’n Geloftepop vir haar ma

Ria de Wet met haar nuwe Geloftepop, “Groottie”. (Foto: Verskaf)

Hannelize Jacobs van Noordheuwel in Krugersdorp het dadelik geweet sy móét so pop vir haar ma, Ria de Wet (84), en ook ’n Geloftepop vir elkeen van die sewe tannies wat saam met haar ma in die Alzheimersiekte-eenheid by die Kokanje-aftreeoord in Modimolle (Nylstroom) woon, kry.

Sy vertel dat hierdie inisiatief van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) haar diep geraak het. Die FAK het verlede jaar, onder Marianda Schlebusch se leiding, begin met die projek om Geloftelappoppe spesiaal vir Geloftedag te maak. Sedertdien wil almal ’n “stukkie onthou hê”.

“My moeder was ’n uitsonderlike laerskoolonderwyseres gewees en is geweldig lief vir kinders. My hoop is dat hierdie pop vir haar en die ander tannies iets sal gee om aan vas te hou, iets om voor te lewe.”

Jacobs vertel dat sy onlangs haar ma vir die eerste keer vanjaar kon besoek. Sedert die uitbreek van die Covid-19-pandemie en gevolglike nasionale inperking mag dié bejaardes geen besoekers ontvang het nie. Haar pa, wat ook in dieselfde aftreeoord bly, kon voorheen nog deur ’n venster met haar ma gesels het, maar dit was ook tydens die hoogty van dié pandemie streng verbode.

Die agt spesiale Geloftepoppe wat Hannelize Jacobs vir haar ma, Ria de Wet, en sewe ander vroue in die Alzheimersiekte-eenheid by die Kokanje-aftreeoord in Modimolle (Nylstroom) bestel het. (Foto: Verskaf)

Sy het agt Geloftepoppe, wat elkeen verskillend lyk, bestel sodat elke vrou haar eie pop kon hê. Buiten dat Jacobs Geloftepoppe vir haar ma en die ander vroue wou gee om vir hulle vertroosting in hierdie deurmekaartyd te bied, word poppe ook juis gebruik om diegene met Alzheimersiekte en wat veral gedurende Covid-19 nie hulle naasbestaandes kon sien nie, te kalmeer.

Die sogenaamde popterapie behels dat ’n pop nie direk aan die persoon wat aan Alzheimersiekte ly, gegee word nie, maar eerder iewers gelos moet word, soos op ’n stoel of ’n tafel, waar dié persoon die pop maklik kan vind. Op hierdie wyse maak die persoon dan self die keuse om na die pop om te sien. Wanneer dié konneksie gemaak is, word versorgers aangemoedig om saam te speel.

Sommige mense met demensie of Alzheimersiekte sal dink dat die pop ’n regte baba is, terwyl ander sal weet dat dit net ’n pop is. Sommige dae sal hulle dink die pop lewe en ander dae weer dat dit net ’n pop is. Hoe dit ook al sy, hulle sal die pop as hul eie aanneem. Voordele van popterapie sluit onder meer in dat die betrokke persoon nou ’n spesifieke doel of fokus het, wat daartoe kan lei dat hulle minder ronddwaal of deurmekaar praat met verbeterde kommunikasie en spraak.

“Ek het een van die Geloftepoppe vir my ma gegee en die ander sewe vir die hoof van die Alzheimersiekte-eenheid gelos met ’n inligtingspamflet wat beskryf hoe die popterapie werk. Dit was maar ’n hartseer besoek.

’n Foto van Ria de Wet wat verlede jaar geneem is. (Foto: Verskaf)

“Dit was die eerste keer sedert die lockdown wat ek my ma kon besoek, aan haar kon raak en haar ’n soentjie kon gee. My ma het die afgelope tyd baie verswak. In die verlede het ek en sy altyd as ek haar besoek het na die paddadam daar naby geloop en op die bankie gesit, terwyl sy aanmekaar sinneloos gebabbel het. Ek’t maar altyd saamgespeel en oor wat ek gehoor het gesels. Vandag kan sy nie meer loop nie. Nes haar hande, is haar voete ook inmekaar gekrimp van Parkinson se siekte wat sy nou ook het en kan sy slegs ’n paar onsamehangende woorde sê. Sy reageer meestal net op my pa se stem met ‘Ja, pappa’.

“Ek dink nie dat sy my as haar dogter herken het nie, alhoewel sy stip vir my gekyk het asof sy dink dat ek bekend lyk, maar sonder om die konneksie te maak. Ek het langs haar bed gesit en die pop toe sonder om iets te sê op my skoot laat sit. Sy het na ’n tydjie die pop raakgesien en met haar ingekrimpte hand daaraan probeer vat. Ek het toe vir haar vertel van die dogtertjie wat saam met my al die pad van die Voortrekkermonument in Pretoria gereis het om vir haar te kom kuier. Sy het geluister en stip na die pop gekyk.”

Jacobs vertel dat sy haar ma se pop “Groottie” gedoop het, omdat sy die mooiste groot blou oë het.

“Dit is ook die naam van ’n gipspop wat sy as kind gehad het en baie lief voor was. Sy het later die pop vir my gegee en ek het dit vandag nog. Ek het die versorgers in die saal gevra om met my ma oor die ‘dogtertjie’ te praat en dit altyd so te plaas dat sy daarna kan kyk as haar oë oop is. Sy slaap nou meestal.”

Sy hoop dat die Geloftepoppe nie net haar ma en die ander tannies sal help nie, maar ook vir ander mense met geliefdes met Alzheimersiekte ’n idee gee om as terapie te probeer.

  • Bestel vandag jou stukkie “onthou” teen R280. Prys sluit koerier uit. As jy as vriend by die FAK aansluit, kan jy gratis ’n Geloftepop kry. Vir navrae stuur vir Marianda Schlebush ’n e-pos by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Smurf ·

Ons arme weerlose ou mensies…breek mens se hart tot in die diepse plekke van jou siel.

Suzannè Orlandi ·

Het groot simpatie vir die pasient maar moet asseblief nie na ons verwys as “mensies”. nie!!
Dit is vernederd. Ons geheue mag aangetas wees maar nie ons waardigheid nie! Respekteer dit asseblief!

Mad Mike die Rhodesiër ·

Enigiets wat hierdie spesiale ou mensies se aandag verg mag hul lewens verleng. Baie van hulle gee op en word nooit wakker nie. Vra my. My stiefma het aan Alzheimersiekte gely en is dan ook so oorlede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.