Gedagte vir die dag: Die Gees pleit vir ons          

see_vrou_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: Pixabay.com

Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. (Rom 8:26)

God gebruik my om die evangelie te verkondig. Die maklikste deel vir my, ek sê dit in alle nederigheid, is om op die verhoog of kansel te gaan staan, want ek hou daarvan om die goeie nuus te versprei. Die moeilikste deel is om my dierbare vrou en kinders te groet, lughawe toe te gaan en alleen daar te sit en wag op my vlug na waar ook al. Ek hou ook nie van gastehuise nie. “Maar dis vyfsterbehandeling!” sê jy. Ja, maar dis nie my huis nie. ’n Mens sit die hele dag daar en wag totdat dit tyd is vir die aand se byeenkoms. Dan gaan jy uit en verkondig God se Woord, bid vir dié wat siek is en aanskou die wonders.

Om op die water te loop, en ek sê dit met respek, is die maklike deel van die Christelike geloof. Die moeilike deel is die daaglikse sleur. Vir my is dit om ’n vlug te haal, in ’n gastehuis te sit en wag, om alleen te wees, weg van my familie. Dit is wanneer ek die krag van die Heilige Gees in my swakheid nodig het. Dit is in hierdie tye dat ek soms nie weet waarvoor en hoe ek behoort te bid nie. Ek hou altyd vas aan die belofte dat die Gees self vir my sal pleit met versugtinge wat nie in woorde gesê word nie.

Dankie, Gees van God, dat ek kan vashou aan u belofte dat U vir my sal pleit wanneer ek nie weet wat en hoe ek behoort te bid nie. Amen

Bron: Aartappelgeloof vir elke dag deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.