Supervrou 2023: Stem vir die finaliste

ATKV-Eiland Spa

Ons is daagliks omring deur vroue wat lyk of hulle enigiets kan vermag. Dit is vroue wat al die balle in die lug kan hou, maak nie saak wat hulle omstandighede is nie. Dit is vroue wie se mans en gesinne hul prioriteit is, en vroue wat weet waar hulle Krag vandaan kom.

Ons het lesers genooi om hul vrou, dogter, buurvrou of vriendin te nomineer wat die steunpilaar is by haar werk, of iemand wat dalk aan die hoof van ʼn onderneming staan. Dit kon iemand wees wat ʼn tuisteskepper of ʼn tuisbly-mamma is.

Ons wou by kinders hoor of hul ma supersoniese gehoor het om te weet wanneer die kinders met kattekwaad besig is, of oë agter haar kop het wat kan sien wat op die agtersitplek van die motor gebeur. Dis vroue wat so besig is om altyd haar gesin en ander mense te help dat jy soms wonder of sy dalk meer as twee arms het, en wie se liefde só onvoorwaardelik is dat jy soms wonder of haar hart so groot soos ʼn passasierskip is.

Die ATKV het boonop wonderlike pryse geborg vir drie van hierdie Maroela-supervroue.

Wat kan die supervrou wen?

Drie Maroela-supervroue staan die kans om elkeen ʼn midweek (Sondag 14:00 tot Donderdag 10:00) in ʼn standaard eenheid by een van die ATKV se sewe selfsorgvakansieoorde van haar keuse te wen.

Dié oorde is ATKV-Buffelspoort naby Rustenburg, ATKV-Drakensville aan die voet van die Drakensberge naby Bergville, ATKV-Eiland Spa naby Tzaneen, ATKV-Goudini Spa naby Worcester, ATKV-Hartenbos langs Mosselbaai, ATKV-Klein-Kariba naby Bela Bela en ATKV Natalia by Illovo in KwaZulu-Natal.

Vir meer inligting oor die oorde, besoek gerus die webwerf atkvoorde.co.za.

Die prys sluit akkommodasie vir vier persone in. Omdat dit selfsorgoorde is, moet jy self voorsiening maak vir alle etes. Daar is wel restaurant- en winkelfasiliteite indien jy daarvan gebruik wil maak.

Ontmoet die finaliste

Ons lesers het die mooiste stories gedeel van vroue wat werklik ʼn verskil in hul land en gemeenskap maak. Ons vertrou dat elkeen van hierdie byna 800 genomineerde vroue spesiaal bederf sal word deur elkeen wat hulle genomineer het, selfs al het hulle nie as finalis deurgedring nie.

Hier is die finaliste, in geen spesifieke volgorde nie. Maak seker jy stem vir jou gunsteling voor 6 Augustus 2023.

Lindi Janse van Rensburg

Lindi Janse van Rensburg

Lindie Janse van Rensburg van Bloemfontein is genomineer deur Imke Hennop. Só skryf Imke:

“Sy is die definisie van onselfsugtigheid, onvoorwaardelike liefde, deursettingsvermoë en lojaliteit. Sy is altyd positief, fluks, hoopvol en goedhartig. Sy inspireer en motiveer selfs wanneer sy dit ook soms nodig het. Sy is ʼn mamma, broodwinner en swot deeltyds om haarself te bevorder. Sy bestuur ʼn span van 16 mense en doen dit briljant. Haar span is opreg lief vir haar omdat sy ʼn ware leier en inspirasie is. Haar kinders floreer in haar liefde, ondersteuning en moederskap. Haar vriendinne se lewens is verryk om haar eenvoudig net deel te hê van hulle lewens. Haar sin vir humor en goedhartigheid het die vermoë om selfs ʼn vreemdeling op straat se dag te maak. Sy oorkom struikelblokke met ʼn lied in die hart en ʼn glimlag op haar gesig. Haar lag en glimlag versprei soos ʼn veldbrand onder diegene wat haar omring. Sy bring lig in enige vertrek waarin sy stap en raak harte aan sonder dat sy dit besef of selfs probeer. Sy is ʼn sprekende voorbeeld van ʼn supervrou.”

