Gedagte vir die dag: Hy het ons sonde op Hom geneem

Foto: pixabay.com

God het die mensdom só liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. (Johannes 3:16)

Daar is ’n verhaal van ’n gelowige man van God met die naam Anil wat baie jare gelede in Rusland gewoon het. Hy was die leier van ’n groep nomades. Die Russiese koning in daardie tydperk was egter ’n bose man wat herhaaldelik probeer het om hierdie nomadiese stam uit te wis, maar hy kon hulle net nooit vang nie. Hulle krag was in hulle eenheid en samehorigheid geleë. Hulle het altyd ’n wag met ’n ramshoring op die hoogste berg laat sit. Die oomblik wanneer hy die koning se soldate sien aankom het, het hy op die ramshoring geblaas. Die groep het dan dadelik hulle tente afgeslaan en weggetrek.

Ongelukkig het daar op ’n dag onenigheid in die kamp uitgebreek. Die leiers het na Anil se tent gegaan en gesê: “Daar is ’n dief wat ons besittings steel. Ons grootste vrees is dat dit verdeeldheid onder die mense gaan veroorsaak. Wanneer dit gebeur, sal daar nie meer eenheid tussen ons wees nie. En dan sal ons in die hande van die bose koning val.”

Anil en die leiers het besluit om ’n lokval te stel om die dief vas te trek. Hulle sou die persoon aan ’n wawiel vasmaak en 39 houe gee.

Ná ’n week het hulle inderdaad die dief gevang. Die tragedie was dat dit Anil se 85-jarige ma was. Al die mense het na Anil se tent gekom om te sien wat die man van God sou doen, want hy self het bepaal dat die dief 39 houe moes kry. Anil het vir die lede van sy stam gesê: “Gee vir my drie dae om te vas en te bid, dan sal ek vir julle sê wat ek gaan doen.”

Ná drie dae het hulle almal weer bymekaargekom. Anil het by sy tent uit gestap en aangekondig: “Die vonnis sal voltrek word, maar ek sal die houe in die plek van my ma dra.”

Glo jy werklik dat Anil se ma ooit weer gesteel het nadat sy moes toekyk hoe haar onskuldige seun die pynlike houe in haar plek moes verduur? Dit is wat Jesus Christus vir my en jou gedoen het. Hy het ons sonde op Hom geneem en Hy het vir ons gesterf. Laat ons dan vandag uitgaan en nie meer sonde doen nie.

Bron: ‘n Mosterdsaad deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie O Heer vir U wonderlike liefde en genade vir n sondaar mens

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.