Gedagte vir die dag: Geen kortpaaie nie

Foto: Annelize Brits

God is téén dié wat te veel van hulleself dink, maar dié wat besef hoe afhanklik hulle van Hom is, aan húlle gee Hy sy genade. (1 Petrus 5:5)

Toe vat Saul self die swaard en val daarin. (1 Sameul 31:4)

Saul het weens sy hoogmoed gesterf. Hoogmoed kom altyd voor die val. In 1 Petrus 5:5 sê die Here Hy weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges betoon Hy genade.

Baie mense moes al ’n duur prys betaal vir hulle optrede wat gespruit het uit hulle selfsugtige en dwase hoogmoed. 1 Samuel 31 beskryf vir ons hoe die vyand op die punt was om vir Saul gevange te neem. Eerder as om deur hulle bespot en doodgemaak te word, het hy sy wapendraer beveel om hom dood te maak. Sy wapendraer het geweier, en gevolglik het Saul sy eie lewe geneem.

Daar is geen kortpaaie na die hemel nie. Niemand is sonder sonde nie. Daar is niemand in hierdie wêreld wat nog nooit ’n fout gemaak het nie. Al wat God vra, is dat ons ons sonde sal bely en oor sal begin. Dit maak nie saak wat jy gedoen of wat jy nie gedoen het nie, as jy God vra om jou te vergewe, jou sonde bely en jou met God versoen, sal Hy vir jou nog ’n kans gee.

Hoogmoed sê: “Ons doen dit op my manier, of glad nie.” Dit is nie hoe God werk nie. God het my op ’n onvergeetlike manier nederigheid geleer. Ek was ’n man wat uit eie krag baie sukses in die lewe behaal het, en ek was vas van plan om dit weer reg te kry toe ek vanuit Zambië na Suid-Afrika gekom het. Ek het geweier om hulp van enigiemand te aanvaar. Ek het alles op my manier probeer doen en ek wou self vir alles betaal. Ek wou geen geskenke of hulp aanvaar nie. Uiteindelik moes ek God om genade smeek.

God het my genees en gered. Daarom sal ek nooit ’n byeenkoms begin sonder om te bid nie, en ek sal nooit op ’n verhoog bid sonder om op my knieë te gaan nie. Hoekom? Want ek wil hê die Here moet sien en ek wil hê mense moet weet ek is nie ’n hoogmoedige mens nie. Ek wil nederig bly sodat God my kan verhoog. Ek wil nie myself verhef nie. Ek kan nie. Jesus sê immers: “As julle My verheerlik, sal Ek mense na My toe trek.”

Leef vandag vanuit jou verlossing. Vertrou op die Here en Hy sal jou pad na sukses vir jou gelyk maak.

Bron: ‘n Mosterdsaad deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here dankie dat U my van hoogmoed kan bevry…in Jesus Naam

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.