Die krag van ʼn pleegma: ‘Ons sal nooit opgee nie’

Argieffoto

Haar blik flits soekend oor die bedrywige koffiewinkel in Pretoria waar ons mekaar ontmoet. Sy waai en glimlag vriendelik wanneer ons oë oor die gedruis van stemme en klink van koppies ontmoet. ʼn Stomende cappuccino staan reeds voor haar en sy lyk kalm en selfversekerd – asof sy haar geestelik voorberei het om vandag meer oor haar onvoorsiene lewensreis met ʼn vreemdeling te deel.

Sy is nie ʼn heldin nie, val Carien* met die deur in die huis. Ook nie vreesloos nie. Om opgehemel of geprys te word, is die laaste ding wat sy wil hê. Sy het immers baie min van Jaco* se verlede geweet toe sy en haar man ingestem het om die seuntjie net vir die vakansie uit die kinderhuis te neem. Maar sy is wel bereid om vandag haar storie te vertel sodat ander meer oor die uitdagings, die slaggate en die vreugdes van pleegouerskap te wete kan kom.

Carien en haar man het in 2014 by die kinderhuis betrokke geraak waar Jaco, toe vyf jaar oud, en sy sesjarige boetie gebly het. Carien sê sy het dié betrokke dag die twee seuns ontmoet, maar hulle was net twee van die talle gesiggies met wie hulle gesels en gespeel het. Nooit sou sy kon weet hoe dié seuntjie uiteindelik hul lewe sou verander nie.

Sowat agt maande later het Carien ʼn boodskap van die kinderhuismoeder gekry wat gevra het of sy en haar man dalk belangstel om betrokke te raak as vakansie-ouers. “Daar is kinders vir wie dié kinderhuis-situasie permanent raak, kinders wat daar bly tot hulle 18 jaar oud is en nooit weer teruggaan na hul biologiese ouers nie. Die kinderhuispersoneel probeer om dié kinders ʼn groter ervaring te gee deur hulle vir vakansies by mense te plaas.”

Sy vertel hulle het foto’s gehad van die kinders wat hulle daardie dag by die kinderhuis besoek het, onder wie die twee boeties. En toe laat weet hulle, dis Jaco wat sal kom kuier. “Toe sy vir my sê dis hý, was ek klaar lief vir hom.”

Carien sê sy en haar man het dadelik gevra of hulle vir Jaco én sy boetie vir die vakansie kan inneem, maar die kinderhuis het dié versoek geweier. Weens die kinders se spesifieke omstandighede wou hulle juis die twee boeties skei en was dit dus net Jaco wat ʼn ruk later saam met Carien en haar man op ʼn daguitstappie gegaan het.

“Jaco was baie stil. Baie opgewonde, maar baie skaam en op sy plek. Ons kon sien hy probeer om ʼn goeie indruk te maak. Hy het die aandag opgevreet. Hulle almal vreet die aandag op. Dit is eintlik so hartseer.”

Later is Jaco toegelaat om langer by die egpaar te kuier. Daar wás aan die begin trane, sê Carien, maar Jaco het gou gemaklik geraak en al meer uit sy dop gekruip. Einde 2014 het Jaco die hele Desembervakansie by hulle deurgebring. “Ons het reeds belanggestel om as pleegouers vir Jaco te dien, maar het nie geweet hoe ons te werk moet gaan om dit te doen of presies wat dit alles sal behels nie.”

Januarie 2015 is Jaco terug kinderhuis toe en Carien en haar man het begin met die proses om sy pleegouers te word. Dit was nié ʼn vinnige of maklike proses nie – vraelyste, aansoekvorms, getuigskrifte, finansiële state, tuisinspeksies, onderhoude, pleegoueropleiding, ontmoeting met Jaco se biologiese ouers … en uiteindelik weke later ʼn grootoog Jaco wat met sy tassie by die voordeur instap.

