Jou vrou is in jou huis soos ’n vrugbare wingerdstok, jou seuns is rondom jou tafel soos jong olyfboompies! (Psalm 128:3)
Die psalmdigter teken ’n gesin by hul eetkamertafel. Die kinders is soos jong olyfboompies. Hulle buig in afwagting vorentoe. Die dun takkies knak nog maklik. Die stammetjies is nog nie sterk en regop nie. Nogtans dra die tenger takkies die groen lewenskragtigheid van ’n boom wat opwaarts beur – son toe.
Dat kinders met jong olyfboompies vergelyk word, bevestig weer hoe kosbaar hulle vir God is. Terselfdertyd beklemtoon die metafoor hul broosheid en die feit dat hulle nog gestut moet word, sodat hulle stewig en regop kan groei.
Hierdie jong olyfbome is in ons as volwassenes se sorg. Ons kinders is afhanklik van ons koestering en liefde en begeleiding. Ouers is verantwoordelik vir hulle versorging en welstand; en ook vir hulle geestelike groei. Ons moet altyd onthou wie die Gewer van hierdie kosbare olyfboompies is, want ons moet aan Hom verantwoording doen vir ons aandeel in die snoei en reg buig en bemesting en voeding van die boompies.
Ons moet respek vir ons kinders hê, want ons weet nie watter werk God vir hulle in gedagte het nie. Daarom moet ons hulle begelei om hul volle potensiaal te bereik. As ons mooi kwaliteite en talente in hulle raaksien, moet ons dit help ontwikkel. Ons mag onsself egter nooit in selfvoldaanheid bokant ander verhef nie.
Christen-ouers se grootste doel op aarde is nie om kinders tot selfverwesenliking aan te spoor nie, maar om hulle te lei om God deur hul lewens te verheerlik.
Here Jesus, dankie vir die olyfboompies in my sorg. Amen
Dit is so waar. Dis by ouers waar die basiese dissipline, waardes, en kennis van God geleer moet word.