Gedagte vir die dag: In ʼn donker put gegooi

Argieffoto (Foto: Bruno van der Kraan/Unsplash)

“Toe het hulle Josef gegryp en hom met geweld in die put gegooi. Gelukkig was die put leeg en Josef het op droë grond geval” (Genesis 37:24).

Skrifgedeelte
Genesis 37:24

Oordenking
Soms dink mense, of verkondig mense selfs, dat om Jesus te ken die lewe een heerlike ervaring van maanskyn en rosegeur maak. Swaar tye is verby. Moeilike tye is iets van die verlede. Van nou af is dit sonskyn en geluk en vreugde. Verkeerd! Ongelukkig leef ek en jy in ʼn wêreld waar daar ʼn sondeval was. Ongelukkig het die sondeval groot skade aan God se perfekte skepping aangerig. Daarom is daar soms “putte van die lewe” waarmee ek en jy gekonfronteer word.

Jesus vrywaar ons nie van pyn en seerkry nie. Ja, God is in beheer, maar elke mens op aarde ervaar die boosheid en verwoesting van die sondeval. Ten spyte van pyn en seer en die “putte van die lewe” maak Jesus jou ʼn oorwinnaar en gee Hy vir jou lewe in oorvloed. Jy moet in daardie put-tye jou oog op Jesus hou en nie op jou omstandighede nie. Jy moet weet dat God nooit gelyk is aan jou omstandighede nie. Nee, God is groter as enige probleem of krisis in jou lewe en kan jou daarom dra en help in put-tye.

Dit is wat Josef ervaar. Hy sit in ʼn donker, droë put. Kan jy dink wat deur sy kop moet gaan? Verward. Seergemaak. Baie onbeantwoorde vrae. Hy verloor egter nie moed nie. Sy oë is op die Here. Sy hoop is in ʼn God wat leef. Hy verstaan nie wat aangaan nie, maar hy hou vas aan God en sy beloftes. Leer op ʼn jong ouderdom, soos Josef, om in swaar tye na God te draai en aan Hom vas te hou. Leer God werklik vertrou ook in jou put-tye en kyk wat maak Hy met jou lewe.

  • Hierdie oordenking verskyn in Leef gefokus deur Johan Smith. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here virgenade baie meer as wat ek ooit verdien, ek reken op U nabyheid in hierdie put tyd

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.