Geloftedag – Die vrou tydens die Groot Trek

Estelle Pretorius. (Foto: Erfenisstigting)

Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds (so gespel om te beklemtoon dat alles nie altyd reg loop nie), poog om deur vroue se verhale en ervaring, meisies en ander vroue te bemagtig en inspireer. Estelle Pretorius, senior navorser by die Erfenisstigting, vertel in die rubriek watter belangrike rol, soos uitgebeeld by die Voortrekkermonument, die vrou tydens die Groot Trek gespeel het.

Op 16 Desember word Geloftedag gevier en onwillekeurig word dan teruggedink aan die Groot Trek en ook die rol en betekenis van die vrou. Sy het ’n deurslaggewende rol in die worsteljare van landverhuising van 1835 tot ongeveer 1845 gespeel – van die besluit om te trek, die maande lange voorbereiding, die oorlewingstryd op die trekpad… Die mans het velskoene gemaak, rieme gebrei, osse ingebreek, gejag en biltong gemaak, waens herstel, ekstra briekblokke gemaak en gesorg vir ammunisie. Die vrou het weke voor die trek seep gekook, klere gemaak, vetkerse gemaak, heuning uitgehaal, beskuit gebak, vet uitgebraai, kruie, groente- en vrugtesaad versamel, en aankope by smouse gedoen – soos molvelle, sis, seildoek, garing, naalde, tee, koffie, sout, asyn en linne.

Ongeveer 2 540 gesinne het aan die Groot Trek deelgeneem – meer as 23 000 mense. Huis en haard is vaarwel gesê en saam met haar man en kinders is die vrou die onherbergsame en woeste binneland in op soek na vryheid in ’n eie land.

Nie alle vrouens was geneë om saam te gaan nie. Barend de Lange (bynaam Seekoei-oog), se vrou het botweg geweier, maar hy het hom nie aan haar gesteur nie. Hy het opgepak, ingespan en dié gegroet wat sou agterbly – ook sy vrou. Sy het die wa agterna gestaar en besef dat haar man ernstig was. Skielik gil sy: “Seekoei-oog, hou stil, ek sal opklim!” Sy gryp haar rokke, groet almal en hardloop agterna!

Die Voortrekkermonument

Tydens die beplanning van die Voortrekkermonument het die argitek Gerard Moerdyk dit onomwonde gestel dat ’n spesiale ereplek aan die vrou gegee moet word, om hulde te bring aan haar dapperheid en deursettingsvermoë. Voor die ingang pryk Anton van Wouw se standbeeld van ’n Voortrekkervrou wat haar twee kinders beskerm.

Die marmerfries van 27 panele in die Monument beeld ook die belangrike rol van die vrou tydens die Groot Trek uit – van die eerste paneel waar die trek begin, tot by die anneksasie van Natal, toe honderde Voortrekkers weer uit Natal weggetrek het.

Die Trekleier Louis Tregardt (paneel 3) het ’n paar interessante mense in sy trek gehad, waaronder Antjie Scheepers. Haar man is vroeg op die trekpad aan malaria dood, later ook drie van haar seuns en ’n dogtertjie, maar sy en vyf van haar kinders het die tog na Mosambiek oorleef. Sy moes as weduwee alleen die mas opkom en het nie nagelaat om haar stoute seuns gereeld met ’n agterossambok of stroppe deeglike loesings te gee nie! Nêrens in sy dagboek meld Tregardt dat Antjie ooit moedeloos was nie – in teenstelling met ’n ander vrou, Anna Botha, wat “niks anders gedoen het as om te huil nie”, skryf Tregardt. In Ladybrand staan ’n gedenkteken met die woorde: “Mag Antjie Scheepers ’n besieling vir die dogters van ons volk wees!”

Die dapperheid van die vrouens het veral na vore gekom tydens die Slag van Vegkop (paneel 5), waar Potgieter se laer deur ongeveer 6 000 Ndebele-krygers aangeval is. In die hitte van die geveg het die Trekkers se ammunisie opgeraak en die vrouens moes ingryp. Terwyl assegaaie in die laer neergereën het, moes hulle lood smelt, dit met lepels in koeëlvorms giet en in water laat afkoel. Hulle het die mans gehelp gewere laai en het self ook geskiet. Daar is soos volg geskryf oor een van hierdie dapper vrouens:

“Sy het na haar man toe gehardloop met ’n sak kruit in die een hand en ’n sak lopers in die ander hand, vergesel deur haar dogtertjie van 13 jaar, wat ook ammunisie gedra het. Hulle het van skut tot skut gehardloop om ammunisie uit te deel.”

Een van die droewigste gebeure tydens die Groot Trek was die Zulu’s se aanvalle op Trekkers by Bloukrans op 17 Februarie 1838 (paneel 14). Bykans 500 mense het gesterf en Johanna van der Merwe was een van die gewondes. Sy was bykans 13 jaar oud en het die aanval oorleef, ten spyte van 23 assegaaisteke. Sy het die gebruik van haar regterbeen verloor en moes die res van haar lewe met ’n kruk oor die weg kom. Die ossewa onder in die museum van die Monument heet Johanna van der Merwe en is een van die waens wat in 1938 aan die Simboliese Ossewatrek deelgeneem het.