Jaco en sy broer is by hul ouers weggeneem omdat hulle verwaarloos is en hul ouers nie in staat was om vir hulle te sorg nie. “Ek het verwag om kwaad vir sy ouers te wees. Ek het my voorberei vir ʼn gevoel van woede wanneer ek hulle ontmoet. Maar toe ek hulle ontmoet, het ek hulle eintlik net jammer gekry, veral sy ma. Hier sit ek met hierdie seuntjie vir wie ek klaar lief geword het en ek wil net die beste vir hom gee. En hier sit sy ouers, sy ma het lewe geskenk aan hom en hulle kan nie by hom wees nie.”

Wéér het Carien en haar man aangebied dat Jaco se boetie saamkom; weer is die versoek geweier. “Jaco se ouers was nie gelukkig oor ons nie. Veral sy pa was baie besitlik oor sy kinders; daar is baie lelike goed op sosiale media gesê. Hulle het gesê ons vat hul kind weg.”

Jaco is toegelaat om een keer ʼn maand by die maatskaplike kantoor met sy ouers te kuier. Volgens Carien moes dié besoeke eintlik onder toesig geskied het, maar daar was nie deurentyd ʼn maatskaplike werker teenwoordig nie.

Ongeveer drie maande nadat Jaco in hul pleegsorg geplaas is, het Jaco se boetie vir die naweek kom kuier. En dit is toe dat die seuntjies se donkerste geheime aan die lig kom.

“Ons was in die kar toe Jaco se broer ʼn onvanpaste opmerking van ʼn seksuele aard maak. En Jaco lag. Ek het vir hulle gesê ons praat nie so in hierdie huis nie. Ek het nie geweet hoekom hulle dit sê nie. Ek het net gedink dit is iets wat die boetie by die skool geleer het,” sê Carien.

Daardie aand was Jaco en sy broer saam in die bad terwyl Carien se man die kinders gebad het, toe Jaco onverwags ʼn seksuele gebaar teenoor sy broer maak. ʼn Rooi vlag het vir die egpaar opgegaan. Dit was egter eers die Sondag dat hulle dit sou hoor.

Jaco se broer het aan Carien vertel wat by sy ouerhuis sou gebeur as hulle stout is. Hy het gewys hoe hulle geslaan en gewurg sou word, in die bad gesit word met die kraan oor hulle oopgedraai en in ʼn kas toegesluit word.

En dit is toe dat Jaco vertel van die beweerde molestering deur hul pa.

Alles het nie gelyk uitgekom nie, sê Carien. Oor die volgende ses maande het Jaco al meer vertel waardeur hy en sy boetie is. Bewerings van verkragting en seksuele misbruik, die betrokkenheid van vreemde mans, ander ooms wat geld betaal en ʼn videokamera**. Bewerings wat Cariena en haar man tot in hul diepste wese geruk het.

Sedertdien was hul lewe ʼn warrelwind van polisieverklarings, sielkundige evaluerings, hofverskynings en getuienisse. Drie jaar later sleep die hofsaak steeds voort. Drie jaar later kon Jaco steeds nie behoorlike intensiewe traumaterapie ondergaan om dié trauma te begin verwerk nie aangesien die hofsaak nog nie afgehandel is nie en ontlontingsterapie sy herinnering en getuienis van die dade kan beïnvloed.

“Toe ek ongeveer twee jaar terug onverwags swanger raak, het ek en my man vir die eerste keer bekommerd geraak oor hoe Jaco se agtergrond ons biologiese kind kan bedreig,” erken Carien. “Jaco en sy boetie is gedwing om seksuele dade op mekaar uit te voer; watter verbintenis sou Jaco dalk met sy nuwe boetie maak?”

Dié vrese het Cariena en haar man net so vir God oorgegee. “Net soos wat ons oor Jaco se pad gebring is, net so het God besluit dat hy dan ʼn boetie moet hê. Sodat Jaco kan sien hoe dit eintlik moet wees, sodat hy kan sien hoe ʼn huisgesin eintlik moet lyk. Dít het vir ons vrede gebring.”

En ja, erken Cariena, Jaco bied baie groter uitdagings as haar biologiese seun. Om die twee groot te maak is nié dieselfde nie, maak nie saak hoe graag sy wil hê dit moet wees nie.

