Video: Wenners van Ingrid Jonker-digkompetisie aangewys

Johann van der Walt, wenner van die 2019 Ingrid Jonker L’ Art Poétique-digkompetisie. (Skermskoot: eNuus)

Die wenners van die Ingrid Jonker L’ Art Poétique-digkompetisie is die afgelope naweek tydens ʼn gala-aand in Alberton in die ooste van Johannesburg aangewys.

Johann van der Walt, ʼn video-redigeerder by eNuus, het met die eerste plek in dié kompetisie weggestap. In die tweede plek was Elna Kruger en Werner Wehmeyer is as derdeplekwenner aangewys.

Altesaam 276 gedigte van oor Suid-Afrika, asook tot by China, Ierland en Engeland is vir dié kompetisie ingeskryf en 24 gedigte is met die hand uitgesoek om in die saamgestelde bundel, Die môre is jy, opgeneem te word.

By dieselfde geleentheid is die wenners van die Croyez- literêre toekenning aangewys, ʼn toekenning wat toegeken word aan kortverhaal-fiksieskrywers. Trisa Hugo het vanjaar met die louere weggestap, asook ʼn kontantprys van R2 000, publikasie van haar kortverhaal in ʼn bundel en ʼn boekpakket van Lapa-uitgewers. In die tweede plek was Rosalee Meyer en in die derde plek Elsabe Kruger.

“Waterfall of moss and sun” bevat 50 van Ingrid Jonker se gedigte wat noukeurig deur haar dogter, Simone, gekies en in Engels vertaal is.

Maroela Media het vroeër berig die Ingrid Jonker L’ Art Poétique-digkompetisie én die Croyez- literêre toekenning is op die been gebring om blootstelling aan opkomende digters en skrywers te gee.

Die Ingrid Jonker L’ Art Poétique-digkompetisie is vanjaar vir die eerste keer aangebied en is die geesteskind van Zalman Davis, ʼn skrywer en digter van Sasolburg. Davis sê dat hy deur dié kompetisie graag ʼn kans vir opkomende digters wil gee om ʼn voet in die deur van die bedryf en hul werk gepubliseer te kry. Hy wil terselfdertyd ook verhoed dat wonderlike gedigte en verhale verlore gaan.

Simone Garcia Marques, Ingrid Jonker se dogter, was hoofbeoordelaar van die digkompetisie en het ook Saterdagaand die gala-geleentheid bygewoon.

Nog ʼn hoogtepunt van die aand was die bekendstelling van ʼn splinternuwe Ingrid Jonker-digbundel, Waterfall of moss and sun. Dié bundel bevat 50 van Jonker se gedigte wat noukeurig deur Simone gekies en in Engels vertaal is. Die bundel bevat ook skaars foto’s van Jonker wat nog nooit voorheen nie of nog bitter min gepubliseer is. Boonop word die bundel ook saam met ʼn CD uitgegee waarop die enigste vyf voorlesings is wat Jonker ooit self gedoen het.

Inskrywings vir die 2020- Ingrid Jonker L’ Art Poétique-digkompetisie sal van 1 Januarie tot 30 April volgende jaar oop wees. Vir meer inligting, stuur ʼn e-pos na [email protected].

Dié insetsel is deur eNuus vervaardig. Kyk elke aand om 19:00 op kanaal 144 en 145 op DStv na eNuus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ansie ·

Ek as die stigter van PADLANGS Diggroep is vadag baie trots . Baie geluk aan Elna en Werner wat uit ons groep presteer het. Ook aan Zalman met die groot sukses van die galaaand.. Jy kan trots wees op jouself. Aan die wenner baie geluk. Zalman S Davis doen werklik baie vir nuwe opkomende digters. Dit was n eer om saam met hom te werk

Liezl ·

Ag nee…..ek het dit gemis…ek ook ‘n opkomende digter. Waarnatoe kan ek my gedigte stuur?

Driekie Grobler ·

Baie geluk aan al die wenners en baie geluk aan die samestellers van hierdie pragtige kompetisie en mooi boek.

Werner ·

Ek is bly daar is sulke geleenthede vir ons mense wat skryf in die taal wat ons so lief het. Mag Afrikaans net groter word

Carla van der Spuy ·

Ek is bitter trots op hierdie jong man se inisiatief. Dit was ‘n lieflike aand en mag die kompetisie vlerke kry en ‘n jaarlikse instelling word!

Mathys ·

Baie geluk Johan, my geesgenoot, leesgenoot en feesgenoot van my alma mater!

susan meintjes ·

GELUK JOHAN,KNAP GEDAAN.ASOOK AAN DIE TROTSE MOEDER MARIëTTE EN PA LOUW.
OUD FICKSBURGER OM OP TROTS TE WEES.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.