Gedagte vir die dag: Bring hulde aan die vroue

hoop-geel-blom-oop-hande

Foto: Lina Trochez/Unsplash.com

Waar sal jy ’n knap vrou kry? ’n Goeie vrou is meer werd as edelstene. (Spreuke 31:10)

Kom ons bring vandag hulde aan die vroue in ons lewe. Sonder hulle het ons nie ’n tuiste nie. My dierbare vrou, Jill, is my vertroueling en is al aan my sy vandat ek begin boer het. Sy bring balans in my lewe. Sy het my kinders geleer om my te respekteer en te bederf, maar sonder haar sal geen dag spesiaal wees nie.

Wanneer ons God se Woord lees, sien ons Matteus 28:1 sê: “Vroeg Sondagmôre, terwyl dit begin lig word, het Maria Magdalena en die ander Maria na die graf gaan kyk.” Waar was die dissipels? Hulle het weggekruip. Dit is die waarheid. Dit was twee vroue wat na die graf toe gegaan het wat eerste uitgevind het dat die Here opgestaan het. Ons het werklik vroue nodig!

Jy weet, ek sê altyd grappenderwys dat as mans babas moes kry, die mensdom lankal sou uitgesterf het. Ek dink net nie mans sal die pyn en ongemak kan hanteer nie. Ek wil God vandag dank vir die vroue in ons lewe.

John Wesley was ’n groot hervormer en deur sy prediking het ’n groot herlewing ontstaan. Hy skryf egter dat die persoon wat die grootste invloed in sy lewe gehad het sy ma, Susanna, was. Terloops, sy pa was ’n leraar. Ek wil hê jy moet God vandag dank vir vroue. Vroue, weet dat julle geliefd is en dat ons dit nie sonder julle sal maak nie.

Bron: Alles wat ek nodig het deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.