Kanovaarder (84) draf 50ste marathon kaf

Die immergroen Jannie Malherbe in aksie. (Foto: Verskaf)

Ondanks ʼn sterk wind in die laaste pylvak van vanjaar se Bergrivier-kanomarathon, het die 84-jarige Jannie Malherbe nog oorgenoeg murg in sy pype gehad om dié wedvaart ʼn 50ste keer suksesvol te voltooi.

“Die wind wat ons die laaste paar dae van voor af gekry het, was geweldig uitputtend. Wat my gemotiveer het om aan te hou, is waagmoed. Om op te gee was in elk geval nog nooit vir my ʼn uitweg nie,” vertel Jannie aan Maroela Media.

Hy voeg by dat hierdie groot mylpaal veel meer as die aantal voltooide wedvaarte is. “Mense dink jy het dit 50 keer gedoen, maar eintlik het jy dit honderde kere gedoen. Dit verg geweldig baie oefening om vir so marathon voor te berei.”

Jannie se kanovaartavonture op die Bergrivier het in 1962 begin toe hy vierde in die heel eerste wedvaart ooit tussen die Paarl en Velddrif geëindig het. Sedertdien het hy ʼn hele paar keer koning in dié ikoniese marathon gekraai, en hy het boonop ook Springbok-kleure in die sport verwerf.

Hoewel Jannie intussen reeds bereik het wat hy wou, is dit steeds vir hom lekker om in sy kano te klim, te oefen en dan dié 240 km-marathon aan te durf.

A very special man with a very special trophy.Oom Jannie Malherbe, at the age of 83 doing his 50th Berg River…

Posted by Berg River Canoe Marathon on Thursday, July 6, 2023

“Elke Bergrivier-marathon is anders; daar is nie een wat ooit dieselfde is nie. Deur die jare is dit egter die moeilike wedvaarte wat jy onthou,” sê Jannie. Hy voeg skertsend by: “Ek het wel begin agtergekom dat dit nou op my oudag nodig is om harder te oefen as ek gemaklik wil klaarmaak.”

Hy is elke jaar opnuut in verwondering oor die absolute ongereptheid van die natuur wat hy op die roete ervaar, en die verskillende omstandighede maak daarvan ʼn heerlike uitdaging.

Op die vraag oor of hy volgende jaar weer by die wegspringpunt van die Bergrivier-marathon gaan aanmeld, sê Jannie dat hy dit in hierdie stadium reeds begin oorweeg.

“Om op 65 af te tree en dan skielik te wil stilsit as jy nog in staat is om voluit te lewe, is ʼn groot onding. Solank as wat ek gesond is, sal ek aanhou oefen en aan die gang bly. Ek stap en hengel nog gereeld. Gelukkig is roei ʼn sport wat sag is op jou liggaam.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Wow!!! Wat ‘n merkwaardige prestasie. Baie geluk oom Jannie! Pragtige voorbeeld vir ons jonger “oues van dae” en natuurlik kan ons jeug ook hieruit leer. Niks is onmoontlik nie en die wil bepaal beslis die weg. Ek sal darem graag met so ‘n gesindheid my oudag wil deurbring.

piet ·

Oom Jannie is ‘n yster. Wonderlik. Daar’s ook waarheid in die gesegde: eenmaal (eintlik vele male vir oom Jannie) ‘n kampioen, altyd ‘n kampioen…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.