Lise Brink se organisasie help elf SA’ners met kunsledemate

Die Brink-gesin. (Foto: Stepping Into Grace/Verskaf)

Ongeveer R500 000 se kunsledemate is binnekort op pad na Danie en Lise Brink se tuisland, Suid-Afrika, danksy hul organisasie, Stepping Into Grace (SIG), wat tweedehandse protese en ander komponente aan mense met amputasies in Suid-Afrika skenk.

“Dis die grootste besending komponente wat SIG al gestuur het na spesifieke pasiënte wie se name en stories ons ken. Juis daarom maak dit ons ekstra opgewonde om die komponente spoedig in Suid-Afrika te kry,” vertel Lise vanuit Athens, Georgia in die VSA, waar die Brink-gesin sedert 2019 woon.

Maroela Media het vroeër berig dat Lise se linkerbeen bokant die knie geamputeer is nadat sy, haar man, Danie, en hul kinders op 16 Desember 2016 in ʼn ernstige motorongeluk buite Theunissen in die Vrystaat betrokke was.

Twee van hulle kinders, André (13) en Rachel (8),  is in dié ongeluk dood.

Die protese is gepak en reg om SA toe te kom. (Foto: Lise Brink/Facebook)

Lise kon ná 70 dae in die hospitaal vanuit haar tuin kyk hoe vriende, familie en vreemdelinge aan ʼn wedloop deelneem om vir haar haar eerste protetiese been aan te koop en wou dieselfde ondersteuning aan mense in soortgelyke situasies gee.

Sy het in die VSA ‘n toekenning vir ‘n hardloopbeen (“blade”) ontvang van Amputee Blade Runners (ABR) in Nashville, Tennessee. Deur dié gemeenskap het sy in kontak gekom met ander niewinsgewende organisasies wat protese en komponente aan mense met amputasies regoor die wêreld skenk.

Só is SIG, ʼn organisasie sonder winsbejag, gebore, en sedertdien is nagenoeg 40 Suid-Afrikaners deur dié organisasie met gehalte tweedehandse protese bygestaan. SIG is ook tans die alleenverspreider van hierdie waardevolle skenkings na Suid-Afrika.

“Ons het al voorheen groter besendinge komponente na protetiste in Suid-Afrika gestuur. Hulle wend die komponente aan soos wat behoeftes ontstaan en gee dan vir ons deeglike terugvoer oor die lewens wat verander word.”

Elf mense gaan met SIG se jongste skenking bygestaan word. Onder dié groep is ʼn 12-jarige Vrystaatse seun wat beide sy bene en ʼn hand weens ʼn sistemiese septiese infeksie verloor het.

“Omdat ons elke keer sulke wonderlike, emosionele terugvoer kry, en ons hierdie mense se name en stories ken, is ons vreeslik opgewonde. Ons kan nie wag vir die terugvoer nie,” sê Lise.

  • Besoek SIG se webblad by www.tydomterugtegee.com.
  • Klik hier om ʼn donasie aan SIG te maak. ʼn Skenking van $200 (sowat R3 600) stuur ʼn kunsledemaat na ʼn pasiënt in Suid-Afrika.
  • Lees meer oor Lise se reis op die gesin se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.