Foto’s: Heldeakker-begraafplaas word blinkgepoets

Skoonmakers van die Heldeakker-begraafplaas in Pretoria sluit in lede van die FAK se Moot- en Noord van die Berg-Kultuurnetwerke, die Midstream-, Rooihuiskraal- en Genl. Hertzog- Voortrekkerkommando asook lede van die publiek. (Foto: Verskaf)

Lede van die FAK-Kultuurnetwerke, Voortrekkerkommando’s en die publiek het die naweek byeengekom om historiese grafte in die Heldeakker-begraafplaas in Pretoria se middestad skoon te maak.

Grafte soos dié van dr. HF Verwoerd, pres. Paul Kruger, sy vrou, Gezina, en hulle kinders, asook Andries Pretorius, Eugène Marais, Willem Cornelis Janse van Rensburg en Jopie Fourie is netjies gemaak.

Barry Müller, projekorganiseerder van die FAK-Kultuurnetwerke in Gauteng, het die toestand van die begraafplaas as “haglik” beskryf en meen die swaar reënval in Pretoria die afgelope tyd het daartoe bygedra.

“Daarom is daar besluit om in te gryp. Die Tshwane-metro is ook tans besig om die lang gras in die begraafplaas te sny,” het Müller gesê.

“Wat die skoonmaakdag egter spesiaal gemaak het, is dat twee nasate van Andries Pretorius en drie nasate van Willem Cornelis Janse van Rensburg hulle voorouers se grafte help skoonmaak het.”

Dié span het ook adv. EG Jansen, voormalige goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika, Désiré de Villiers, wat as 18-jarige in die Tweede Vryheidsoorlog gesneuwel het, en Boeregeneraals Stephanus Schoeman en Nicolaas Smit, wat ook daar te ruste lê, se grafte skoongemaak.

Daar is gewoel en gewerfskaf om pres. Paul Kruger, sy vrou, Gezina, en ander familielede se grafte in die Heldeakker-begraafplaas skoon te maak. (Foto: Verskaf)

Lede van die FAK se Moot- en Noord van die Berg-Kultuurnetwerke asook die Midstream-, Rooihuiskraal- en Genl. Hertzog- Voortrekkerkommando het van vroegdag kom hand bysit.

“Dit was ʼn heerlike uitdaging en die Vories het baie geleer,” het Richard Watts, kommandoleier van die Centurion Voortrekkerkommando, gesê.

Volgens Müller maak dié soort geleenthede dit vir die gemeenskap moontlik om laer te trek vir ’n gemene doel, naamlik die beskerming en behoud van ons erfenis.

“Dit gee ook vir die jeug die geleentheid om meer te leer oor hierdie geskiedkundige figure en om die diep spore te verstaan wat hierdie mense getrap het.”

Daar word beplan om weer in Mei vanjaar die Heldeakker-begraafplaas skoon te maak.

“Hierdie is die begin van baie dinge wat kom in Pretoria. Maak seker jy word deel daarvan. Ons kan nie wag vir die munisipaliteit of ander mense om ’n verskil te maak in ons omgewing nie. Dit gebeur dalk nooit nie. Word die verskil wat jy wil sien deur betrokke te raak by jou naaste FAK-Kultuurnetwerk.”

Kontak Müller by [email protected] vir meer inligting of bel hom by 072 849 8563.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

PoppieK ·

knap gedaan!! wens iemand wil iets doen aan die Helde Akker by Westpark in Johannesburg

Lubbe ·

Om te dink daai begrafplaas se gras en tuin was jaaare terug pynlik netjies gehou.

Andre ·

Baie dankie moet asseblief nie die vrouens en kinders se grafte vergeet wat deur die slapgat engelse vermoor is in die tweede vryheids oorlog nie.

piet ·

Die duiwe sal binnekort weer hul blertse laat. Een van die redes hoekom ek liewer veras wil word. Grafstene in begraafplase word maar oor die algemeen na ‘n tydperk afgeskeep selfs. Familielede wat nooit meer soontoe gaan nie, ens. Soos die jare verloop word die belangstelling al minder……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.