Gedagte vir die dag: Die Here is genadig

Argieffoto (Foto: Cristina Gottardio/Unsplash)

“En Ek sal tussen jou in laat oorbly ‘n ellendige en geringe volk wat by die Naam van die Here skuiling soek. Die oorblyfsel van Israel sal geen onreg doen en geen leuentaal spreek nie, en in hulle mond sal geen bedrieglike tong gevind word nie; maar hulle sal wei en neerlê, en niemand sal hulle verskrik nie” (Sefanja 3:12-13).

Skrifgedeelte
Sefanja 3:12-13

Oordenking
Sefanja was ʼn profeet in die regeringstyd van koning Josia. Die twee konings voor koning Josia, naamlik Manasse en Amon, het die volk van die wal af in die sloot gehelp. Die volk se godsdiens en sedes was op ʼn absolute laagtepunt. Sefanja se boodskap is ʼn reguit en harde boodskap oor die verkeerdheid van sonde en die nodigheid om terug te draai na God. Dan lê hy veral klem op nederigheid en afhanklikheid van God. Hy pleit by die volk om nederig en gering voor God te wees.

Die kort boek Sefanja begin dan ook met reguit en harde boodskappe van Sefanja aan die volk. Die boek eindig met die goeie nuus dat God altyd bereid is om te vergewe as jy terugdraai na Hom toe. Wanneer jy kies vir nederigheid en bereid is om van jou troon af te klim, is God die eerste een om jou te vergewe en te herstel. As jy bereid is om te erken dat jou sonde verkeerd is en ʼn nuwe lewenstyl kies, is God daar om jou te vergewe. Dit vra egter nederigheid om jou sonde te aanskou en daarmee af te reken. Sonder nederigheid is bekering en redding nie moontlik nie.

Waar staan jy in jou lewe wat nederigheid aanbetref? Waar staan jy rondom eerlik wees oor sonde in jou lewe? God staan en wag om jou met sy genade te tref – genade wat herstel en vergewe. Hoekom op die troon bly sit? Klim af soos die volk in Sefanja se tyd en maak Jesus die Koning van jou lewe.

  • Hierdie oordenking verskyn in Leef gefokus deur Johan Smith. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.