Ina Prinsloo

Ina Prinsloo

Ina Prinsloo van Potchefstroom is genomineer deur Joretha Ferreira. Só skryf Joretha oor haar ma:

“Sy is ʼn fantastiese vrou, ma en onderwyseres. Sy stel altyd haar familie bo haarself en soms ten koste van haarself met onvoorwaarlike liefde. Sy sal berge versit vir haar man en kinders. Sy is ʼn onderwyseres by ʼn spesiale skool in Potchefstroom. Die omstandighede by die skool is nie altyd maklik nie, maar tog kom haar passie vir die kinders elke dag na vore. Sy spandeer waardevolle tyd saam met elke kind en verseker dag hy geliefd voel. Sy is waarlik ‘n ystervrou wat, as daar meer as 24 uur in ‘n dag was, sy dit sal kan vul om ander te help. Ons is vreeslik lief vir haar.”

Cornica Meyer

Cornica Meyer

Cornica Meyer van Mosselbaai is genomineer deur Sonette Lerm. Só skryf Sonette:

“Cornica is ʼn raakvatter op elke gebied van die lewe. Soos haar ouma wat haar naamgenoot is, maak sy die heerlikste kos soos sagopoeding, bobotie, melktert en karamelpampoenpoffers. Haar gesin eet elke dag twee supermaaltye. Intussen ry sy die kinders skool toe, boer net so hard soos haar man en dan moet sy nog al die admin en finansies ook hanteer. Sy werk die skape elke dag deur en gee vir die beeskalwers melk. Sy soek ‘n mark vir hulle produkte. Cornica is ʼn steunpilaar vir almal om haar, sy is altyd beskikbaar, dag en nag, vir haar vriende en familie. Sy neem beheer in krisistye en bly koel en kalm. Sy bid vir almal en lees graag vir kinders uit die Bybel. Cornica het die mooiste glimlag en oral waar sy kom ken mense haar vir haar vriendelikheid en goedhartigheid. Sy maak altyd grappies met almal om haar en doen moeite om met almal ʼn geselsie aan te knoop, hetsy die skoolhoof of straatveër, almal is vir haar ewe belangrik. Sy is ʼn supervrou, ʼn vrou duisend, enig in haar soort.”

Delanie Bezuidenhout

Delanie Bezuidenhout

Delanie Bezuidenhout van Pretoria is genomineer deur haar man, Marius Bezuidenhout. Só skryf Marius:

“My vrou is voorwaar ‘n supervrou! As ek net haar energie en omgee kan bottel, sal dit ‘n blitsverkoper wees. Sy is nie net my vrou en ma van ons pragtige twee dogters nie (en sy word binnekort ouma!), maar sy het ook al vir 100 000 kinders in Suid-Afrika elkeen ‘n paar skoolskoene geskenk. Hierdie skoene kom van ‘n projek (My Walk) wat sy begin het en wat nou ten volle geborg word deur Netcare en Adcock Ingram. Deur dié projek word drupsakkies by hospitale opgetel en in ʼn fabriek (wat sy van die been af gebring het) herwin in splinternuwe pragtige blink skoolskoene. Die projek skep tans werk vir 15 mense. Verder het sy ook onlangs haar honneursgraad in teologie voltooi en is tans besig met haar diensleraarjaar by die NG Kerk Kuratorium (einde van die jaar is sy ‘n dominee!). Sy is ook aktief betrokke by ons gemeente en die gemeenskappolisiëringsforum waar sy dag en nag slagoffers van misdaad by staan. Sy is ook lief vir bergfiets ry en enige kunsprojek!”

