Swemmer pak koue see aan; steun beenmurgregister

Christine Roos wil die yskoue Atlantiese Oseaan aandurf om geld vir die Suid-Afrikaanse beenmurgregister (SABMR) in te samel. (Foto: Verskaf)

Christine Roos, ʼn begeesterde swemmer en filantroop van Benoni, gaan die koue water van die Atlantiese Oseaan aandurf om sowat R50 000 vir die Suid-Afrikaanse beenmurgregister (SABMR) in te samel.

Roos (29) gaan dié tog van 7,4 km dié week, van Big Bay in Bloubergstrand tot by Robbeneiland, aanpak. Sy word vergesel deur ʼn jarelange vriendin, Chalana Skinner, wat morele ondersteuning sal verskaf. Die swemtog sal op die dag met die gunstigste weersomstandighede aangepak word.

Die ent na Robbeneiland wat as die “Island Escape” bekend staan, is niks minder nie as uitmergelend. Só word dit deur ʼn elite oopwater-swemmers beskryf.

Roos, ʼn beginnerswemmer, is egter nie hierdeur afgeskrik nie.

Sy sê die uitdaging is niks in vergelyking met ʼn lewensbedreigende bloedsiekte nie, veral as ʼn mens nie die behandeling vir die soort siekte kan bekostig nie.

“Om die roete te swem is maar net ʼn paar uur van my lewe. Vergelyk dit met die talle ure, maande of selfs jare wat pasiënte moet ly met bloedverwante kankers. Dikwels is ʼn oorplanting hul enigste hoop op oorlewing.

“As ʼn geregistreerde stamselskenker het ek dit my missie gemaak om mense bewus te maak van die lewensreddende werk wat die SABMR doen. Die verskil wat ons elkeen kan maak is om as ʼn skenker in die register aangeteken te word,” sê Roos.

Sy het sowat twee jaar gelede as ʼn beenmurgskenker by ʼn registrasieveldtog in Gauteng aangemeld en is sedertdien ʼn ambassadeur vir beenmurgskenking. Roos het dieselfde jaar nog aan die 94.7-fietsrit deelgeneem as deel van ʼn span wat R150 000 vir die SABMR ingesamel het.

Roos se swemuitdaging is al maande in aanloop. (Foto: Verskaf)

Roos verduidelik die swemuitdaging is al maande in aanloop.

“Ek het elke keer in Gauteng in damme en swembaddens geoefen. Ek het nog altyd mededingende sport beoefen en geniet dit om myself uit te daag en so grense te verskuif.

“ʼn Mens moet fisiek en geestelik fiks wees vir hierdie swemtog. Sodra jou kop op die regte plek is, is die stryd reeds halfpad gewen.”

Die geld wat op Roos se BackaBuddy-bladsy ingesamel word, sal vir die SABMR se pasiënthulp aangewend word, wat finansiële hulp aan gesinne verleen wat dit nie kan bekostig om ʼn geskikte skenker te vind nie.

Roos glo ‘n mens moet fisiek en geestelik fiks wees vir hierdie swemtog. (Foto: Verskaf)

Roos sê sy hoop dat die publiek haar saak sal ondersteun.

“Ek weet dat tye moeilik is, maar elk vra elkeen om te gee wat hulle kan vir die saak. Al is dit net ʼn klein bietjie kontant, dit dra alles by om iemand se lewe te red.”

Kamiel Singh, hoof van volhoubaarheid by die SABMR, sê die nieregeringsorganisasie het al talle pogings aangewend om verlore finansiering tydens die Covid-19-pandemie te verhaal.

“Die grootste deel van ons fisieke geldinsamelingsgeleenthede is verlede jaar gekanselleer weens inperkings om die virus te bekamp. Ons probeer tans weer om stadig op ons terug op ons voete te kom.

“Ons is besonder dankbaar vir Christine wat haarself vir die saak beywer en help om geld in te samel om lewensreddende behandelings vir meer pasiënte beskikbaar te stel. Sy is ʼn ware held.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.