’n Eeu van Afrikaanse onderrig by Pta-skool

Laerskool Hermanstad hou ‘n muntlegging om die skool se eeufeesvieringe af te skop. (Foto: Laerskool Hermanstad/Facebook)

“Ons kinders stap dikwels by gr. 1 in as growwe steenkool, maar ons stuur na gr. 7 geslypte diamante na die stad se hoërskole.”

Só praat skoolhoof Jimmy Roberts trots van die leerders aan Laerskool Hermanstad, ʼn Afrikaanse enkelmediumskool in die weste van die Jakarandastad, wat vanjaar sy 100ste bestaansjaar vier.

Die skool het reeds in Februarie sy eeufeesvieringe met ʼn muntlegging by die skool afgeskop. Daar word ook beplan om in die tweede kwartaal ʼn wildsfees aan te bied waar die skool sy oudleerders wil terug verwelkom en spog met die ontwikkeling en vooruitgang by die skool.

“Ek het op 11 Februarie die geleentheid gehad om saam met ʼn 90-jarige oud-Herrie deur die skoolterrein te stap. Dit is hier waar ek net weer gesien het watter soort diep spore ons skool in mense se harte getrap het,” het Roberts gesê.

Roberts glo een van die redes waarom die skool so suksesvol is, is juis omdat dit in Afrikaans onderrig aanbied. “Die skool het aanvanklik as ʼn dubbelmediumskool ontstaan, maar later enkelmedium geword en dit is iets wat ons ouers van die skool waardeer.”

Die laerskool, wat naby die Pretoria Portland Cement (PPC)-fabriek in Hermanstad staan, is nog altyd op dieselfde terrein geleë as waar dit ʼn honderd jaar gelede gebou is. Die skool het natuurlik in die tussentyd gegroei van ʼn aantreevierkant met ʼn paar klaskamers en ʼn enkele rugbyveld tot ʼn  skool waar 810 leerders nou onderrig word met ʼn personeelkorps van 54.

Volgens Roberts kom die leerders van dié skool oor die algemeen nou uit moeiliker omstandighede, wat dit dikwels vir die ouergemeenskap ʼn uitdaging maak om die skool te ondersteun.

“Ek kan egter net getuig van die gemeenskap se ongelooflike ondersteuning aan ons. Pretoria se harte en hande het nog altyd net oop gestaan vir ons skool.”

Hermanstad se leuse is “Streef moedig” en die skool spog met ʼn kanniedood-blom op sy skoolwapen, wat dui op die skool en sy leerders se vermoë om in moeilike tye te volhard. Selfs die klasindeling by die skool se grade word gedoen in L, H, S en M, wat die woorde “Laerskool Hermanstad streef moedig” verteenwoordig, een van die skool se welbekende tradisies.

Roberts, wat die negende hoof van dié skool is en reeds van 2016 aan die stuur van sake hier staan, praat ook net met lof van sy onderwysers wat soos talle anders skole met die pandemie nuwe planne mos beraam om kinders te leer.

“Ek het ʼn ongelooflike personeel. Hulle het eenvoudig verantwoordelikheid aanvaar en planne gemaak om alles te laat werk. Daar is ingespring en geleer om oor Google klasse aan te bied en die werk is eenvoudig by die leerders gekry.”

Hy sê die personeel is net so opgewonde oor die eeufeesvieringe en het reeds moeite gedoen om die jaar se vieringe seepglad te laat verloop.

“Een voordeel wat ons het, is dat ons maklik ʼn 100 mense in die buitelug op ons rugbyveld kan ontvang, terwyl ons steeds die skool se geboue kan afsper as ʼn veilige gebied volgens die onderwysdepartement se regulasies teen Covid-19.”

Roberts het gesê dit sal heerlik wees en ʼn eer om al die oud-Herries by die feesviering te ontvang en voor te stel aan die skool se nuwe Herries.

“Kom kyk hoe die skool ontwikkel met elektronika en e-borde. Ons glo ons skool sal vorentoe kyk en nog ʼn 100 bly voortbestaan, al is ons dan self nie meer hier nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nou kan ons Die Stem sing! ·

Trotse mamma van Laerskool Hermanstad leerder!

Tanja ·

Dit is wonderlik om te weet ons ouers en leerder brand nie skole af nie en dat ons skole ń 100 plus kan word

Linda ·

Ook ek is n trotse Herrie van 1976, watter wondelike jaar was dit nie. Bou so voort.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.