Leina Kruger

Leina Kruger

 

Leina Kruger van Johannesburg is genomineer deur haar drie dogters. Só skryf die jongste:

“Leina Kruger is my supervrou. Sy is my mamma wat altyd daar was en steeds is wanneer ek haar nodig het. Sy het my van kleintyd af geleer wat reg is. As ek gesukkel het, het sy my altyd reggehelp of raad gegee – meestal advies uit die Bybel wat ek moet onthou. Somtyds is dissipline ook nodig, maar ek weet dit kom uit liefde. Wat vir my moeilik lyk, kan sy uitwerk. Sy is die beste enkelmamma. Sy is die beste supermamma. Sy het beslis oë agter haar kop, so as ek kattekwaad aanvang weet sy! Sy is definitief ‘n vangnet vir my en my susters. Ek wonder partykeer waar sy al die krag en wysheid kry. Sy help my, en dan skielik help sy my susters. Sy kan op 100 plekke gelyk dink en die vinnigste en beste planne maak en oplossings gee. Sy is my en my susters se supermamma.”

Marli Bredenhann

Marli Bredenhann

Marli Bredenhann van Pretoria is genomineer deur haar ma, Santie Gildenhuys. Só skryf Santie:

“‘Ouma, dit reën. Ons sal moet jappap!’ Aan die woord is die vierjarige Marli en ‘jappap’ is haar woordjie vir ‘hardloop’. Vandag is sy ʼn sprankelende vrou van 32 wat steeds op ʼn drafstap ander mense met haar saamvat en bemagtig. Tydens haar skool- en universiteitsjare reik sy uit met studiehulp en gemeenskapsdiens. Marli behaal groot hoogtes met haar hoërskoolleerlinge as kreatiewe onderwyseres. Een oggend op pad werk toe, hou sy in die middel van ʼn besige straat stil om eers ʼn jongman se karbattery te herlaai. Dan staan sy ʼn vriendin by tydens ʼn miskraam en bied tydelike huisvesting in haar motorhuis.  Nadat sy agt jaar skoolgehou het, ontpop sy in ʼn sakevrou. Sy is tans die eienaar en bestuurder van twee florerende skoonheidsalonne. Sy stoot ook ander besighede se  suksessyfers op met haar webbladontwerp en aanlyn bemarking. Marli en JC verwag hulle eersteling in Januarie 2024,  D.V.  Jy is voorwaar ʼn supervrou wat elke dag jou Jeremia 29:11 voorspoed-motto uitleef, Marli!”

Anne-Marie Jacobs

Anne-Marie Jacobs

 

Anne-Marie Jacobs van Karos in die Noord-Kaap is deur haar skoonsus, Gillian Esterhuyzen, genomineer. Só skryf Gillian:

“Anne-Marie is op 23-jarige ouderdom gediagnoseer met Stargardt-siekte, ʼn degeneratiewe oogsiekte wat veroorsaak het dat sy stelselmatig besig is om haar sig te verloor. Vandag, op 54-jarige ouderdom, het sy slegs 7%-sig oor. As jy haar egter ontmoet, sal jy dit nooit sê nie, want Anne-Marie het nie in sak en as gaan sit nie. Haar twee kinders vertel dat hulle kleintyd kon sweer sy het ‘n ekstra stel oë, want sy het baie gou agtergekom as hulle met die een of ander onheiligheid besig was! Ten spyte van haar swak sig behartig sy haar hele huishouding eiehandig. Sy is ook bekend vir haar heerlike gebak, soos koekies, wat sy op bestelling maak. Haar man, Marius, het vir haar ‘n spesiale toestel gemaak waarmee die deeg die regte dikte uitgerol word, asook ‘n toestel wat koekies presies die regte lengte afsny. In my oë is sy ‘n supervrou, omdat jy haar nooit hoor kla nie, ten spyte van haar uitdagings.”

Mariette Labuschagne

Mariette Labuschagne

Mariette Labuschagne van Bellville is genomineer deur haar 12-jarige seun, Huntley Pöhl. Só skryf Huntley:

“Mamma leer my van Jesus. Sy leer saam met my eksamentye. Sy maak nie beloftes nie, want alles is nie altyd moontlik nie. Sy werk hard en is altyd daar ongeag omstandighede. Sy het ʼn omgeehart vir almal, al het sy self dit moeilik en kry finansieel swaar. Sy veg ook die verlies van my oudste broer se afsterwe. Ek sal graag mamma wil bederf. Sy is mooi vir my en ek kan nie sonder haar nie.”

