ʼn Dag van fantasieskepe, palmbome en okra

Son, see en seuns (Foto: Carina Stander)

Hierdie is deel 5 van ʼn gesinsreis deur Mauritius en Réunion deur Carina Stander. Lees deel 1, deel 2, deel 3 en deel 4 – Red

Wanneer mens vir jouselwers werk moet jy jou met ‘n ferm hand bestuur en met ‘n oop hand beloon, anders raak jy laks en slaap oppie job of jou siel rafel uit soos ‘n waslappie in ‘n vlugtelingkamp. Vir al die jare se geswoeg aan die skryf van my nuutste roman, Die Bergengel, het ek myself met ʼn navorsingsreis na Mauritius en Réunion beloon. My gesin reis saam en vandag is dit ons heel laaste eilanddag.

By Tamassa sluk ons glase komkommer-en-wortelsap weg om ons gewetes te sus ná al die sjokolade-pannekoek wat ons vir ontbyt verorber het. Dis bewolk, die wind pluk aan die palmbome. Vandag is die see onstuimig en gevaarlik mooi in Bel Ombre. Ons rits met ʼn bottergeel huurtjor verby blommende potplante op die stoepe van krotterige huisies, koes vir maer honde in die pad en swenk verby bont Hindoe-heiligdommetjies en mure van swart vulkaanklip. Ons giggel oor ʼn padstalletjie, so groot soos ʼn karavaan, met dié optimistiese naam: Royal Plaza!

Skeepsmodelle (Foto: Carina Stander)

Vir maande lank het ons seuns elke naweek ‘n dis van hul keuse uit die kinderkookboeke gebak en gebrou om ʼn welverdiende sakgeld te kon opspaar vir dié oorsese reis. So het ons tienjarige hoendersosaties ingeryg, herderspastei en beesvleisbredie gemaak terwyl sy sewejarige boetie pynappel-roomys, hawermoutkoekies en pampoentert gemaak het. Vroeg in die reis het hulle van die modelskepe gesien waarvoor Mauritius bekend is en summier besluit om hulle opgespaarde sjefgeld op niks anders te spandeer nie, net op só ʼn skip. Nie dat dit speelgoedskepe is nie, inteendeel, dis eerder erfstukke wat hulle vir altyd aan die wonderlike eilandreis kan herinner.

In ʼn vervalle straatjie ver weg van die toerismeroete en duur lughawewinkels, vind hulle toe ʼn skip wat hulle harte roer. Dis die handewerk van ʼn aangename Kreoolse man, Michael la Frans, wat deur die Departement van Landbou opgelei is in die bou van skeepsmodelle. Teen sy muur pronk sertifikate vir uitnemendheid en kwaliteit. Vir die afgelope vier dekades bedryf Michael ʼn klein familiebesigheid met vier werkers  – hy, sy vrou, suster en swaer.

Michael wys ons rond in sy netjiese werkswinkel sodat ons kan sien hoe die twee mans die houtstrukture van die skepe bou, terwyl die twee vroue die fyntjiese takelwerk vleg, die linneseiltjies met die hand stik en dit in tee doop om dit ʼn oudtydse voorkoms te gee. “Dit lyk soos ‘n museum!” roep ons sewejarige opgewonde en hy is reg. Hier is geskiedkundige skepe soos die Bounty, maar die seuns kies ʼn unieke fantasieskip: die boegbeeld is ʼn man wat op ʼn seeperdjie ry, daar is piepklein reddingsbootjies, rye gekerfte blomme, kanonne en vlaggies. Ek las geld by sodat hulle dit kan bekostig. Michael verduidelik dat dit sewehonderd uur geneem het om dié fantasieskip te bou. Ons vertel vir mekaar dat dit ons meer as sewehonderd uur se plesier gaan verskaf.

Klouterende kinders (Foto: Carina Stander)

Van hier af ry ons noord verby kranserige berge, piesangboorde, suikerrietvelde en mense wat die landerye bewerk. Sir Seewoosagur Ramgoolam Botanical Garden in Pamplemousses beslaan 37,5 hektaar.  Dit het begin as ‘n nederige groentetuin in 1735 en is as botaniese tuin gestig in 1767 –  die oudste in die Suidelike Halfrond. Vir ure aaneen wandel ons onderdeur die tagtig spesies palmbome –  koorspalms, waaierpalms, rafiapalms, suikerpalms, bottelpalms… Die bamboes is gebuig om groot tonnels te vorm waarin die seuns wegkruipertjie speel. Hulle klouter in ʼn enorme ranker en hol deur die rubberboom se hangende wortels. Ons stap oor ʼn ou klipbrug tot by kremetartbome uit Madagaskar en Victoria amazonica, die reuse waterlelies van die Amasone. Waterhoenders verwilder mekaar in die moeras en die visvanger jag vanaf ʼn lelieblaar.

