Foto’s: Eerste van vele inisiatiewe vir klein Lielie Muis

Gerrit en Lezaan de Jager. (Foto: Verskaf)

“Vir die volgende vyf tot tien jaar gaan almal weet wie Leah is. Hulle gaan haar só onthou.”

Só sê Gerrit de Jager, die pa van Leah de Jager, wat vroeër vanjaar op die ouderdom van ses maande gesterf het weens ’n seldsame mediese toestand.

Leah, of eerder “Lielie Muis” soos haar pa haar altyd genoem het, se nalatenskap is die afgelope naweek deur haar ouers by die dierebeskermingsvereninging (DBV) se skuiling in Uitenhage in iets tasbaar omskep, wat die ouerpaar sê die eerste van nog vele inisiatiewe is om haar kort lewe te onthou.

Leah is in Januarie vanjaar dood nadat sy weens ʼn seldsame mediese toestand sonder ʼn immuunstelsel gebore is.

Gerrit het aan Maroela Media gesê ’n projek om hondehokke by die skuiling in Lielie Muis se naam op te knap, is die afgelope naweek voltooi en ingewy.

Gerrit het voorheen verduidelik daar is verlede jaar tydens Leah se tyd in die hospitaal geld ingesamel om hul dogtertjie se mediese koste te dek. Ná haar dood het heelwat van dié geld egter oorgebly waarna hy en sy vrou, Lezaan, besluit het om twee groot dierehokke met dié geld op te knap.

Dié besluit volg nadat die egpaar ná hul baba se dood die DBV besoek het om ʼn hond aan te neem en op dié hokke met honde afgekom het. “Ek en my vrou het vir mekaar gekyk en toe geweet wat ons met die geld moes doen,” het hy vroeër verduidelik.

Die hokke is die afgelope Saterdag aan die publiek bekendgestel met Luister FM, waar Gerrit as omroeper werk, wat vir die dag van daar af uitgesaai het. Baie mense het ook ’n draai gaan maak om die hokke te sien en hondekos vir die diere af te gee ter ere van Lielie Muis, het Gerrit vertel.

Die projek is ook aan klein Liam Dell opgedra wat slegs twee dae ná Leah aan dieselfde siekte as sy gesterf het.

Maroela Media het vroeër berig Liam is verlede jaar met ernstige gekombineerde immuungebrek (SCID) gediagnoseer, ook bekend as die sogenaamde “Bubble Boy”-siekte. Dié siekte beteken dat hy in wese geen immuunstelsel gehad het nie en sy liggaam dus geen vermoë gehad het om teen infeksies, bakterieë en kieme te baklei nie.

“Dit was ’n baie emosionele dag,” vertel Gerrit oor die bekendstelling van die opgeknapte dierehokke. “Ek en my vrou het maar baie eenkant toe geloop en mekaar vasgehou, maar dan gaan jy maar weer aan en glimlag. Die dag was ’n fenominale sukses.”

Hoewel die projek nie as ’n troos na hulle baba se afsterwe beskryf kan word nie, is die egpaar bly dat hulle bewusmaking kon skep terwyl hulle ook diere in ʼn mate kon help.

“Ek glo nie dat dit die laaste ding is wat ons vir Leah in haar naam gaan doen nie. Ek gaan nog baie dinge [vir haar] doen tot ek my kop neerlê op hierdie aarde. Ek en my vrou het mekaar belowe dat ons vir haar sal leef en dit is presies wat ons nou elke dag doen,” sê Gerrit.

Die sanger Deon Groot het ook ʼn liedjie vir Lielie Muis geskryf voor haar dood. Gerrit en Deon is boesemvriende.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Zettie ·

Ag wat ‘n pragtige gebaar. Die trane loop terwyl ek die berig lees. Julle is voorwaar wonderlike mense en sou wonderlike ouers ook gewees het. Mag julle baie geseënd wees in julle toekoms vorentoe.

Martie ·

Ek dink Lielie Muis en Liam sit met groot smiles en kyk wat julle doen. Hulle is trots op julle

Wanda ·

Wat ‘n kosbare gebaar en nalatenskap .Julle sal geseén word.Baie sterkte vir julle en koester julle engeltjie se kosbare herinneringe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.