“Jaco druk ons in dié stadium tot ons uiterste. Hy het gevorder van ʼn baie skaam, teruggetrokke seun tot ʼn voor-op-die-wa, sê-wat-hy-dink soort kind. Ek dink omdat sy pa sy wil weggevat het, wil hy nooit weer hê dit moet gebeur nie. Hy wil hê wat hy wil hê, maak nie saak of dit reg of verkeerd is nie. Hy wil nie gedwing word om enigiets te doen nie,” sê sy.

ʼn Pak slae is nie ʼn opsie vir Jaco wat ʼn geskiedenis van aanranding het nie. Om van sy speelgoed weg te vat, het ook nie juis ʼn uitwerking nie – Jaco is gewoond aan ʼn kinderhuislewe waar niks in elk geval syne is nie en waar alles gedeel moet word. Weens sy agtergrond van verwaarlosing, kan hy nie aangesê word om alleen in ʼn hoekie te sit as sy straf nie – die emosionele trefslag daarvan is vir hom net veel.

“Dissiplinetegnieke is bitter moeilik,” sê Cariena. “Ons probeer nou fokus op beloning vir positiewe gedrag, eerder as straf vir ongedissiplineerde gedrag.”

Maar handdoek ingooi is nie vir hulle ʼn opsie nie. “Vandat ons sy pleegouers geword het, vra mense vir ons, wanneer gaan ons hom terugvat? Wanneer gaan ons opgee, wanneer gaan dit te veel raak? Ons gáán nie opgee nie,” sê sy en haar oë skiet vol trane.

“Wat gaan van hom word as ons opgee? Ons is presies op die regte tyd oor sy pad gebring. As ons biologiese kinders gehad het toe ons Jaco gekry het, sou ons dalk opgegee het; sou ons dalk gedink het ons sien nie kans hiervoor nie. Maar ons het amper nie van beter geweet nie en was van dag een af hart en siel in hierdie ding.”

Ondanks hierdie uitdagings het die egpaar reeds met die proses begin om Jaco (nou 9 jaar oud) aan te neem en hom wetlik en amptelik ʼn lid van hul gesin te maak. Die aanneemproses is tans nog aan die gang, maar hulle hou aan vorentoe kyk en beplan vir die toekoms.

Om Jaco te verloor, sal dieselfde wees as om haar biologiese seun te verloor, sê Cariena. Sy kan geen onderskeid tref nie – Jaco ís haar kind.

Sy voeg by dat Jaco se verlede en die omstandighede buitengewoon moeilik is. “Ander sake is oor die algemeen makliker met pleegouers wat ʼn goeie ouerskapbalans met die biologiese ouers handhaaf. Ek wil nie hê ons storie moet ander mense afskrik nie.”

Sy haal diep asem voor sy voortgaan. “Een ding weet ek vir seker, so moeilik as wat dit sal wees om Jaco te verloor, sou ek eerder wou gehad het daardie verskriklike dinge moes nié met hom gebeur het nie. As dit wat met hom gebeur het, nooit gebeur het nie en sy ouers se omstandighede verbeter só dat hy moet teruggaan na hulle toe, sal ek nog steeds eerder dít verkies as dat Jaco by ons bly met die trauma waardeur hy is. Ek sal altyd eerder kies wat vir hom die beste sal wees.”

Sy bly ʼn oomblik stil en kyk soekend na buite asof sy die regte woorde daar êrens in die parkeerterrein sal vind. “Al wat ek kan dink, is dat daar ʼn rede moet wees hiervoor. Dit is hoe dit bedoel was om te wees. Hierdie kind met alles wat hy deurgegaan het en die ondersteuning wat ons vir hom kon gee en steeds bereid is om te gee … ons is gekies vir mekaar.”


*Skuilname word gebruik om die identiteit van die pleegouers en die kinders te beskerm.
**Jaco se pa staan tans tereg op verskeie aanklagte, waaronder verkragting, seksuele aanranding, seksuele uitbuiting van ʼn kind, aanranding en kinderverwaarlosing. Die saak sal in Desember weer hervat word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Potties ·

Arina ek weet presies hoe dit voel ek en my vrou is ook pleeg ouers van n boetie en sussie vir amper 3 jaar die boetie het ook lelike dinge al gesien in sy lewe hy is amper 7 kan net vir jou jou se sterkte.