Die pad tussen die botaniese tuin en Moka is industrieel en oninspirerend – McDonald, Kentucky, busse en toetende taxi’s. Die berge, hawe en wolkekrabbers herinner wel aan ‘n armer weergawe van Kaapstad.  Ons hou verby en mik reguit na ons bestemming hoog op in die sentrale plato: Eureka, ʼn historiese huis in Moka. Dié koloniale plantasiehuis is ʼn bykans perfek-bewaarde voorbeeld van die rykmanswonings wat in 1830’s in Mauritius gebou is. Die gesin wat toeka hier gewoon het, het sewentien kinders gehad. Deur die 109 deure stap ons terug in die geskiedenis. Die tyd staan stil in die hoë plafon, die ligblou mure, die dakkamers, die hemelsbed met wit linne, ʼn klavier met leeupote en gehawende klawers. In die badkamer is ʼn ovaalvormige marmerbad en op die bed is ʼn skinkbord met pootjies – ontbyt vir madame. Reg rondom die huis is ʼn wye kuierstoep met uitsigte op die berge. ʼn Kwartier se stap af in die vallei, en jy is by Ravin-waterval.

Kokosneutmelk by ‘n strandstalletjie (Foto: Carina Stander)

Laatmiddag swem ons by Flic & Flac. Dis allesbehalwe paradyslik of ongerep, maar wanneer die water nie troebel is nie, kan mens glo lekker hier snorkel. Ons jongste sit op die sonnige strand en bou ʼn katedraal van uitgespoelde koraal. By ʼn stalletjie moker ʼn vriendelike vrou vir ons twee kokosneute met ʼn panga en ons drink die melk met strooitjies.

Wanneer ons terugry, is daar ʼn konstante reënboog bo die berg. Dis droëer hier aan die weskus, dit herinner aan die Bosveld in die somer. Inderdaad is 1% van die eilandpopulasie oud-Suid-Afrikaners wat hulself hoofsaaklik aan die weskus vestig. Volgens New World Wealth is 21% van die eiendom wat afgelope dekade in Mauritius verkoop is aan Suid-Afrikaners verkoop.

Ons sluit die eilandreis af met ʼn aandete by Playa, die buitelug-restaurant van Tamassa. Die branders breek langs ons en die kerse flikker. Die servette is in die vorm van roosknoppies gevou. Nege disse word in familiestyl omgestuur. Daar is ʼn sterk Indiese invloed in die kos, maar die smake is uniek aan ʼn eiland wat trots is op haar Kreoolse kultuur. Ons eet vir die eerste keer ooit okra (wat ook abelmos en “ladyfinger” genoem word) en smul aan die visslaai, patatblatjang, tropiese vis en hoendermasala. Die poeding is gestoofde vars vrugte met roomkaramel en word in pynappel-halwes bedien.

Môreoggend sal ons terugvlieg na Suid-Afrika – die fantasieskip veilig verpak, die henna tatoeëerings op ons hande wat reeds verdof, ons gedagtes wat gloei van goeie herinneringe en my notaboek vol idees vir die opvolgboek in my trilogie.

REISRAAD

  • Suid-Afrikaners kan Mauritius vir drie maande sonder ‘n visum besoek.
  • Daar is oral kitsbanke op Mauritius. Dis maklik om met bankkaarte te reis (Visa, MasterCard).
  • Tropiese siklone is van Januarie tot Maart. April tot November is die see kalmer, dis steeds warm, maar nie drukkend nie. Wintertemperature is 18ºC – 24ºC. Die strande is stiller en verblyf is goedkoper (behalwe vir die Franse skoolvakansie vanaf vroeg Julie tot einde Augustus). Desember is dolbesig.
  • Hoe wonderlik die vakansieoorde ook al is, sprei jou vlerke en verken die eiland! Publieke vervoer is tydsaam en om getaxi te word, is duur: Huur ‘n kar vir die vryheid. Jy benodig ‘n internasionale rybewys.
  • Sir Seewoosagur Ramgoolam Botanical Garden (SSRBG) in Pamplemousses is een van die hoogtepunte van Mauritius. Dit is daagliks oop van 08:30 – 17:30. Ingang is Rs200 (+-R75) vir volwassene. Webwerf: Sir Seewoosagur Ramgoolam Botanic Garden
  • Besoek Eureka, die pragtige museumhuis in Moka. Maandae tot Saterdae, 09:00 – 15:30. Webwerf: Maison Eureka
  • Tamassa beteken “partytjie” in Kreools. Tamassa in Bel Ombre is ‘n uitstekende vakansieoord vir gesinne en verliefdes met ‘n swetterjoel gratis aktiwiteite soos kajak, waterski, snorkel en vaartes met die glasbodemboot, saffierblou swembaddens en natuurlik die strand. Skakel Island Light Holidays: 011 770 7821. Vonkpos: [email protected] Webwerf: https://www.tamassaresort.com/ of luxresorts.com
  • Dis ʼn drie en ʼn half uur lange vlug tussen Suid-Afrika en Mauritius. Air Mauritius is betroubaar. Direkte vlugte vanaf Johannesburg en Kaapstad. Vlugte in laagseisoen is aansienlik goedkoper. Skakel: 011 601 3900. Webwerf: Air Mauritius

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.