’n BSc, Tuberkulose en gróót drome

Sandy van Niekerk FOTO: Universiteit van Stellenbosch

Sandy van Niekerk. Foto: Verskaf.

Om met tuberkulose te worstel terwyl jy vir ’n BSc-graad aan die Universiteit van Stellenbosch studeer is nie vir enige iemand beskore nie. Sandy van Niekerk het dit egter reggekry.

Sandy is tydens haar tweede jaar by Maties met Mbt (Mycobacterium tuberculosis), ’n tipe tuberkulose wat weerstandigheid is teen sogenaamde ‘eerste linie’ antibiotika, gediagnoseer. Vandag is sy gesond, het haar MSc verwerf én sy het ’n internskap by die Universiteit van Kaapstad voltooi. Sy wil nou haar storie met die wêreld deel.

Dit is vir haar belangrik dat ander uit haar foute kan leer. Sy beklemtoon telkens die belangrikheid daarvan om jouself te laat toets en jou liggaam te ken.

“Vandag besef ek dat ek beter na my liggaam moes geluister het,” het sy gesê.

Sandy het nooit enige tipiese simptome van die siekte getoon nie. Sy was egter altyd moeg.

“Ek het gedink om die heeltyd so moeg te voel het te doen gehad met die stres van my studies en klasse,” het sy gesê.

Die eerste gevaartekens het tydens ’n vakansie in Swellendam opgeduik toe sy begin bloed hoes het. Sy was saam haar ma en tannie.

“Hulle het my onmiddellik laat sit. My tannie het my toe met die waarheid gekonfronteer, dat ek moontlik TB onder lede het en dat ek onmiddellik vir toetse moes gaan,” het sy gesê.

Haar tannie is die matrone by die Swellendam hospitaal. Sy het die volgende dag vir tuberkulosetoetse by Swellendam hospitaal gegaan en ’n dokter in privaatpraktyk gaan spreek, want sy wou dubbel seker wees.

Die eerste toets het negatief teruggekom, maar die tweede het bevestig dat sy positief getoets het vir veelvuldige middelweerstandige TB.

Sandy het niemand van haar toestand vertel nie omdat sy nie spesiale behandeling wou ontvang nie. Sy was ook bang vir die stigma wat aan mense met tuberkulose kleef.

Sy weet tot vandag toe nie waar sy met die bakterie in aanrakinge gekom het nie, omdat almal ná aan haar, insluitend haar koshuiskamermaat, negatief getoets het vir die bakterie.

Ná die diagnose moes sy vir sewe maande lank ses verskillende pille daagliks drink en vier daagliks daarna. Sy het ook verskeie ander pille gedrink om newe-effekte soos naarheid teen te werk.

Sy het nie egter nie toegelaat dat die siekte haar van stryk bring nie, ’n taak wat nie altyd maklik was nie.

“Dit was ’n spanpoging. My lewensmaat was elke dag by my om my te ondersteun. Ek het soos altyd aan die familie se aktiwiteite, soos om in die berge te gaan stap, deelgeneem. My broer en susters het soms gedink ek is lui of dat ek net nie lekker voel nie. Hulle het eers gehoor ek het TB die dag toe ek my medisyne vir die heel laaste keer moes neem,” het sy gesê.

Sandy het net die hoogste lof vir die ondersteuning wat sy ontvang het van die personeel by die Swellendamkliniek en ander instansies.

Sandy het net die hoogste lof vir haar ondersteuningstruktuur soos familie, die kliniek en DOTS (Directly Observed Therapy Strategy), ’n groep vrywilligers wat TB pasiënte bystaan om te verseker dat hulle daagliks hul medikasie inneem.

Hoewel sy vir die res van haar lewe jaarliks vir ’n roetine ondersoek moet gaan, wil Sandy haar tweede kans op die lewe aangryp en nou nét haar liefde vir wetenskap en skryf uitleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae