Inperking: Nuwe dinge wag op ons

Venessa Schoeman, redakteur van “Finesse voelgoed”. (Foto: Verskaf.)

Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds* poog om deur vroue se verhale en ervaring, meisies en ander vroue te bemagtig om hul eie lewens te verander én pilare in hul gemeenskappe te word. Venessa Schoeman, redakteur van die tydskrif Finesse voelgoed, vertel in dié rubriek om iets nuuts uit die pandemie te verwag.

Dit gaan beter wees as reën, slimfone en ʼn sterk rand

Gewoonlik hoor ons by sielkundiges, kenners en lewensafrigters dat ons ons moet losmaak van die verlede: Van dít wat ons terughou; van die foute wat ons gemaak het en die verkeerde besluite waaroor ons onsself tot vandag toe nog verwyt. Of dit nou ʼn te lang verhouding was met ʼn narsistiese kêrel of ʼn sakebesluit wat jou al jou pensioengeld gekos het. “Vergeet daarvan, dis verby, jy kan niks meer daaraan doen nie.” En dis waar! Die verlede se slegte herinneringe kan jou terughou as jy heeltyd daaraan vashou en bly terugkyk oor jou skouer.

Maar wat van die goeie herinneringe? Van waatlemoengevegte saam met jou gesin op ʼn pas gesnyde grasperk. Die stroopsoet vrugte wat oor jou wange loop en die taai sap tussen jou tone. Die seevakansies. Hoe jy en jou gesin in die Indiese Oseaan se golwe baljaar het en branders gery het tot jou gô uit was. Die roomys op die strand en die braaivleisvure wat tot laataand gebrand het. Is dit goed om elke dag in daardie herinneringe te gaan rol?

Nie altyd nie. Ons bevind ons in ʼn tyd van inperking, vasgegrendel en ingehok. Dit frustreer ons en maak ons kwaad. Ons sakeondernemings trek swaar, salarisse word gesny en die WVF betaal vir ʼn laaste keer uit. Wat is volgende? Daar is sprake van nog ʼn “hard lockdown” en jy hoor van al hoe meer mense wat nie meer hul huispaaiement kan bybring nie of van nog ʼn broodwinner wat sy werk verloor.

Dan droom jy oor hoe dinge was. Toe jy en jou gesin vakansie kon hou by die see, toe jou bankrekening in die groen was en jou ouers by hul kleinkinders kon kom kuier sonder vrese oor ʼn virus of siek word.

Met heimwee dink jy aan hoe jy sonder ʼn masker in ʼn koffiewinkel gesit en kuier het met jou vriendin, sonder die reuk van handreiniger wat om julle hang en hoe jy nie vir een oomblik geskroom het om aan jou gesig te vat nie! Genugtig, jy droom selfs in die aand hoe jy lofprysing doen in die kerk!

Nou is alles anders, en jy dink onwillekeurig terug aan die “goeie ou dae”. Ek doen dit ook.

Maar vanoggend lees ek die mooiste liefdesbrief in Jesaja 43. Dit begin met hoe baie God vir ons, sy kinders omgee. Dat ons syne is en aan Hom behoort, en dat Hy ons sal beskerm wanneer ons deur riviere moet swem, sodat die water ons nie wegspoel nie. Hy belowe dat wanneer ons deur vuur gaan, dit ons nie sal skroei nie en dat die vlamme ons nie sal brand nie.

Later in die hoofstuk herinner hy ons aan die verlede. Aan hoe getrou Hy was om ʼn pad deur die see oop te maak vir die Israeliete en hoe Hy hulle vyande verslaan het, sonder ʼn oorlog, en hoe hulle nie weer kon opstaan nadat hulle met ons lewende God kennis gemaak het nie.

En dan, my gunsteling-deel vanaf vers 18: “Moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ʼn pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring. Die wilde diere sal My vereer, die jakkalse en die volstruise, omdat Ek water gee in die woestyn, riviere in die droë wêreld om my volk, my uitverkore volk, se dors te les.”

Maak dit jou nie ook kinderlik opgewonde nie? Laat dit nie jou hart bokspring van vreugde en afwagting nie? God is soveel groter as ons vyande, soveel groter as ons omstandighede en soveel groter as ons pyn en probleme. Hy is betrokke en Hy is in beheer. Vir Hom is niks onmoontlik nie. Ek sien uit om te sien watter wonderwerke Hy gaan doen. Vir my. Vir jou. Vir ons land. En ek glo vas dat dit soveel beter gaan wees as die nuutste slimfoon, vlae reën en ʼn sterker rand!

  • Hierdie is ’n reeks van rubrieke deur vooraanstaande vroue wat hul steun aan die FroueVonds verleen. *FroueVonds word opsetlik verkeerd gespel om aan te sluit by sy slagspreuk – “want alles loop nie altyd reg nie”. Vir meer inligting of om betrokke te raak, besoek die FroueVonds se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jaco ·

Is inperking, maskers, gimnasiums wat gesluit is, kerke wat net 50 mense per diens kan vat alles deel van die “nuwe normaal”? Is dit hoe dinge van nou af permanent, vir jare en dekades vorentoe gaan lyk?

Delon ·

dit is maar net vir julle in die stede , op die platteland smeer ons ons self af aan die simpel klug , ons maak soos ons smaak , selfs die polisie steur hulle min aan die ZOL regulasies

JJ ·

Vannessa-dagboek jou storie vir 12 maande en skryf dan ‘n mooi opvolg, propvol hoop.

amapinki ·

Amen! Amen! Amen! Ja, absoluut, God se woord maak my kinderlik opgewonde en dit laat my hart bokspring van vreugde en afwagting. Ek glo ook Hy sal ons vyande verslaan sonder ‘n oorlog. Ons moet vir hulle bid en Hom vra en vertrou en Hom altyd dank, in goeie en slegte tye, vir wat Hy alles vir ons doen en ons moet volhard in die geloof en God in gehoorsaamheid dien. Dankie Here!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.