My Gees sal by julle bly soos Ek julle belowe het toe julle uit Egipte getrek het. Julle moet glad nie bang wees nie. (Haggai 2:5)
Wie se skuld is dit? Dit is deesdae die standaardvraag wanneer slegte dinge gebeur. Dit word egter nooit gevra wanneer goeie dinge gebeur nie. Dan is dit sommer ons eie skuld. Maar as iets slegs gebeur, moet dit altyd iemand se skuld wees. Of God s’n. Iewers moet daar ’n oorsaak-gevolg-verklaring wees vir dinge wat skeefloop. Toe iemand juis onlangs op TV vertel sy is in ’n stryd gewikkel oor wie se skuld siekte en swaarkry is: Die duiwel s’n, of God s’n, besef ek weer daardie “Hoe verklaar mens dit?”-departement is steeds aktief.
God weier egter om in sulke oorsaak-gevolg-skemas betrek te word. Hy weier om die onbeweeglike beweger te wees wat alles en almal rondskuif soos Hy wil, maar wat self nie geskuif kan word nie. God is ons hemelse Vader. Hy is by ons. Niks kan ons uit sy hand ruk nie. Daarom hoef ons nie alles te verklaar nie. Ons troos is dat niks ons van God se liefde kan skei nie. Ons troos is relasioneel, nie rasioneel nie. Ons hoop is gevestig op ’n verhouding met die lewende God. Hy is ons kompas hierdie jaar.
Dankie Here ek wil volkome op U vertrou…U is die Waarmaker van U Woord