Woelwaterbaba ʼn vreugde ná swangerskapskok

Klein Richardt Kaempffer is 'n vrolike seuntjie en sy familie se hart se punt. (Foto: Verskaf)

Klein Richardt Kaempffer is ‘n vrolike seuntjie en sy familie se hart se punt. (Foto: Verskaf)

Van die dag dat ʼn ouerpaar uitvind ʼn baba is op pad, begin hulle drome droom vir die pienkvoet wat binnekort sy opwagting gaan maak. Nie net is daar ʼn magdom voorbereidings wat getref moet word en die opwinding van ʼn splinternuwe kleinding in die huis nie, maar die hoop op ʼn perfek gesonde babatjie is byna onvermydelik.

Vir Bianca en Richardt Kaempffer, ʼn egpaar van Pretoria, het die opwinding egter in ʼn wipwa‑rit van emosies en bekommernis ontaard toe hulle op 28 weke van swangerskap meegedeel is dat hul eersteling gebore sal word met ʼn defek – ʼn dubbele gesplete lip en verhemelte.

Waar klein Richardt jr. vandag op sy ma se skoot sit en glimlag by hul huis in Villieria, sal jy skaars kan glo dat dié 11-maande oue woelwaterseuntjie met ʼn dubbele spleet in sy lip en ʼn gesplete verhemelte gebore is.

“Die ginekoloog kon tydens die eerste paar sonars nooit klein Richardt se gesig sien nie, want sy handjies was altyd voor sy gesiggie,” verduidelik Bianca in ʼn onderhoud met Maroela Media.

“Hy kon toe ook nooit die lippie meet nie. Toe ons uiteindelik sy gesiggie kon sien op die sonar, het ek vir die suster gesê iets lyk nie vir my reg nie, maar sy het my probeer gerusstel en gesê dit is die naelstring wat voor sy gesig lê en hy druk sy gesig teen die plasenta.”

Bianca sê sy en Richardt was egter nie gemaklik met dié verduideliking nie en ʼn 4D-sonar het uiteindelik die egpaar se vermoede bevestig. “Ek was geskok toe hulle vir ons sê van die defek, maar Richardt het dit die swaarste gevat. Vir hom was dit baie, baie erg.”

Klein Richardt. (Foto: Verskaf)

Klein Richardt. (Foto: Verskaf)

Die egpaar se drome vir ʼn baba sonder enige probleme is verder aan skerwe gelê toe die dokter hulle meedeel dat dit lyk asof die spleet bilateraal, of ʼn dubbelspleet is, én dat dit lyk of die een spleet tot by klein Richardt se oog gaan. Die dokter kon gevolglik nie met sekerheid sê of sy oog sal ontwikkel nie.

“Dáár het ek ineengestort,” sê Bianca. “Ek het verskriklik gehuil. Ek het nie geweet watter kant toe nie. Ek het die fout by myself begin soek. Dit het my ʼn rukkie gevat, maar ek het besef dit bly my kind en hy is nou al so lank deel van my en ons het ʼn band gevorm. ʼn Mens kan dit nie net eenkant toe skuif omdat jy slegte nuus gekry het nie. Ons het ook besef dat ons situasie soveel erger kon wees, en dat ander ouers daar buite baie swaarder kry as ons.”

Sy vertel die dokters het begin navorsing doen om vas te stel wat moontlik tydens die swangerskap die defek kon veroorsaak het. “Ek was vroeg in my swangerskap baie siek met ʼn verkoue en het slegs die veilige medikasie was deur die ginekoloog aanbeveel is, geneem. Die virus het egter nie net vir my siek gemaak nie, maar het ook vir klein Richardt aangetas.”

Slegs 'n paar dae ná sy geboorte, het klein Richardt 'n korrektiewe plaatjie ontvang. (Foto: Verskaf)

Slegs ‘n paar dae ná sy geboorte, het klein Richardt ‘n korrektiewe plaatjie ontvang. (Foto: Verskaf)

Daarna het Bianca en Richardt besluit om geen meer mediese opinies in te win nie. “Ons het besluit om dit van daar af te hanteer soos wat dit kom. Vandag voel ek dit was ʼn baie goeie besluit, anders sou ons dalk van ons koppe af geraak het van al die bangmaakstories.”

Bianca kon nie normaal kraam nie, aangesien dokters bekommerd was dat Richardt jr. se lippie verder sou skeur as daar te veel drukking daarop geplaas word, en Richardt moes deur ʼn keisersnit in die lewe gebring word. Sy bieg dat sy baie bekommerd was oor die geboorte.

“Nie nét oor of al die mediese personeel op die regte plekke en tye beskikbaar gaan wees nie, maar ek was ook bekommerd oor hoe ek gaan voel as hy eers gebore is. Gaan ek hom verwerp? Gaan hy my verwerp? Hoe erg gaan sy defek wees – gaan hy kan eet en drink?

“Daar is sóveel goed wat deur jou kop gaan. Al het ek my hart daarop gesit om normaal geboorte te skenk, moes ek ter wille van my kind die keisersnit aanvaar en het ek vir die dokter gesê al gaan ék dood op daai tafel, my kind moet net veilig wees.”

Op ʼn Maandagoggend in Maart is hul gesonde, 3,06 kg-seuntjie by die Netcare Montana-hospitaal gebore deur middel van ʼn keisersnit. Sy oog het tot die egpaar se uiterse dankbaarheid perfek ontwikkel, maar die splete in sy bolip was duidelik sigbaar en sy verhemelte het ook nie ontwikkel nie.