Anton van Wouw se standbeeld van ’n Voortrekkervrou wat haar twee kinders beskerm. (Foto: Verskaf)

Die Voortrekkervrou het voor en tydens die Trek by verskeie geleenthede ’n leidende rol in besluitneming gespeel. Tydens die Britse anneksasie van Natal was dit 400 vroue wat die Britse regeringsverteenwoordiger, Henry Cloete, voor stok gekry het by monde van die welsprekende Susanna Smit (paneel 18). Twee uur lank het sy hom vertel van die oorsake en ontberings van die Groot Trek en met die gevleuelde woorde geëindig: “Alvorens ons ons aan Engelse oorheersing onderwerp, sal ons liewer barrevoets oor die Drakensberg terugloop.”

Susanna Smit se verset was so aangrypend in die gemoed van latere Afrikaners dat ’n standbeeld om haar optrede teen Cloete te gedenk, jare later naby Kerkenberg by die Drakensberge opgerig is. Die sogenaamde Kaalvoetvrou-standbeeld word deur die Erfenisstigting in stand gehou.

Om gemaklik in ’n eie, permanente woning met duursame geriewe te woon en die omgewing te verfraai, was nie vir die Voortrekkervrou beskore nie. Baie van daardie vroue het die grootste deel van hul lewe in ’n ossewa deurgebring, of in tente en haastig opgerigte hutte. Porselein het mettertyd gebreek en hulle moes met tin- en houtborde tevrede wees en blinkgevryfde kalbasse om melk in te hou. Kruie is in velsakkies gebêre en speserye in primitiewe trommeltjies. Wors is self gemaak met worsstoppers van horing. Hulle moes ook self botter maak, brood bak, kerse maak, seep kook en koffie maal.

Maar hulle het fyn naaldwerk en borduurwerk gedoen – van onderklere, kappies en mansklere tot trourokke. Gebruiksartikels is op naïewe wyse mooi met volkskunsmotiewe versier, soos ’n anker op ’n leertabaksakkie, ’n hartjie uitgekerf op die handvatsel van ’n houtbak, fyn blomversierings op ’n geslagsregister voor in die Statebybel.

Hulle moes altyd met net die minste tevrede wees. As garing opgeraak het, is gaatjies met ’n doring langs ’n skeurplek in ’n kledingstuk gesteek en dun repies boombas daardeur gewerk om die skeurplek te heg. Een Voortrekkervrou vertel hoe kosbaar naalde was: “As ’n naald geval het, moes almal kom help soek en die sand sif totdat ons dit gekry het. En ons het ’n naald opgewerk totdat net die ogie oorgebly het.”

Die ossewa was hul woning, gebedskamer, siekekamer, geboortekamer en sterfkamer – die middelpunt van die pioniers se gesinslewe.

Met die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument in 1938 het N.P. van Wyk Louw Die dieper reg geskryf, wat op die terrein opgevoer is onder spelleiding van Anna Neethling-Pohl. Sy beskrywing van die vrou van die Groot Trek is aangrypend:

“Ek is die bloed wat deur die jare gaan,
geslagte aan geslagte bind, die vrou;
en in my kring van liefde, blydskap, hoop
en baie pyn, bestaan ’n volk onsterflik
solank hy daardie bloed wil suiwer hou –
bo wins en ydel woorde en medely.
Daarom sal ek my pyn nie noem as diens;
dis deel van my, dit is die stroom van lewe
en ewige vreug, wat so ’n vreemde skyn
aanneem in my – en daardeur sal ek leef
onsterflik in die wit land van die son
en wind-deurwaaide hooglug, Afrika.”

Besoek gerus Die Erfenisstigting se webwerf: www.es.org.za

  • Bestel nou jou FroueVonds A5-dagbeplanner vir 2021 met inspirasiestukke uit die pen van Lynette Beer. Met die aankoop verseker jy dat die FroueVonds studiegeleenthede vir behoeftige meisies en vroue moontlik kan maak. R50 van elke dagbeplanner word teruggeploeg in die FroueVonds. Plaas jou bestelling by: https://bit.ly/3gYOekW.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Marisa ·

Vrouens tydens die Groot Trek het ongekende krag getoon. Hulle het hul gesinne versorg en saam getrek. Hulle het saam boeke gevat, gebid, geglo, geveg. Hulle is steunpilare en ek is trots om ‘n afstammeling te wees.

FM ·

Vandag staan die vroue nie ‘n duim terug nie.

Menige vrou hou aan boer terwyl haar man wreedaardig van haar weggeruk is.

Die moderne samelewing het soveel vroue gedwing om alleen ouerskap te aanvaar. Kinders word finansieël en emosioneel versorg.

Anders maar steeds die selfde.

Vroue

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.