Anoniem ·

Ek was ook n pleegouer vir 7 jaar en die maatsjaplike werker het nie haar werk reg gedoen nie toe verval die hofbevelle rn fie ma vind uit en kom gryp.die kinders met m groot baklei en vloek en skel . Haglike omstandighede

Elize ·

Sterkte aan julle. Ek het ongelukkig nie die persoonlikheid om sulke gedrag in my lewe toe te laat nie

VanAfrika ·

Ek stem ook nie saam dat die boeties geskei moet word nie, die een kry n huis en die ander bly agter in die tehuis. Neem hulle altwee aan en leer hulle daar is sekere maniere waarop boeties en mense aan mekaar mag vat en sekere maniere nie. Maar moet hulle nie skei nie. As dit vir julle moeilik is om altwee aan te neem moet hulle dan glad nie aan neem nie of moenie een van hulle aan neem nie.

My mening ·

Jy weet nie wat die omstandighede is en of die kinderhuis nie dalk besluit het dat die boetie nie aangeneem kan word nie. Hierdie mense doen baie meer as die meeste van ons in omstandighede wat nie een van ons regtig kan begryp nie. Moenie hulle kritiseer en voorse, tensy jy bereid is om te doen wat hulle doen nie.

VanAfrika ·

My mening, hou jou dan by jou mening. As dit nie was vir baie van hierdie kinderhuise nie, het baie kinders nie nodig gehad om 50 jaar later hul ouers te soek nie. Nou wil hulle twee boeties skei, ek stem nie saam nie, maak nie saak wat hul omstandighede is nie, hulle kan saam hervorm word want hulle is nog jonk en hulle verdien om saam groot te word en beter herinneringe te bou. Nou gaan net een boetie foto’s hê saam met n vreemde familie, geen foto’s meer saam met sy boetie nie. Geen kinder stories oor hoe hulle kleilat of tok-tokkie gespeel het nie. Herinneringe aan vakansies en kersfees saam. Hulle gaan nie die geleentheid he om mekaar te leer fiets ry nie. Vir die een boetie gaan n familie en n sprokie gestig word, die ander enetjie gaan elke aand en naweek eensaam in sy bedtjie in die tehuis spandeer op die hoop dat iemand ook vir hom lief sal word. Dis absurd!!!! Dis nie vir jou of enige iemand om te besluit dat hulle geskei moet word nie. Deur sulke besluite het ek nooit my pa geken net omdat ander gedink het dis beter dat nie ek of my broer of my oorlede suster hom moet ken nie. Teen die tyd toe ons hom opspoor, toe is hy al jare terug oorlede tot my spyt. Partykeer moet mense ook net verder dink as wat hulle neuse lank is.

Mickey ·

Van Afrika, vandat ek jou kommentaar gelees het bly jy in my gedates.

Ella ·

Al wat ek kan bydra is: sterkte en ek loof julle dapperheid en moed.
Wat maak ons ouers met ons kinders wat n geskenk van Bo is? Ons wat verkeerd optree sal nie ongestraf bly nie, glo ek.
Ek sal stapelgek word as my twee kleinkinders so-iets oorkom.
Mag julle antwoorde kry.

Anoniem ·

Vriende van ons het ‘n dogter in pleegsorg geneem toe sy 11/12 jaar oud was. Ook weggeneem by die ouers agv seksuele dade teenoor haar en ‘n kleiner sussie. Vandag is sy al klaar met matriek en self die mamma van ‘n dogtertjie. Ongelukkig kan sy ook nie emosioneel of finansieel vir daardie kind sorg nie. My eintlike punt is, nie sy of die kleiner sussie kon berading/terapie kry voordat die hofsaak afgehandel was nie. En raai wat, dit is eers afgehandel NADAT sy matriek geskryf het. Ons regstelsel en maatskaplike werkers faal kinders wat deur daardie trauma gaan. Hulle moet hulle self begin regruk en die werk doen wat hulle veronderstel is om te doen. Dit help veel jy neem kinders uit sulke omstandighede, en hulle leer nooit om dit te verwerk nie.