Die Kaempffer-gesin. (Foto: Verskaf)

Die Kaempffer-gesin. (Foto: Verskaf)

Bianca kon nie soos ander mammas haar baba vashou direk ná sy geboorte nie en kon hom eers die volgende dag sien. Die egpaar het ook nie foto’s van hulle as gesin saam na die geboorte nie.

“Hulle moes hardloop met hom, want as gevolg van sy lip en verhemelte wat oop was, kon ek hom nie borsvoed nie. Hulle moes hom in die hospitaal voed. Hulle het hom net vir my gewys en al wat ek van sy eerste oomblikke kon onthou, is sy lippie, want al wat ek wou doen was om te sien hoe erg dit is.”

Richardt jr. was skaars vier dae oud toe hulle hom uit die waakeenheid moes teken en by die mond-en kaakafdeling van die Steve Biko-hospitaal aanmeld vir sy eerste korrektiewe plaatjie. Ondanks die feit dat die egpaar ʼn mediese fonds het, het hul pediater hul aangeraai dat die mond- en kaakafdeling by dié akademiese staatshospitaal die beste toegerus en bekwaam is vir dié gevalle.

In sy kort lewe het klein Richardt reeds twee korrektiewe operasies ondergaan en sal hy eersdaags die derde een ondergaan.

Klein Richardt voor sy tweede operasie. (Foto: Verskaf)

Klein Richardt in vrolike luim voor sy tweede operasie. (Foto: Verskaf)

“Op vyf maande het hulle die sagte verhemelte en helfte van die harde verhemelte reggemaak. Op sewe maande het hulle die ander helfte van die harde verhemelte en sy lippie geheg. Dit het my hartseer gemaak, want ek het geweet my kind gaan nooit weer so breed glimlag nie. Ek het geweet ek gaan daai gesiggie vreeslik mis en ek het begin wonder of ons die regte ding doen, maar Richardt het my gerusgestel dat ons medies gesproke die beste vir ons kind doen.”

In Mei vanjaar word die voorpunt van klein Richardt se neus verleng en hy begin ook binnekort met spraakterapie om sy suigaksie te oefen en sy spiertjies sterker te maak. Hy drink ook met spesiale bottels wat verhoed dat hy nie so vinnig moeg raak wanneer hy drink nie. Hy sal ook later in sy lewe ortodontiese chirurgie moet ondergaan.

Vir die Kaempffers is dit belangrik dat ander mense hul kinders moet opvoed oor mense met defekte. “Vra eerder as jy wonder. Ek onthou die eerste keer wat ons as gesin by ʼn restaurant gesit het, voor hy sy operasies ondergaan het, hoe twee mense by ʼn tafel oorkant ons sonder skaamte oor klein Richardt geskinder het. By ʼn ander plek het ek gesien twee mense kyk vir ons, en die vrou vra my toe prontuit: “Wat is fout met sy gesig?”

Klein Richardt soos wat hy vandag lyk. (Foto: Verskaf)

Klein Richardt soos wat hy vandag lyk. (Foto: Verskaf)

Hulle lag nou daaroor, maar aanvanklik was dit moeilik om dié reaksie teenoor hul kind te aanvaar. “Dit is beter as mense openlik daaroor uitvra, want dan gun hulle jou die geleentheid om te verduidelik. Ons het vir die vrou verduidelik dat dit ʼn haaslippie is, soos ouer mense dié defek ken, en hulle het dadelik daarmee empatiseer.”

Sy benadruk dat mense onkundig is oor ander mense se defekte. “Mense leer nie hulle kinders dat hulle nie maats by die skool moet spot nie. Dit was van sy geboorte af een van my grootste vrese, dat hy gespot gaan word. Ek gaan vir klein Richardt leer dat hy ʼn defek gehad het, en hy gaan altyd die merkies hê, maar dit maak hom ʼn unieke persoon en dit is wat jou maak wie jy is.”

Sy voeg by dat ouers wat in dieselfde situasie is, nie moed moet verloor nie. “So snaaks soos dit klink, wanneer die beproewing verby is, mis ʼn mens dit. Dit is belangrik dat mense onthou daar is hoop en al lyk dinge hoé erg, dit is herstelbaar, al voel die pad soms lank.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

26 Kommentare

jongste oudste gewildste
Leana

Wat ‘n verhaal van hoop. Dit gee ‘n mens sommer ‘n warm gevoel om jou hart. Hy is pragtig!

Eish

Hy is n pragtige seuntjie!

Jo

Hy is baie Spesiaal. Ek is opreg dankbaar dis net sy gesiggie. Ek is ook so gebore, ek het net al die ander effekte ook, EEC Sindroom. My seun was egter baie erger, hy is oorlede op 3 maar terwyl hy hier was, was hy n vreugde. Hy was onder Brutow by Pretoria Wilgers Hospitaal. En ja, toe is hy net een aand weg, tenminste het hy nie meer pyn om deur te gaan nie, hy rus sag. Ek is gelukkig getroud, twee pragtige kinders en twee pragtige kleinkinders en ek werk. Altyd geworry wat dink mense van my, no… Lees meer »

CK

Ag kyk hoe mooi lyk die mannetjie. Nog vele operasies wat voorlê vir hom en sy ouers. Ek self ook een en daai jare was daar nie die tegnologie van vandag nie. Wees sterk en berei hom voor vir baie hartseer by kinders wat hom gaan spot. Jesus sal hom beskerm.

GM

Hy lyk te pragtig. Ek sien nie eers die merkies raak nie. Bio-oil, tea tree oil ens. sal gou klaarspeel met ligte merkies as dit die ouers pla, maar eerlikwaar, die outjie lyk vir my na ‘n vrolike enetjie wat sommer baie gou in mense se harte sal kruip.