Gedagte vir die dag: Die Gees in jou

riete_rivier_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Julle is egter van God afkomstig, my kinders, en julle het hulle reeds oorwin omdat die Gees wat in julle woon, magtiger is as die gees wat in die wêreld woon. (1 Johannes 4:4)

Dalk is jy bang of alleen. Dalk weet jy nie hoe om die situasie waarin jy is, te hanteer nie. Ek het vir jou goeie nuus. As Jesus Christus jou Here en Saligmaker is, leef die Heilige Gees in jou, en Hy is groter as enigiets wat in die wêreld is.

Jare gelede het mense in Durban ons gekontak wat gevra het of ons kon omsien na ’n jong vrou wat ’n verslaafde was. Hulle wou gehad het sy moet na die plaas toe kom en tyd deurbring saam met Christene. Ons het ingestem, maar ons het nie ’n idee gehad waarvoor ons ons ingelaat het nie. ’n Paar weke het verbygegaan, en een aand het ek en my vrou en kinders al geslaap toe ek koeie in die tuin hoor. Ek het opgestaan en gesien iemand het die hek oopgelos. Ek het die koeie uitgejaag, die hek toegemaak en teruggeklim in die bed.

Die volgende oggend aan die ontbyttafel het ek haar gekonfronteer. Ek het gevra: “Was jy gisteraand uit?” Die jong vrou het in trane uitgebars. Sy het uitgegaan om mense uit Durban te ontmoet wat vir haar dwelms sou bring. Ek het gevra: “Het jy die dwelms gekry?” Sy het geantwoord: “Nee.” Die mense kon glo nie hulle voete op die plaas sit nie. Hulle het haar laat weet: “Daar skyn ’n helder lig oor Shalom en ons was doodbang, so ons is terug in Durban.”

Ek wil vandag vir jou sê: As Jesus Christus jou Here en Verlosser is, sal Hy jou beskerm. As God aan jou kant is, het jy niks om voor bang te wees nie.

Bron: Alles wat ek nodig het deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.