenhorst/Verskaf)

Reyno het met die kunstenaars Cor en Letitia Uys, beter bekend as Oom Karoolus en Lente, gesels en saam het hulle besluit om die kortprent op laerskoolkinders te mik. Iné Reynierse het met die draaiboek gehelp wat propvol aksie en humor is.

Iné, wat benewens draaiboekskrywer ook as regisseur opgetree het, sê sy is besonder dankbaar dat hierdie geleentheid oor haar pad gekom het. Hoewel sy baie ondervinding in die skryf en maak van kinderprogramme en kinderproduksies het, fokus haar loopbaan deesdae op menslike genetika. Sy is ook die skrywer van die gewilde Low carb is lekker-kookboeke.

Iné sê in die navorsing wat sy gedoen het, was dit vir haar duidelik dat daar twee kante aan die storie is. “Daar is ’n rede hoekom iemand ’n boelie word, en dan is daar ’n rede hoekom sekere mense makliker geboelie word as ander. Dit is noodsaaklik om na die oorsaak van alles te gaan kyk en vir die slagoffers van boeliegedrag die nodige hulpmiddels te gee en te bemagtig. Dis ook belangrik dat die slagoffer ondersteuning kry.”

Daarom het hulle al hierdie elemente in die fliek probeer inwerk.

Dit is verlede jaar by die einste Buffelspoort geskiet. Die hele gemeenskap, kerke, skole, predikante asook ATKV-takke in die omgewing, is betrek. Beroepsakteurs sou te duur wees, maar hulle het wel van beroepskameramanne gebruik gemaak.

Pastoor Kobus Jacobs en regs Marco Van Den Berg, streekbestuurder van Noordwes, Noord-Kaap en Namibië van die ATKV. Marco het die rol van die boelie vertolk. (Foto: Andre Badenhorst/Verskaf)

Marco van den Berg, ʼn streeksdirekteur by die ATKV in Noordwes, Noord-Kaap en Namibië wat onder meer rolprentwese studeer het, het die gesogte of eerder gewraakte rol van Bakkies die boelie gekry. Daarvoor moes hy net ʼn kort “oudisievideo” stuur. Sy normaalweg heel skaflike en aantreklike gesig het skielik honderd Mr Bean-uitdrukkings gekry. Kakebeen vooruit gedruk, tande geklem, en met ʼn mus wat verdag amper oor sy rollende oë hang, het hy sommer blatant gemeen gelyk. Nommerpas vir die rol, is besluit. Niemand anders is eers oorweeg nie. Hulle hoef nie verder te soek nie. Marco is ʼn droomboef.

Bakkies maak die liewe klein bokstert Lienkie se lewe hel. Haar hart is so sag soos malvalekkers. Gelukkig is Oompie, Tannie Tiesie, Oom Karoolus en Lente daar om tot haar redding te kom. Mettertyd leer die klomp maats Bakkies oor onbaatsugtige vriendskap.

Hy is nie aan die begin al te gretig om skielik in die engel Gabriël te verander nie want hy steel op slinkse wyse ʼn hap van Lienkie se roomys as sy wegkyk. Maar uiteindelik sien hy tog die lig. Dankie tog vir ʼn gelukkige einde!

Volgens die ATKV moet mense besef dat hierdie fliek só geskiet is dat dit nie net vir laerskoolkinders bedoel is nie. Volwassenes moet daarna kyk en besef hulle gedrag, wanneer hulle hul eie kinders boelie, het ’n ongelooflike rimpeleffek in die skool en in die gemeenskap. Daar word ook ʼn kragtige boodskap oor geloof en die Here se liefde uitgestuur.

Die fliek moet bowenal ʼn bewusmakingsveldtog oor boeliegedrag wees.

Iné Reynierse, Coe en Letitia Uys en Santie Uys. (Foto: Andre Badenhorst/Verskaf)

Volgens Reyno het die gedagte vir die fliek ontstaan toe hy saam met Cor en Letitia koffie gedrink het. “Dis die gevaarlikste ding want na daardie tweede koppie kaffeïen raak ons vreeslik kreatief.”

Hulle het juis die fliek Lente gaan met vakansie voorheen geskiet toe hulle ʼn fliek gemaak het om Buffelspoort te bemark.

“Hulle het ook die vorige aand na ʼn dokumentêre fliek oor boeliegedrag gekyk. Dit was dus soos wat die liewe Vader dit wou gehad het,” sê hy.

“Toe kom Cor met die sêding Boelie issie cool nie. Daar het ons toe ook ons titel. Dit was nodig om kundiges te kry. Cor het by die destydse SAUK gewerk met Rian Cruywagen en Haas Das. Hy was ook by internasionale rolprente betrokke. Letitia het met die storielyn vorendag gekom.”

Reyno sê die fout wat hy gemaak het was om voor te stel dat hulle ʼn seuntjie met sproete vir die boelierol kry, maar toe lig hulle hom in dat jy nooit ʼn kind as ʼn boelie moet tipeer nie.

