Eerste truffeloes op Driehoek in Sederberge uitgesnuffel

Die eerste truffeloes op Driehoek in die Sederberge-distrik. (Foto: Facebook/Cederberg ClickClick)

Die eerste truffeloes op Driehoek in die Sederberge-distrik, Wes-Kaap, is onlangs met groot vreugde uitgesnuffel en geoes.

Hierdie peperduur “swart diamante” van die kookkuns, soos daar graag na hulle verwys word, word tradisioneel in die woude van Frankryk en Italië deur spesiaal opgeleide honde en varke uitgeruik.

Hulle is hier in die Sederberge egter onder die waaksame oog van boer, Volker Miros, verbou en deur sy hond Baccio uitgesnuffel. Dié kosbare mylpaal is deur die Facebookblad, Cederberg ClickClick, gedeel.

Maroela Media het vroeër berig dat dié 83-jarige boer vandag ʼn baanbreker in die ontluikende truffelbedryf in Suid-Afrika is. Sy onderneming, Woodford Truffels SA, het ook sy eie medium gepatenteer waarmee die swamme gekweek word.

Volgens Miros stem die klimaat in dele van die Sederberge ooreen met dié van Europa waar truffels al vir langer as 2 000 jaar gesoek en geëet word. Hy was vasbeslote om hierdie sensitiewe maar peperduur swam te verbou op hulle familieplaas in die Sederbergreeks, waar die klimaat soortgelyk aan Mediterreense Europa is.

Volker Miros inspekteer die wortels van die eikeboompies om te kyk of die truffel begin groei het. (Foto: Rodger Bosch/AFP)

In 2009 het hy spore van die Franse Perigord-variëteit ingevoer. Daarmee het hy die wortels van eikeboompies ingeënt, waarna dit op die plaas en in die omgewing aangeplant is.

Ná tien jaar van eksperimenteer en foute maak, asook tonne kalkstrooiery om die suurheid van die grond teë te werk, is die eerste truffels uiteindelik uitgegrawe.

Die vrugbaarste bome lewer elke seisoen nagenoeg 10 kg truffels per hektaar, wat strek oor die koudste maande vanaf Junie tot Augustus.

Die Woodford-truffel word beskou as ʼn hoëgehalteproduk en word tans verkoop teen R20 000 per kilogram, amper gelykstaande aan Europese markkoerse. Die meeste kopers is plaaslike, luukse restaurante wat eers onlangs begin het om die eksotiese lekkerny in hulle geregte te gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Bolandse Nooi ·

WAAAAAAATTTTTTT?????????????????????????????????? R20 000/kg vir …. wel, ‘n swam??????????? Eh, nee dankie, ek sal maar hou by Checkers se wit knopie-sampioene @ R29.99/250g.

Truman Burbank ·

Klaarblyk is die smaak die geld werd. Ek sal maar wag vir die proe samples

trotsNAMSA ·

Nou is die geheim uit, truffels is die volgende wat deur sindikate oorgeneem gaan word. Die ligging en honde kind se naam moes ieder ‘n geheim gebly het. SA’ners eet nou die volgende paar generasies net “sampioene” om “in te wees”. :) Woolworths gaan eerste wees wat die grillerige goed op rakke gaan hê :)

Christine ·

Fantasties! Truffels is ‘n heerlike lekkerny ( maar dis ‘n smaak wat aangeleer moet word, nes olywe) . Toe ek ‘n kind was, het ons net wit aspersies gekry uit ‘n blikkie. Vandag kry jy oral groen aspersies wat soveel smaakliker is. Net so moet Suid- Afrikaners gewoond raak aan “nuwe ” smake. Anders as sampioene, rasper jy net ‘n paar hale oor jou dis om hierdie heerlike smaak te geniet. Jy eet nie ‘n hele knol nie. Ek eet nie truffels om “in” te wees nie. Net soos ek nie kaviaar eet nie, want ek kan nie die smaak verdra nie.

george ·

Kaviaar, jig, dis waar wat jy se. Ek kan eenvoudig nie daai eiertjies inkry nie. Truffel is meer oor die geur. Ek het dit al baie geeet en ek moet se dis heel heerlik. Maar bitter duur. Dis ook nie n sampioen nie, maar n Fungi. En truffel boere moet lank wag vir n oes. Ek is rerig bly vir hulle. Ek wonder maar net, gaan die lekkerny darem vir ons ook bekostigbaar wees of is dit vir uitvoere?

Reynier ·

Ontspan mense, werk omtrent R200 per truffel uit. Nog steeds duur maar nie uit mense se reik nie, Wonder net wie het die ding uit grond gegrou wat soos versteende bollie lyk en gesê Mmmm, laat ek proe nie? Gaan dit maar ‘n mis gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.