Gedagte vir die dag: Koningseun en skaapwagter

skape_lammers_veld_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: Pixabay.com

Nadat Dawid klaar met Saul gepraat het, het Jonatan baie geheg geraak aan Dawid en hom liefgekry soos homself. (1 Samuel 18:1)

’n Koningseun en ’n skaapwagter. Wat ’n onwaarskynlike kombinasie. Dawid en Jonatan se vriendskap was onvoorwaardelik. Dit het nie saak gemaak dat Dawid van nederige afkoms was en Jonatan ’n koningseun nie. Hulle het nie na die uiterlike dinge gekyk en mekaar volgens stand beoordeel nie. Hulle het mekaar se harte raakgesien.

In haar boek Mrs. Lincoln and Mrs. Keckly: The Remarkable Story of the Friendship Between a First Lady and a Former Slave vertel Jennifer Fleischner die inspirerende verhaal van die vriendskap tussen Abraham Lincoln se vrou, Mary Todd Lincoln, en haar kleremaker, Elizabeth Keckly. Mary se ma is dood toe sy nog ’n klein dogtertjie was, en sy het haar toevlug en troos tot Sally, die slawevrou, wat in hul gesin se diens gestaan het, geneem. Mary se innige verhouding met Sally het die grondslag gelê vir haar latere vriendskap met Elizabeth Keckly, ’n vrygelate slaaf. By Elizabeth het Mary weer iets van die kleintydse geborgenheid wat sy by Sally ervaar het, teruggevind. Op haar beurt kon Elizabeth by Mary net haarself wees. Sy kon haar vryheid en onafhanklikheid uitleef sonder om minderwaardig of geïnhibeer te voel. Hulle het mekaar onderling gerespekteer en vertrou. Dit was die basis van hul besondere vriendskap.

In Jonatan en Dawid se verhouding sien ons die eienskappe van ware vriendskap. Lojaliteit. Aanvaarding. Onselfsugtigheid. Liefde. En ’n deurleefde innige verhouding met ons hemelse Vader.

Hierdie vriendskap was ’n vaste baken dwarsdeur albei se lewens.

Here, help my om ’n ware vriend te wees. Amen

Bron: Die Here is my Herder deur Lizette Murray
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

FM ·

Die hoof bestanddeel van ware vriendskap is onbaatsugtige liefde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.