Weet: Die nuwe Afrikaanse e-naslaangids vir leerders

het-jy-geweet-1.jpgʼn Splinternuwe Afrikaanse e-naslaanbron is vandag bekendgestel: die digitale skoolensiklopedie genaamd Weet. Dié inligtingsbron is boordensvol van alles wat ʼn leergierige Afrikaanse skolier wil weet!

Die Covid-19-uitbreking in 2020 het duisende kinders genoodsaak om skielik aanlyn skool te gaan. Dit het die behoefte aan goeie gehalte Afrikaanse inhoud op die internet duideliker as ooit na vore gebring. Tog is daar nie ʼn aanlyn Afrikaanse e-naslaangids gemik op skoliere nie.

“Die doel met Weet is om skoolkinders toegang te gee tot ʼn digitale naslaanbron met goeie gehalte, betroubare inligting in Afrikaans, aanvullend tot die skoolkurrikulum, wat hulle in staat sal stel om naslaanwerk vir skooltake en -opdragte in Afrikaans te doen,” verduidelik Weet se projekbestuurder, Petronel Fourie.

Weet het ʼn sterk onderwysfokus en alle inhoud in die e-naslaangids is relevant vir leerders, om sodoende by te dra tot Afrikaanse moedertaalonderrig op skool. Die teikenmark is leerders van gr. 4 tot gr. 7 vir fase 1, maar dit sal mettertyd uitgebrei word na hoërskoolleerders.

uil-foto-banier-01.jpeg

Weet se gelukbringer wat nog ‘n naam moet kry!

Weet se span bestaan uit ervare skrywers, navorsers en taalversorgers, asook kundiges op elk van die sewe vakgebiede wat deur Weet gedek word – Afrikaans, ekonomiese en bestuurswetenskappe, lewensvaardighede, natuurwetenskappe en tegnologie, sosiale wetenskappe, skeppende kunste, en wiskunde.

Weet is ‘n inisiatief van Maroela Media. Hoewel die skoolkurrikulum as basis vir Weet se inhoud gebruik is, verduidelik Maroela se uitvoerende hoof Susan Lombaard dat die hulpbron ook bykomende inligting bied om kinders se algemene kennis te verbreed en hul belangstelling te prikkel.

“Weet is nie net daar om jou skoolwerk te vergemaklik nie. Dit vul ook die gapings wat die kurrikulum dalk laat en gee verskillende perspektiewe op alledaagse kwessies. Weet wil kinders help om dieper te dink, verder te soek, meer te leer – en dit in verstaanbare taal, en in hul moedertaal, Afrikaans.”

Weet word ook deur die Afrikaanse gemeenskap gesteun, met vennote soos die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON), die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA), die Erfenisstigting, Akademia, die Vriende van Afrikaans en Kraal Uitgewers wat die projek ondersteun.

Volgens Fourie is die belangrikste doelwit om ʼn betroubare bron te wees wat die jongste, relevante inligting bevat om leerders op ʼn gebruikersvriendelike manier in Afrikaans te bemagtig.

“Die projek se visie is om volledige en betroubare inligting elektronies in Afrikaans aan laerskoolleerders beskikbaar te stel om die gaping wat daar tans bestaan, te vul. Verder moet dit kinders bemagtig om self navorsing vir take in Afrikaans te doen, op ʼn gebruikersvriendelike platform wat in voeling met hul behoeftes is,” voeg sy by.

weet-logo-5-03-scaled.jpgOm hierdie doelwit te bereik, het Weet se span die skoolkurrikulum as raamwerk gebruik om onderwerpe vir artikels te identifiseer. Ná behoorlike navorsing is inhoud gegenereer om die gapings te vul. Die artikels is dan deur kundiges gemodereer om gehalte en betroubaarheid te verseker, en deur taalversorgers nagegaan voordat dit op die elektroniese platform gepubliseer is. Die bronne wat vir die verskillende artikels gebruik is, is telkens met voetnote aangedui.

“Deur duidelik te wys watter bronne ons gebruik het, gee ons geloofwaardigheid aan ons inhoud. Enige gebruiker kan die bronne nagaan en self evalueer. Die publiek kan ook nie aan die inhoud verander nie – sodoende glip daar nie foute in nie. Kinders kan Weet met selfvertroue as bron vir hul take gebruik,” sê Fourie.

Elke kind wat moeg is vir swoeg en sweet, kan uitvind by Weet! Besoek die webwerf by weet.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Herman ·

Dankie, dankie en nogmaals dankie vir hierdie wonderlike idee wat tot uitvoering gekom het. Julle verdien elkeen ‘n Nobel-prys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.