Gedagte vir die dag: Roep na Hom

Argieffoto (Debby Hudson/Unsplash)

“Ek kon dit nie glo totdat ek hier aangekom het en dit met my eie oë gesien het nie. Trouens, die helfte daarvan is my nie vertel nie. Jou wysheid is baie meer as wat aan my meegedeel is” (2 Kronieke 9:6).

Skrifgedeelte
2 Kronieke 9:6

Oordenking
Die koningin van Skeba het waarskynlik vir maande van Etiopië na Israel gereis om koning Salomo te ontmoet. Sy het die wysste en rykste man op aarde ontmoet, en sy het gekom om na hom te luister. Toe sy daar aankom, kon sy nie glo wat sy sien nie – die rykdom, die organisasie en die wysheid waarvan sy gehoor het. Haar woorde was: “Net die helfte daarvan is my meegedeel.”

 

Hoekom is dit dat ek en jy heen en weer hardloop om mense se raad te vra terwyl ons Here Jesus gereed sit en wag dat ons na Hom toe moet kom? Hy wil ons help en ons lei. Matteus 11:28-29 sê: “Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en Ek sal julle lewens verkwik. Neem my juk op julle skouers. Kom leer van My, want Ek is sag en nederig van hart, en julle sal rus en nuwe moed vir julle lewe kry.”

Ek en jy het al die raad, die krag en die beskerming tot ons beskikking. Al wat ons moet doen, is om Hom te vra. Dit is presies wat koning Salomo gedoen het en God het dit vir hom gegee. Moet asseblief nie die hele wêreld vol rondhardloop nie. Die Here sê ons moet na Hom roep en Hy sal ons antwoord. Hy sal vir ons groot dinge wys waarvan ons nie geweet het nie (Jeremia 33:3). Roep vandag na Hom; Hy sal jou antwoord.

  • Hierdie oordenking verskyn in Op pad met God deur Angus Buchan. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.