Gedagte vir die dag: Die goeie geveg

man_see_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, en ek het gelowig gebly. (2 Timoteus 4:7)

Baie mense sal vinnig vir jou sê dat die teëspoed wat ons in die lewe beleef, die gevolg van sonde in jou lewe is. As jy nie ’n rekordoes het nie, as jou beeste nie lekker vet is nie, as jy ’n lening by die bank moet kry, of as jou trekker breek, is daar ’n probleem met jou geloof, nie waar nie?

As dit die geval is, hoekom het Paulus, een van die grootste evangeliste ooit, gesê: “Ek het die goeie stryd gestry” Hoekom moes hy veg vir dinge as dit veronderstel is om so maklik vir ons te kom?

Ek glo die Woord van God, en ek staan daarby, maar ek is ook besig met die geveg van my lewe. En ek is vasbeslote om ten alle koste te oorwin. Ek wil ook soos Paulus aan die einde van my lewe kan sê: “Ek het gelowig gebly.” Ek lees graag biografieë en outobiografieë. Wat my telkens daarin opval, is dat elke persoon wat vir God werk, swaar gely het. Hulle het almal die goeie stryd gestry en die wedloop voltooi, en God het gesien dat hulle gelowig gebly het en daarom vir hulle die oorwinnaarskroon gegee.

Moenie toelaat dat die groot aanklaer, die duiwel self, jou te midde van beproewing ontmoedig nie. Jy moet onthou dat die magtige manne en vroue van God reeds deur dieselfde beproewings gegaan het, en baie ná jou sal ook swaar beproef word. Hou aan vorentoe kyk. Wees soos Job wat gesê het: “Al sou God my doodmaak, ek kan nie wag nie, ek moet my saak vir Hom stel” (Job 13:15, Bybel in Afrikaans 1983/1992).

Stry die goeie stryd, voltooi die wedloop, bly gelowig en kyk hoe God die res doen.

Bron: Alles wat ek nodig het deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.