Gedagte vir die dag: Die smart van ’n vriend

man_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ek is bedroef oor jou, my broer Jonatan. Jy was baie na aan my hart. (2 Samuel 1:26)

Dawid treur oor sy vriend Jonatan. Wanneer ’n mens die teksvers hierbo lees, hoor jy die intense persoonlike smart. Dis eintlik te groot vir woorde. As voortvlugtige was daar nie baie mense met wie hy intieme vriendskappe kon smee nie. Boonop was mense bang om met hom geassosieer te word. Saul se agtervolgingswaansin was wyd bekend. ’n Vriend van Dawid kon ewe maklik in Saul se visier kom.

In Spreuke 18:24 staan daar: Maats kan jou breek, maar daar kan ook ’n vriend wees wat nader is as ’n broer. Jonatan was meer as ’n vriend vir Dawid. Hy noem hom ’n broer. Die term “boesemvriend” verwys na ’n vriend wat jy teen jou boesem (bors) druk.

In ons moderne samelewing is ware vriende skaars. Ek lees van ’n jong meisie wat haar eie lewe geneem het. Sy het meer as 1 000 fb-vriende gehad, maar haar laaste fb-inskrywing lui dat sy bitter alleen is en smag na net één ware vriendin. Ons moet mekaar oppas en ons vriendskappe koester. Hulle is broos en kosbaar.

Christus noem ons sy vriende. Hy wil hê ons “siele moet aan Hom verkleef wees”. Ons moet sy boesemvriende wees – nie blote navolgers nie. Hy smag daarna dat ons ons diepste gedagtes met Hom sal deel en vir Hom sal sê: U is na aan my hart.

Here, ek het U lief met my hele hart. Amen

Bron: Die Here is my Herder deur Lizette Murray
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here Jesus vir n verhouding met U , vir elke vriend en vriendin, ek koester dit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.