Gedagte vir die dag: ’n Olyfboom in u huis

 groen-olyf-domebil-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay/domebil.com

Ek sal wees soos ’n groen olyfboom in die huis van God; ek vertrou op die goedertierenheid van God vir ewig en altyd. (Psalm 52:10, Bybel in Afrikaans 1933/1953)

In Psalm 51 smeek Dawid die Here om genade nadat die profeet Natan hom oor sy owerspel met Batseba kom betig het. In dié psalm stort hy sy hart voor God uit. Hy pleit: Wis my oortredings uit in u groot barmhartigheid. Sy smeekgebed: U sal ’n hart vol ootmoed en berou nie gering ag nie, o God, bring weer rustigheid in sy gemoed (Psalm 51:3, 19).

Dawid het sy sonde bely. Hy neem God se vergifnis ter harte. Daarom kan hy in Psalm 52 vol vertroue skryf: Ek sal wees soos ’n groen olyfboom in die huis van God.

Dawid sien homself nou soos God hom sien. Vrygespreek. Smetteloos. Sy groot misstap is uitgewis. Hy is ’n welige, vrugbare olyfboom. Hy staan regop, met sy oë op God gerig. En hy voel opnuut tuis in die huis van God.

Wanneer God jou sonde uitwis, is jy ’n nuwe mens. Jy is nie langer ’n verdroogde olyfboom met verskrompelde vruggies nie. Jy staan weer met opgeslane oë en oop hande voor die Here. En jy is bereid om oor sy weldade aan jou te getuig.

Psalm 52 is ’n gedig met die titel, “God is goed”. Dis ook ’n loflied, opgedra aan “die koorleier”. Dit is ’n dawerende koorwerk, ’n lied vir baie stemme. Die tema van die lied weerklink in die slotwoorde van die psalm: Voor u dienaars sal ek u Naam prys, want U is goed (Psalm 52:11).

Here God van Israel, dankie dat ek ’n welige olyfboom in u huis mag wees. Ek hef my loflied op na U. Amen

Bron:  Oomblikke van stilte deur Lizette Murray
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.