Skenk ’n skooltassie, gee ’n toekoms

Sowat 2 000 tassies is begin van die jaar versprei. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch)

Solidariteit Helpende Hand se Skooltassie-projek het sedert sy ontstaan in 2007 nagenoeg 55 000 behoeftige graadeentjies in Afrikaanse skole met ten volle toegeruste skooltasse toegerus.

Die projek, wat deur Pretoria FM en Maroela Media ondersteun word, is tans hard aan die werk om ’n verdere 2 000 tassies op die eerste dag van skool in 2024 landswyd uit te deel. Elke tassie bevat ’n pennesakkie, grys potlode, inkleurpotlode, uitdraaikryte, skêr, uitveër, gom, liniaal, witbordjie en witbordpenne. Van die tassies kry ook ’n Christelike leesboekie, ’n Kroonkinders-waardeboekie* of ’n Bybel.

Die Skooltassie-projek spog van vanjaar af ook met twee nuwe vierpotige ambassadeurs, naamlik Braaf die boerboel, van Boerboel Wear, en Piet Tande die tandemuis. Hulle is spesiaal geskep om die kinders te vermaak, op te voed en met hul stories en avonture te inspireer.

Verskeie van die eerste graadeens wat tassies ontvang het, is reeds uit die skool en van hulle studeer by tersiêre instellings.

 skooltassie-2023-hh-01.jpg

Helpende Hand-personeel hard aan die werk om tassies gereed te kry. (Foto verskaf)

Volgens Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, is dié projek een van Helpende Hand se duurste, maar ook sy belangrikste projekte omdat dit met opleiding, opvoeding en ontwikkeling help.

“Kinders is die toekoms van ons land en dit is ons almal se verantwoordelikheid om hulle van vroeg af by te staan en ook te leer van omgee en om mekaar by te staan,” sê Noëth.

“Die gelykbreker tussen mense is dat ons almal soms arm is. Party finansieel, party fisiek, party geestelik. Niemand het alles nie en ons leef nie in ʼn volmaakte wêreld nie. Ons is deel van ʼn gemeenskap en hoe gouer ons leer om hand uit te steek en mekaar te help, hoe beter want só maak ons ons hele gemeenskap sterker.”

 skooltassie-2023-hh-02.jpg

Deur ’n tassie te skenk, gee jy ’n kind die geleentheid om gelyk weg te spring met die res van sy of haar skoolmaats. (Foto verskaf)

Die Skooltassie-projek is ’n voorbeeld van hoe ’n klein gebaar ’n groot verskil kan maak in die lewens van kinders wat dit die nodigste het. Deur ’n tassie te skenk, gee jy ’n kind die geleentheid om gelyk weg te spring met die res van sy of haar skoolmaats en ’n beter toekoms te bou.

Die publiek word aangemoedig om tassies te skenk of te borg deur die webwerf www.tassie.co.za te besoek. Die koste van een tassie beloop R450, maar enige bydrae word verwelkom.

* Lees meer oor die Kroonkinders-waardeboek by https://maroelamedia.co.za/afrikaans/boeke/leer-jongspan-waardes-met-kroonkinders/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.