Gedagte vir die dag: Hoe groei ek in geloof?   

Foto: pixabay.com

Die geloof dan is ’n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ’n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek. (Hebreërs 11:1, 6)

Soos julle weet, is my geliefkoosde onderwerp geloof. Ek wil vir jou vra: Waaruit bestaan geloof? Ek ontmoet baie mense wat vir my sê hulle wil meer geloof hê sodat hulle die goeie stryd kan stry en die wedloop kan voltooi. Hulle wil in die lig wandel te midde van omstandighede wat tans so onseker is. In sy boek My Utmost for His Highest skryf Oswald Chambers: “Die wortel van geloof is die kennis van ’n Persoon.” Om geloof te ontwikkel, is nie iets wat onmiddellik gebeur nie. Jy kan nie ’n towerstaf swaai en geloof ontvang nie. Geloof is ook nie iets wat jy ontvang deur na geloofspreke of boodskappe te luister nie. Nee, jy groei in geloof deur ’n Persoon te leer ken; daardie Persoon is Jesus Christus, die Seun van die lewende God.

Abraham was ’n man wat geloof gehad het. “Die Skrif is vervul wat sê: En Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is ’n vriend van God genoem” (Jakobus 2:23). Daar word ’n paar keer in die Bybel na Abraham se geloof in God verwys (byvoorbeeld Genesis 15:6 en Romeine 4:3). Ek glo die rede hiervoor is dat jy God nie kan behaag sonder geloof nie. Hebreërs 11:6 sê: “Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek.”

Vers 8 sê verder: “Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ’n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom.” Abraham het sy huis verlaat en na ’n onbekende land getrek. Hy het God vertrou. Hoekom? Hy het dit gedoen omdat hy God geken het. Wat sê God vandag vir jou, en wat hou jou terug? As jy God ken, sal jy Hom vertrou. Dit is so eenvoudig en so gekompliseerd soos dit. Jy kan nie iemand vertrou wat jy nie ken nie – die vraag is hoe goed ken jy Hom?

My Vader, ek wil U beter leer ken; dit is die gebed en die begeerte van my hart. Ek wil U ken soos Abraham U geken het, en ek wil U ook met my hele hart volg en vertrou. Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.