Helené Vorster

Helené Vorster

Helené Vorster van Krugersdorp is genomineer deur haar dogter, Olivia Vorster. Só skryf Olivia:

“My ma is nie ʼn supervrou nie, maar eerder ʼn super-engel. Haar hart sprankel van God se liefde en goedheid. In my 26 jaar op aarde saam my ma het ek nog niks gesien wat haar onder kry nie. Geen uitdaging is vir haar te groot nie. Een van my ma se ‘superpowers’ is om die heerlikste kookkos te maak, veral roomspinasie. Toe ek nog op universiteit was, het ek altyd kookkos bestel wanneer ek huis toe gaan, omdat ek oortuig is dit my moed en krag gee vir die week se uitdagings! My ma is my hartsvriendin met wie ek enige iets kan deel, sy het altyd tyd om vir jou te luister ongeag hoe besig haar skedule mag wees. Boonop het sy altyd ʼn oplossing vir al my probleme. Sy het die ‘superpower’ om ʼn mens te kan laat glimlag as jy voel dit is nie moontlik nie. Woorde kan beslis nie al haar eienskappe as ʼn supervrou beskryf nie. Ek weet beslis dat my ma haar superhero cape iewers in haar kas wegsteek, want geen mens kan soveel liefde, oplossings en lekker kook sonder om ʼn superheld te wees nie.”

Colette Coetzee

Colette Coetzee

Colette Coetzee van Pretoria is genomineer deur haar seun, Janeco. Só skryf Janeco:

“As ek terugkyk na 19 jaar se noukeurige en liefdevolle vorming deur een van die wêreld se supervroue, sien ek hoe my ma my stadig en geduldig aan my gebeitel het sodat ek as ʼn sterk en verantwoordelike man kon opeindig wat eendag in staat sal wees om sy medemens in liefde en eer te dien. Ek definieer moederskap as onvoorwaardelike en selflose liefde. My ma is ʼn spieëlbeeld van hierdie soort liefde, die soort wat haar kinders sterk maak en wat van ʼn seun soos ek, ʼn man gemaak het. Ek weet van ontelbare kere wat my ma tot laat toe wakker gebly het (soms saam ons en ander kere alleen) om seker te maak haar gesin is opgestel vir sukses. Na my mening is ʼn supervrou iemand wat haar God eerste stel, haar naaste tweede en haarself laaste. ʼn Supervrou is iemand wat diegene om haar versterk en ondersteun. Sy is iemand wat mense beter los as wat sy hulle gekry het en wat nooit sal opgee nie. My ma is ons grootste aanhanger en ondersteuner. Sy is onvervangbaar en spesiaal, ʼn ware supervrou.”

Wat moet jy doen?

Laat weet ons voor 6 Augustus wie is jou gunstelinge uit dié groep supervroue. Die drie vroue met die meeste stemme sal uiteindelik met die ATKV-wegbreek beloon word.

Bepalings en voorwaardes

  • Die stemmery vir die finaliste sluit op 6 Augustus 2023 om 23:45.
  • Die prys kan nie vir kontant verruil word nie.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • Maroela Media en die ATKV kan nie aanspreeklikheid aanvaar indien jou inskrywing ons weens enige rede nie betyds bereik nie.
  • Maroela Media sal nie jou of die wenner se persoonlike kontakbesonderhede met enige derde party deel nie, dit is slegs vir Maroela Media se gebruik.
  • Die drie persone wat die meeste stemme tussen 11 Julie 2023 en 6 Augustus 2023 ontvang, sal as die wenners aangekondig word.
  • Die drie wenners sal telefonies en per e-pos deur Maroela Media gekontak word.
  • As jy nie iets van ons hoor nie, kan jy aanvaar dat jy nie een van die wenners was nie.
  • Die prys/akkommodasie is geldig tot 28 Februarie 2024.
  • Borgskap kan nie verleng word nie, en moet in bogemelde periode gebruik word.
  • Die prys is nie geldig gedurende die skoolvakansie, naweke en oor langnaweke nie.
  • Prys is nie oordraagbaar/verkoop- of omruilbaar nie. Pryswenner moet identifiseerbaar wees by oord.
  • Vervoerkoste na en van die oord is vir jou eie rekening.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.