Waar was Wouter nóú weer?

wouter-opname-ateljee-2.jpg

Wouter saam met Johny Klein en Elana Barker besig met klankopnames. Hou die spasie dop, want een van die dae kan jy ook na artikels luister!

Wouter, Weet se uiters leergierige uil, was die afgelope paar maande weer die wêreld vol.

Voordat hy sy reistas kon pak, moes hy eers belangrike werk in Maroela Media se klankateljee afhandel. Saam met Johny Klein en Elana Barker het hy ure se interessante inligting opgeneem, sodat mense binnekort nie net alles wat hulle wil weet op Weet kan lees nie, maar ook na klankopnames daarvan kan luister.

Daarna het hy ʼn dag in die hof deurgebring, saam met Maroela Media se joernalis Janice du Plessis. Hy het al op Weet gelees oor die Grondwet en kinderregte, maar was so beïndruk met die hof en die opgetofde prokureurs dat hy net daar en dan besluit het dat hy eendag regte wil studeer en ʼn regter wil word! Hy gaan in die nuwe jaar sommer ʼn artikel oor regsgeleerdheid en ander loopbaanmoontlikhede op Weet skryf.

Ná die harde werk in die hof kon Wouter eindelik die pad Kaap toe vat. Hy weet baie dinge oor die Kaap, want Weet het hom alles geleer – van kolonisering en goewerneurs, tot Tafelberg en die Kaapstadse fietstoer. Gaan tik gerus die woord “Kaap” in Weet se soekblok, dan kan jy ook alles lees!

Op pad Kaap toe, moes Wouter darem by Wimpy stilhou vir middagete. Dit was nou nie bobotie of sosaties, of die ander eg Suid-Afrikaanse kos waaroor hy op Weet geleer het nie, maar dit was nog steeds baie lekker! Sy koffie het hy by die Elvisbrew-padstal by George gekoop.

By Knysna aangekom, het hy hom aan die groot geelhoutboom verkyk – dit is mos Suid-Afrika se nasionale boom – en die voëltjies in die Knysnabos beter leer ken. Hy was ook verbaas oor die verskillende diere wat op die Tuinroete voorkom.

Wouter verpes besoedeling en gooi altyd sy vullis in die vullisblik, net soos hierdie een in die woud. Dit maak hom baie hartseer dat daar meer klein stukkies plastiek in die see as wat daar sterre in ons sterrestelsel is. Hy het op Weet gelees dat, as ons aanhou om soveel rommel te strooi, daar in 2050 meer plastiek as visse in die see sal wees.

By die see gekom, het Wouter by Heroldsbaai gaan duik en vir ʼn rukkie ook sy lyf lewensredder gehou. Die water by Heroldsbaai is lekker koud omdat dit deel van die Atlantiese Oseaan is. Het jy geweet dat die Atlantiese Oseaan die wêreld se tweede grootste oseaan is? Dit beslaan sowat een vyfde van die wêreld se oppervlak!

Ná sy Kaapse draai het Wouter die kans gekry om in die sneeu te baljaar, toe hy saam met Maroela Media by Val d’Isére in die Franse Alpe was. Hy wou al in die bergkoninkryk Lesotho se sneeu gaan ski het, maar het nou sommer sy vernuf in Frankryk getoets. Wouter het besluit hy hou meer van vlieg.

Wouter gaan beslis in Desember nog ʼn paar interessante plekke besoek en sal jou in Januarie meer daaroor vertel. As daar plekke is wat jy dink Wouter by moet uitkom, of onderwerpe waaroor hy op Weet moet skryf, laat weet ons by [email protected].

Wouter voer ook ʼn plan in die mou om ʼn kompetisie van stapel te stuur vir die Weet-lesers wat sy reise volg. Hou hom dop in 2024!

Gaan loer gerus na Wouter se vorige wedervaringe!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.