Nettie ·

As die ontlontingsterapie die kind se vermoë om gebeure korrek aan te haal en te getuig, kan die kind mos vooraf getuienis lewer en dit opgeneem word, my maggies!

Intussen beur dié arme kind voort en word hy en sy biologiese boetie van mekaar geskei gehou (dink aan die trauma wat die arme boetie wat in die kinderhuis moet agterbly, deurgaan) a.g.v. van “red tape” wat die proses vertraag.

En terwyl die hofsaak voortsleep – sekerlik a.g.v. ‘n tekort aan ‘n toegewyde maatskaplike werker, wat nie verslae of ander dokumentasie nie op die gegewe tyd indien by die hof nie – sukkel ‘n gesin om te funksioneer soos ‘n normale gesin en hierdie kind ‘n normale lewe te gee waarin hy goed in die gesin aanpas en reggemaak word vir ‘n volwasse lewe.

Blommie ·

Sjoe dis hartseer, veral omdat jou hart op die regte plek is…
Ongelukkig is dit bitter moeilik om n kind te herstel wat sulke diep skade gely het.
My hart breuk oor hierdie storie en kan nie eers dink waardeur die mamma moet gaan nie.
Wat my kwaad is hoekom was hierdie seun se omstandighede nie vooraf deur die kinderhuis met die pleeg ouers bespreek om n oop besluit te kan maak nie. Ek weet julle sal enige iets vir die kind doen en hy verdien dit, maar ek sal altyd bang wees dat hy uit gewoonte iets met my biologiese kind sou doen. nie omadat hy wil nie. Maar omdat hy so groot geword het en hy sy hele lewe geglo het as klein seuntjie dis reg. Dit maak my woedend, Maar ek bid en glo dat hy heeltemal sal geneus van al hierdie skade wat sy ouers aan hom gedoen het. Sterkte

Alta ·

Ons was gelukkig om ons twee pleegkinders aan te neem. Sus is nou 19 (gekry op 2) en kleinboet is nou 11( gekry op 3 maande). Hulle is nie familie van mekaar nie. Hierdie is ‘n lang eensame pad met baie probleme. Beide kinders het geweldige skade en pas bv nie in gewone skole nie. Ons ruil hulle vir niks. Daar is geen onderskeid tussen hulle en ons eie biologiese dogter (30 jaar oud) nie.

Lola ·

Hello Alta, so dus het jy jou aanneem kinders gekry voor hulle vormings jare? Ek het ‘n dogtertjie en het so baie al daaraan gedink om ook ‘n maatjie aan te neem vir vakansies ens en dan later permanent, maar ek is nie jy nie. Ek weet dit nou. Ek admireer julle geweldig. Jy het meer liefde in jou as die allerdaagse persoon waarvan ek duidelik nou een is.

Anoniem ·

Ek het met my eie oë gesien hoe 2 stukkende pleegkinders (nie verwant aan mekaar) by ‘n vriendin en haar man weer heel raak. Alles kan nie 100% herstel word nie, en dit vat jare lank, maar dit kan vir daardie kinders BAIE beter word as wat dit was.

Wees sterk en hou moed. Die Here stap die pad saam met julle.

huismoeder ·

ons was huis-ouers by ‘n bekende Kinderhuis in Pretoria. Ek het groot geword met pleegsorg kinders in ons huis. Dis gebroke kinders wat liefde soek. dis hoe God ons gemaak het…om liefde te wil hê. al wat ek vir jou Arina en jou gesin wil sê is DANKIE dat julle bereid is om ‘n gebroke lewekie te probeer herstel en hom te wys wat liefde en ‘n gesin is. daar is soveel gebroke grootmense daar buite wat net nooit die kans gehad het om te herstel van dit wat aan hulle gedoen is nie. dankie vir julle!!!

