Gedagte vir die dag: Nie mýne nie …

arms_uitgestrek_man_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

“(E)n nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê” (Galasiërs 2:20)

Miskien is jy soos ek: taakgerig, doelgerig, vasbeslote. Ek wil ’n lewe vol goedheid en liefde leef. Ek soek God se wil. Ek wil sy Koninkryk help uitbou. Ek wil my besluite só neem dat God daardeur geëer word.

Te midde van al my pogings om ’n lewe volgens God se wil te lei, beland ek dikwels op ’n punt waar ek onbewustelik dink: Dis mý tyd, mý talente, mý doelwitte, mý verhoudings, mý lewe. Ek moet dit so goed en so doeltreffend moontlik gebruik. Ek moet elke geleentheid aangryp en benut. Ek moet verhoudings bou en dit laat werk. Ek moet my talente ontwikkel en dit aanwend. Ek moet lewe, en ek moet dit góéd doen!

Ek staan met albei hande styf vasgeklem om dít wat ek “my lewe” noem. My lewe moet saak maak, dit moet ’n verskil bring. Maar dis juis dan dat ek God se stem hoor: “Nee, hou dit net liggies vas.”

En ek word herinner aan dié woorde in 1 Johannes 4:4: “Julle behoort aan God, liewe kinders …” En aan hoe Petrus in sy eerste brief verduidelik hoe ons nie met silwer en goud gekoop is nie, maar met die kosbare bloed van Jesus. Sodat ons geloof en hoop op God gerig sal wees en nie op ons eie vermoëns of talente of bekwaamhede nie (vgl. 1 Pet 1:18-21).

Ek word ook herinner aan Paulus se belydenis aan die Galasiërs: “(E) n nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê” (Gal 2:20).

Dis nie mý lewe nie. Ook nie mý geleenthede of talente of verhoudings nie. Ek is maar ’n kind wat nie al die antwoorde of wysheid het nie. En ek mag maar ontspan in die wete dat my vermoëns en besluite bloot ’n klein gedeelte vorm van die groter prentjie waarin Christus die Koning is en waarin ons hemelse Vader die laaste sê het en waar die Heilige Gees ons help onthou vir wie ons eintlik leef.

Wanneer ek weer wil teruggryp en beheer oor “my” lewe wil neem, ken ek nou ook die eerste stap om dit te verhoed: Ek sê dankie. Ek sien wie éintlik die hef in die hand het, en ek loof Hom vir my lewe, talente en vermoëns.

Dis dan dat ek dit eensklaps regkry om te onthou dat ek nie aan myself behoort nie.

Here, ek dank U dat ek nie aan myself behoort nie, maar aan U, my enigste Troos in lewe en in dood.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SJME ·

Baie dankies. Wat ‘n wonderlike Boodskap! Loof onse Here Jesus Christus!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.