Gedagte vir die dag: Draai altyd na God

Argieffoto (Foto: Jon Tyson/Unsplash)

“Elifas het gesê: “Wat ek sou gedoen het as ek jy was, Job: ek sou na die Here toe gaan en my saak by Hom stel. Hy doen wonderlike dinge wat eintlik te groot is vir ons om te verstaan” (Job 5:8-9).

Skrifgedeelte
Job 5:8-9

Oordenking
Job het tienduisende vrae en hy kry nie antwoorde nie. God voel vir hom ver, asof God hom vergeet het. Hy is selfs spyt oor die feit dat hy gebore is. Ja, Job kry opreg swaar. Die gevaarlikste om vir enige mens in sulke omstandighede te doen, is om verduidelikings en antwoorde te probeer gee. Ek het oor die jare geleer dat goedkoop antwoorde jou nêrens bring nie en baie selde troos en vrede bied vir die mense wat swaarkry.

Elifas sien en hoor van Job se swaarkry. Hy kry sy vriend bitter jammer. Hy ervaar Job se pyn so intens saam met hom dat hy ook huil en vir dae lank net by Job sit. Dan gee Elifas vir Job raad – en dit is baie gevaarlik om onder sulke moeilike omstandighede raad te wil gee. Elifas sê egter vir Job hy moet na God draai met sy vrae en met sy pyn en seer. Elifas behou perspektief. Hy is nie so vasgevang in die situasie soos Job nie; daarom is sy persepsie oor wie God is nog 100% in die kol. Hy weet God kan vir Job ʼn wonderwerk doen. Hy weet God is getrou en Hy sal vir Job help en uitkoms gee.

Buiten dat hy vir Job sê om na God te draai, vertel hy ook vir Job net weereens van die getrouheid van God. Hy herinner Job daaraan dat God die Een is wat die reën gee, Hy help hartseer mense om weer aan te gaan met hulle lewe en Hy gee armes weer nuwe hoop. Dit is die boodskap van hoop wat iemand in pyn en seer nodig het om te hoor: God is wie Hy is ten spyte van jou omstandighede en Hy sal uitkoms gee.

  • Hierdie oordenking verskyn in Leef gefokus deur Johan Smith. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Charllas ·

Ek is soos Job in sak en as…. ek voel God het sy rug op my gedraai en vanaf Mei maand lees ek glad nie meer die “gedagte vir die dag” nie, want God het my verlaat my gelos om alleen te suffer…. ironies dat die stuk juis vandag op is, op die dag wat ek maar net op die “link” geklienk het……. God gee op snaakse maniere Sy boodskap deur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.