Piet Pompies ·

Dit is wonderlik om te sien dat daar sovel puik mense bestaan wat bereid is om hulle eie tyd en kennis te gebruik om verlore en stukkende kinders heel te maak vir ‘n beter toekoms.
Ons is self pleeg ouers vir 6 jaar, gelukkig is die kind van geboorte af by ons en daar was geen wonde om te genees. Ons liefde vir die kind is groot, die grootword mylpale het ons saam met hom ervaar, die val en seerkry, opstaan en aangaan, grappies, speletjies, opsit met ‘n siek kind, vakansie met rooimier, sandkastele bou, tuinwerk, drukkies, stories lees en vertel.
Eendag moet ons hierdie deur agter ons toemaak as hy terug gaan na sy ouers toe… dit gaan nie maklik wees nie.

Nog 'n pleegouer en aanneemouer ·

Dit is harde werk om ouer te wees en nog meer harde werk om pleegouer te wees. Verligting is om aanneemouer te word en daarna vir die finale toets wanneer die kinders hul biologiese ouers ontmoet. Gaan hulle die nuwe ouers aankleef en jou vergeet of ‘n gebalenseerde verhouding he met altwee stelle ouers? Baie beradingkostes is al aangegaan en net 2% van kinders wat uit moeilike omstandighede kom het al berading ontvang.

Nelia van Zyl ·

Arina , baie sterkte aan jou en jou man. Ons kan net vir julle bid. God seën julle in hierdie grootse taak.

Anoniem 2 ·

Ek was ook in pleegsorg sonder my sibes, vandag is ek 30 en is soms nogsteeds kwaad, ongelukkig en wonder baie oor hoe dit sou wees saam my sibbes… vandag is daar geen verhouding tussen ons nie… Jy verlang na iets wat nooit daar was nie… Dit was nie die pleegouers se skuld nie, ook nie myne nie.. Soms kan dit net nie anders as om sibbes te skei..

Gertus ·

Ons het 7 jaar terug 2 kleintjies boetie 18 mnde en sussie 2 jr 6 mnde in pleeg sorg geneem. Eers vir 6 mnde by ons in plek van veiligeheid en daarna pleegsorg tot ons hulle kon aanneem. Wanneer jy kinders in neem ongeag hulle ouderdom weet jy slegs van die verlede wat die biologiese ouers jou van hulle vertel. Jy sal later deur die kinders die RES uitvind. Ek kan ongelukkig nie hier uitbrei oor wat alles in ons dogter se eerste 2 jr 6 mnde van haar lewe by haar ouers gebeur het nie. Van die goed het al begin toe sy ‘n baba was. Elke kind is uniek en moet dus so benader word. Elke kind verdien liefde maar op die regte manier. Ek se altyd moenie kinders in pleegsorg neem of aanneem as jy nie bereid is om hulle lief te he soos jou eie kinders nie. Dit is nie hulle skuld dat hulle ouers nie vir hulle kan sorg of hulle mishandel het nie. Daar is ongelukkig baie kinders daar buite wat smag na ‘n ouerhuis waar hulle ook ‘n gesin kan wees soos die maatjies by die skool. Ek het begin om ‘n boek te skryf oor ons lewe met ons kinders en hopelik sal dit eendag meer lig kan werp op pleeg en aanneem kinders.

Empatie ·

Arina, ek verstaan uit ervaring. Ek sal die boek ‘The Whole Brain Child’ aanbeveel. Bietjie navorsing oor Therapeutic Parenting en Sensory Integration het ons ook gehelp.

Aanneming ·

Ek haal my hoed af vir sulke mense. Ek het dit ook op ‘n tydstip oorweeg maar is te veel van ‘n emosionele persoon vir dit. Ek sal hulle permanent jammer kry en dis nie hoe om hulle dissipline en verantwoordelikheid te leer nie. Sterkte God seën mense soos julle. Ek glo dis nie altyd maklik nie.