Gevra wie hy in gedagte het, verwys hy toe skertsend na einste Marco.

“Ek het vir hulle gesê ek ken een ou wat glad nie lekker is nie. Sy kop raas en sy ratte gly.”

(Foto: Andre Badenhorst/Verskaf)

Met die “oudisievideo” het hulle gesien hoeveel emosies daar in sy oë was – ʼn regte Mr Bean.

“Ek was so bly dat hy nie ʼn vrou met grimering is nie want hy sou dit teen die derde sin opfoeter.”

Van Bakkies sê hy Bakkies het mettertyd agter gekom dat Lienkie hom aanvaar soos wat hy is en hoe die hele groep hom intrek. Hy het sy mag en beheer as boelie verloor.

“Wat ons op laerskoolvlak wil doen terwyl die kind nog klein is, is dat hy die waarheid leer en die juffrou laat weet as hy geboelie word. Kinders kan iemand egter ook valslik van boeliegedrag beskuldig soos wanneer iemand per ongeluk aan jou stamp. Dit terwyl ʼn boelie willens en wetens iemand anders wil seer maak.”

Reyno se boodskap is: “Kyk wat om jou gebeur, praat daaroor. Moenie stilbly en alleen seerkry nie en toesien dat een van jou maats die slagoffer van ʼn boelie is nie.”

Marco sê hoewel die regisseur streng was het sy hulle heelwat vryheid met die interpretasie van die tonele gegee.

“Ek het byvoorbeeld gesê; ‘ ʼn Stemmetjie soos ʼn lemmetjie’ en toe gebruik hulle dit, maar die integriteit van die teks is behou.

“Dit was nie vir my moeilik om in karakter te bly nie. Jy moet egter oortuigend wees al is dit op kinders gemik. Jy moet ook heeltyd die karakter aan die lewe hou, want as die ander ou praat, kan jy nie net vries in die agtergrond nie.”

Is hý ooit self geboelie.

(Foto verskaf)

Hy lag. “Ek was brandmaer en tengerig op skool, het drie ouer broers gehad en was gewoond daaraan om ʼn pak slae te kry.”

Van sy debuutrol sê hy dat hy eintlik meer in die deel agter die kameras belangstel.

“Dit was maar ʼn duur storie, veral die redigering, maar Cor-hulle het ons baie tegemoet gekom. Ons het ook borgskappe by verskeie ATKV-takke gekry.”

Die verfilming het heelwat verrassings ingehou. Een van die potsierlikste toneeltjies is waar Bakkies ʼn onskuldige klein seuntjie wat toevallig daar verby gekom het, se fiets gryp. As hy trap gaan die langeraat se knieë bakbeen verby sy ore. Die saal was glo los en bitter ongemaklik. Ja-nee, boontjie kry sy loontjie.

Die arme seuntjie lyk skoon verslae oor die boelie wat sy fiets gegaps het. Geen toneelspel nie!

“As jy die rol van die boelie vertolk, is daar eintlik geen grense nie,” sê Marco.

Hulle het lekker gelag tydens die verfilming. In een van die laaste tonele eet hy en Lienkie roomys. Toe druk Bakkies die roomys in haar neus op. Hy het sy woorde vergeet. Toe sy die roomys teen sy mond druk, het sy net so lekker gelag. Dit was ook nie vooraf beplan nie.

Hy meen daar is besliste oorsake vir boeliegedrag. Dis baie verwikkeld.

“Jy kry die fisieke boelie teenoor die emosionele en verbale boelie. Ek hoop net die kykers kom teen die einde agter dat die boelie verander het.”

En staan die bewonderaars nou tou vir sy handtekening en ʼn foto saam met hom as wel, aanvanklik ʼn soort antiheld celeb?

Hy glimlag breed. Hoogs geamuseerd.

“Baie laerskoolkinders wat in die koor by Laerskool Elandskraal was en vlugtig in die fliek gesien word, het my herken. ’n Seuntjie het my nou die dag vir ʼn foto gevra, maar sy sussie is nog bang vir my.

“Sy het my herken as die boelie in die fliek. Toe sê ek vir haar ek is nie meer ʼn boelie nie.”

Die skakel vir die kortprent is op die ATKV se Facebook-blad gelaai, waar skole, kerke en terapeute dit gratis kan aflaai. Dit sal ook op die Jou Afrikaans-app beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gert ·

Boelies hou net op boelie wanneer hulle hul eie tande optel met gebreekte vingers, of wanneer hulle oë toe geswel is soos ‘n pas uitgebroeide duifie se oë!

tequilasheila ·

Boelies het lewenslange letsels op my gelaat… Maar nou staan ek op vir boelies ook in die werksplek (en ja, ek is nie gewild nie) dis fine! My grootste boelie is vandag ‘n Prof, wonder of sy kan onthou!! Wens daar was sulke “campaigns” toe ek groot geword het! Puik werk almal!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.