Johannesburg-ma red baba van gewisse dood

Baba Mason het by geboorte net 560g geweeg. Foto: Verskaf

ʼn Ma van Johannesburg se vinnige optrede het haar vroeggebore babaseuntjie se lewe gered toe hy onverwags na asem begin snak en blou in sy gesig geword het.

Bianco Franco se eersteling, Mason, is op 28 April vanjaar in die Netcare Clinton-hospitaal in Alberton vroeg gebore. Franco was maar in haar 24ste week van swangerskap en klein Mason het ʼn skrale 560 g by geboorte geweeg.

Dit was ʼn spanningsvolle tyd en Mason moes vier maande lank in die neonatale waakeenheid deurbring voordat hy sterk genoeg was om uiteindelik huis toe te gaan.

Voordat hy ontslaan is, het die hospitaalpersoneel daarop aangedring dat Mason se ouers eers noodhulpopleiding ondergaan voordat hulle hul kleinding huis toe neem. Franco sê nou as dit nie vir dié opleiding was nie, sou haar kind nie vandag gelewe het nie.

“Ek was eendag besig om Mason te voed en sy winde uit te klop toe hy skielik na sy asem begin snak het. Sy gesig het blou geword, dit was ʼn skrikwekkende ervaring,” sê Franco. “Ek het onthou wat ek tydens die noodhulpopleiding geleer het en dadelik gekyk of daar iets in Mason se lugweg vassit. Daarna het ek hom oor my knie geplaas en ʼn stewige klop op sy rug gegee. Tot my groot verligting het dit sy lugweg laat oopgaan en het hy weer begin asemhaal.”

Die ouerpaar het met Mason na die hospitaal gehaas, waar hy geventileer moes word. Medici het aan Franco gesê Mason het refluks gekry en van dié vloeistof in sy longe ingeasem, wat daartoe gelei het dat inflammasie in sy longe ontstaan het en hy nie kon asemhaal nie.

Mason moet gevolglik nóg ʼn maand in die hospitaal deurbring na dié ontstellende ervaring, maar het gelukkig ten volle herstel en is pas weer ontslaan.

“As dit nie vir daardie noodhulpopleiding was wat ek ontvang het nie, sou my kind nie vandag geleef het nie,” sê Franco. “Ek is so ongelooflik dankbaar vir daardie opleidingsessie wat my die kennis en vaardighede gegee het om my klein seuntjie se lewe te red.”

Suster Sharlene Glaus van die neonatale waakeenheid by die Netcare Clinton-hospitaal, het Vrydag verduidelik wanneer ʼn baba vloeistof inasem of aspireer, kan dit tot gevolg hê dat die vloeistof in die longe opbou en die longe ontsteek raak, soos met Mason gebeur het. Vroeggebore babas is veral vatbaar hiervoor aangesien hulle met onderontwikkelde longe en ander organe gebore word en dikwels verskeie gesondheidsuitdagings in die eerste twee jaar van hul lewe moet oorkom.

“Mason was besonder vroeg gebore en in die vier maande wat hy in die eenheid moes deurbring, het ons span ʼn baie noue band met die klein vegtertjie en sy ouers gevorm. Dit was daarom vir ons baie sleg dat hy hierdie terugslag beleef het en weer in die hospitaal opgeneem moes word. Maar Mason het weer sy vegtersgees gewys en ons is verheug dat hy so goed herstel het,” het Glaus gesê.

Sy het ouers van veral vroeggebore babas aangemoedig om noodhulpopleiding te ondergaan voordat hulle hul kleingoed huis toe neem, sodat hulle bemagtig is om die regte ding in sulke gevalle te doen. “Hierdie opleiding, soos in Mason se geval, kan die verskil tussen lewe en dood beteken.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

leser ·

sterkte aan baba mason
dis ‘n goeie ding om kpr kurses te doen, dalk red jy net ‘n baba se lewe nie, maar ‘n grootmens s’n ook

sandra ·

ek het in my 7de maand van my swangerskap ook noodhulp opleiding vir kinders gedoen min wetende dat ek op my vroeggebore baba mond tot mond moes toepas! Sy is 2 weke later gebore. Dit moet verpligtend vir nuwe ouers gemaak word, Jy weet nooit wanneer jy dit nodig sal kry nie.

Elke ·

Vir die prys wat kraamgevalle in hospitale kos, kan hulle maar die “opleiding” gratis aan ouers bied.

Andrea ·

Die meeste moderne ma’s kies n keisersnee pleks van n normale geboorte. Dis dalk wat die kostes opstoot.

sandra ·

Het ek ook so gepraat totdat my babatjie in NICU geland het. dan sing jy vining ‘n ander deuntjie.

Retha ·

Ek vra net: moet toekomstige ouers nie dalk almal verplig word om noodhulp opleiding te ondergaan voordat hul eersteling gebore moet word nie?

IK ·

Stem saam Retha, MAAR ook vir jou bestuurslisensie want jy kan ‘n lewe red by ‘n verkeersongeluk. Alle mynpersoneel was/is verplig om noodhulpkursusse suksesvol op datum te hou.

Pro-CPR ·

Siende dat Lewensoriëntering ‘n verpligte van is tot Gr12, dink ek hulle kan Noodhulp ook daarby inwerk vanaf Gr8. Dan weet ons dat ons kinders wat klaar Matriek skryf, in staat sal wees om basiese noodhulp toe te pas.

Diefie ·

Sterkte Bainco met klein Mason. Ek vertrou daar is iemand wat jou kan help met hom, sodat jy ook ‘n rus kans kry deur die dag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.