Uitblinkers in Afrikaanse onderwys vereer

Chris Klopper van die SAOU (Argieffoto: Reint Dykema)

ʼn Erepenning is verlede week aan die Akademie vir Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros) oorhandig vir dié instelling se onmiskenbare aandeel in die opleiding van onderwysers in Afrikaans.

Die eerbewys is tydens die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) se driejaarlikse nasionale kongres aan Aros oorhandig. Toekennings is ook uitgedeel aan onderwysers en skole wat uitnemende werk op verskeie terreine van die onderwys lewer.

Volgens Chris Klopper, uitvoerende hoof van SAOU, was die standaard van inskrywings wat ontvang is, van hoë gehalte. Daarom was dit ʼn uiters moeilike taak om net sewe wenners in die twee afdelings: individueel en skole, aan te wys.

“Ons was werklik verras met die voorleggings wat ingeskryf is. Daar is soveel meer onderwysers en skole wat uitblink, as die aantal toekennings wat gemaak word. Wat die wenners in gemeen het, is die konstante lewering van goeie werk, ver bo wat van hulle verwag word.”

In die individuele afdeling sluit dit onder meer erkenning vir administratiewe werk, onderwysleierskap en klaskamerpraktyk in. Skole is vereer vir bydraes ten opsigte van inklusiwiteit en diversiteit, taalontwikkeling, akademiese prestasie en die bevordering van kultuur.

Die SAOU het sowat ses jaar gelede dié toekennings begin spesifiek met die doel om uitnemendheid te vereer.

“Funksionele skole word nie altyd tydens die departement van onderwys se National Teacher Awards vereer nie, omdat hierdie toekennings meer deur politieke oorwegings gedryf word. Ons wil hiermee erkenning op grond van meriete gee,” voeg Klopper by.

Dié uitblinkers vereer

In die afdeling vir individue, is die volgende toekennings oorhandig:

  • Uitnemendheid in administratiewe werk (nie-onderwyspersoneellede by skole): Schantell de Witt van die Hoërskool Pretoria-Noord.
  • Uitnemendheid in onderwysleierskap (primêre skole): Estelle de Wit van Sunningdale Primêre Skool in die Wes-Kaap.
  • Uitnemendheid in onderwysleierskap (sekondêre skole): Karen Potgieter van Bergsig Akademie in Noordwes.
  • Uitnemendheid in onderwysleierskap (skole vir leerlinge met spesiale onderwysbehoeftes): Rita Clarke van Hoërskool die Wilge in Noordwes.
  • Uitnemendheid in klaskamerpraktyk (primêre skole): Ansie Kruger van Dr. CF Visser Primêre Skool in die Vrystaat.
  • Uitnemendheid in klaskamerpraktyk (sekondêre skole): Lesley van Vollenstee van The Glen High School in Pretoria.
  • Uitnemendheid in klaskamerpraktyk (skole vir leerlinge met spesiale onderwysbehoeftes): Eldorette Havenga van die Hoërskool Die Wilge in Noordwes.

In die skoleafdeling, is die volgende skole vereer:

  • Uitnemendheid ten opsigte van inklusiwiteit en diversiteit: Laerskool Middelburg in Mpumalanga.
  • Die bevordering van kultuur deur middel van die uitvoerende kunste: Merensky Landbouskool in Limpopo.
  • Die uitbouing en versterking van leerlinge se taalvaardighede in die taal/tale van leer en onderrig van die skool: Hoërskool Pretoria-Noord in Gauteng.
  • ʼn Skool wat te midde van uitdagende sosio-ekonomiese omstandighede steeds ʼn ondersteunende en stimulerende leeromgewing skep: Hoërskool Gerrit Maritz in Gauteng.
  • ʼn LSOB-skool (skole vir leerlinge met spesiale onderwysbehoeftes) vir uitmuntende onderrig aan leerlinge met spesiale onderrigbehoeftes: College Street School in die Oos-Kaap.
  • ʼn Skool vir uitnemende akademiese prestasie (sekondêre skole): Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria.
  • ʼn Skool vir uitnemende gr. R-praktyk: Tjokkies Pre-primêr in die Vrystaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Goldy ·

Vir engels en inclusiveness is daar genoeg ander platforms, waarom kry inclusiveness nou hier ook soveel aandag? Ons lees reeds maroela omdat ons geen ander plek meer het nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.