Gedagte vir die dag: Wees tevrede

Argieffoto (Foto: Neom/Unsplash)

“Ek weet hoe dit voel om arm, nee, brandarm te wees, maar ek weet ook hoe dit voel om genoeg of selfs te veel geld te hê. Maar ek laat nie toe dat sulke dinge my onderkry of met my weghardloop nie. Ek is en bly altyd tevrede, wat my ook al tref. Dit maak nie saak of ek sonder ʼn krieseltjie kos gaan slaap of soveel kos het dat ek dit nie alles kan opeet nie. Of ek net die klere aan my lyf het en of ek ʼn huis vol goed op my naam het, vir my is dit eintlik maar om’t ewe” (Filippense 4:12).

Skrifgedeelte
Filippense 4:12

Oordenking
Baie min mense is vandag positief, opgewonde en vrolik. Die rede is omdat hulle geluk en vreugde van hulle omstandighede afhang. Mense se praatjies is baie keer negatief en pessimisties. ʼn Donker toekoms word voorspel en geen lig is sigbaar nie, altans volgens hulle praatjies.

Die Bybel beskryf geloof juis om te glo in dit wat jy nie kan sien nie. Om God te vertrou is om vas te hou aan sy beloftes al lyk jou omstandighede hoe donker. Ja, dit is baie moeiliker in slegte en moeilike tye om vas te hou aan God en Hom te vertrou as wat dit is wanneer dit met jou goed gaan. Dit is egter juis een van die vernaamste eienskappe van geestelike volwassenheid: om sterk en staande te bly in moeilike en swaar tye.

Paulus het geweet dat God is wie Hy sê Hy is. Hy verander nie soos die wind en die weer nie. Nee, Hy is, was en sal altyd dieselfde wees. Paulus het tye van oorvloed beleef en tye waarin hy armoede beleef het – ten spyte van sy omstandighede is hy ʼn oorwinnaar omdat hy vasgehou het aan wie God werklik is. En jy verander God in jou wêreld?

  • Hierdie oordenking verskyn in Leef gefokus deur Johan Smith. Dit word goedgunstiglik deur die Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.