Net Menslik ·

Pleegma al vir amper 10jaar, met n boetie en n sussie, Het hulle ook op n jong ouderdom gekry, maar boetie was al klaar n bietjie van n rebel reeds. Met my welsyn beamptes, toe, het ek net lof, hulle het ver uit hul pad gegaan en selfs privaat sielkundiges gevra om gratis ons te sien. Baie trane, en bid het die, Here ons genadig gehelp, , Albei van hulle was eerder geestelik mishandle, , as ek naby haar gekom het, dus dink ek die mamma het haar dalk iets aangedoen, met n mans person is sy gemaklik, kan net getuig, van sielkundiges , sien Moet ons ook nooit uit die oog verloor, tenspyte van mishandling, moet daar ook na beide ouers se agtergrond ook gekyk word, so het ons na 5 jaar, agter die kap van die byl gekom , hoekom seun sekere goed gedoen het en sy algemene optrede, Nadat oorsprong behandel is, het hy n mens geword, en die problem begin verdwyn. Vandag kan ek met alle eerlikheid se, leier in skool., goed aangepaste kind vir die samelewing, baie vriende, dan net soms, kom die verlede uit, en dit is merkbaar aan sy gedrag en manier van goed doen, Gelukkig het sussie niks oorgehou nie, en is n kleine dame, wat deur die lewe dans. En indien ek dit weer oor moes doen, sal ek dit weer doen, , saam met ons oorwin

Sussa ·

My boeta, net ouer as ek, en myself is in pleegsorg geneem na my ouers se sterftes. My oudste boeta is deur iemand anders in pleegsorg geneem. My ouers was sulke goeie mense wat te vroeg in hulle lewens oorlede is. Ek was 7 en my boetas 8 en 10 onderskeidelik. Die hartseer is dat dit in pleegsorg is waar ek seksueel, verbaal en fisies mishandel is en my boeta fisies en verbaal. Ek het vir baie jare bitter swaar aan my en Boeta se mishandeling gedra. Baie keur gevra wat het ons gedoen om dit te verdien? Maar met my dierbare man en pragtige kinders se liefde en ondesteuning kan ek sê dat ek nou vry is. Ek moet ook by sê dat familie is wat ons in pleegsorg geneem het. ?

Jan ·

Sussa. My hart breek vir jou. Koester daardie dierbare man van jou.

Mathys ·

Arina*. Sterkte vir julle. Ek en my vrou het baie onlangs n tiener kind in pleegsorg geneem. Ons situasie is heelwat anders. Ons het hom* reeds geken waar hy vir n ruk in pleegsorg by n vriendin van ons was. Hy het daar in pleegsorg ingegaan na sy een ouer oorlede is en die ander onbekend is. Ongelukkig was dit fiesies onmoontlik vir ons vriendin om met die pleegsorg voort te gaan en ons was bevoorreg om oor te neem. Ons het geen biologiese ouers of mishandelde geskiedenis om mee te stoei nie. Maar ons is bewus van die sielkundige uitdagings en aanpassings; pleegsorg is nie net “cut and paste” nie. Ek is bevoorreg om sielkundige opleiding te hê deur tersiêre opleiding, maar Youtube verduidelik konsepte baie goed indien jy die sielkundige kondisie kan identifiseer. Voorspoed en seëninge vir julle. Hou net aan julle Skepper se hand vas. Jesus sal lei.

Anoniem ·

Ek is in dieselfde bootjie. Foster al vir 6jaar. Hy is my lewe. Baie terapie nodig. Special needs, maar my lewe en ek offer met liefde als vir hom op. Hy sien sy ouers gereeld. Ek het sy ma gefoster vir 6jaar en nou haar seuntjie. God het hulle oor my lewe gebring en ek is my Vader ewig dankbaar. Hy is n plesier

Dina ·

Ons was ook pleegouers wat later aangeneem het. Om n beskadigde kind groot te maak is nie n grap nie. Dit het geweldige eise gestel aan ons gesin en veral ons biologiese kinders. Die skade kan nooit ongedaan gemaak word nie. Ek het gedink dat liefde en die Here wel n verskil sou maak, maar moes later besef dat gene n groot rol speel en dat emosionele skade nooit werklik genees nie.

Griet ·

Wat julle doen is absoluut bewonderingswaardig. Is daar dalk pleegouerondersteuningsgroepe waar mense by mekaar kan kersopsteek? Verder moedig ek die ouers aan om dissipline so vroeg as moontlik toe te pas en grense te stel. ‘n Kind sal gesonde dissipline en mishandeling kan onderskei van mekaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.