Gedagte vir die dag: Ons getroue God

wolke_sonsondergang_hemel_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Jy moet dan weet dat die Here jou God God is, die getroue God wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat Hom lief het en sy gebooie onderhou, in duisend geslagte. (Deuteronomium 7:9)

Die rede hoekom ek en jy met vertroue deur geloof kan leef, is omdat ons ’n getroue God dien. Ongeag wat in jou lewe gebeur, jy kan op God staatmaak; “weet dat die Here jou God is”. Dit is hoekom jy niks hoef te vrees nie. Dit is hoekom niemand jou leed kan aandoen nie. Dit is hoekom jy die lewe van ’n oorwinnaar kan leef. Jy dien ’n getroue God. Hy het belowe om jou nooit te begewe of te verlaat nie. Wat ook al gebeur, Hy is langs jou. Hy is daar op goeie dae; Hy is daar in die slegste tye. Hy is ’n God wat sy verbond hou. Het jy al ooit in diepte besin oor wat dit beteken? Ek praat nie van iets wat akademies is nie. Dit is nie ’n intellektuele ding nie; nee, God se getrouheid is die mees kosbare besitting wat ons het.

God se trou versterk ons, dit gee ons hoop. Ons is kosbaar vir God. Lees weer wat Hy van ons sê: “Jy is ’n volk heilig aan die Here jou God; jou het die Here jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees. Die Here het ’n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke. Maar omdat die Here julle liefgehad en die eed gehou het wat Hy vir julle vaders gesweer het” (vers 6-8).

Hoe voel jy as jy hierdie woorde lees? Dit is God wat met jou praat en jou verseker van hoe Hy oor jou voel. As ons die punt bereik waar ons werklik kan verstaan wat God se getrouheid vir ons beteken, kan ons bo ons omstandighede begin uitstyg. Jy kan juig, want jy is nie aan die genade van jou omstandighede oorgelaat nie. Jy kan bo jou omstandighede uitstyg omdat jou getroue God langs jou is.

My Vader, ek dank U vir u getrouheid teenoor my. As ek terugkyk oor my lewe, besef ek opnuut dat U altyd daar was. Ongeag wat gebeur het, U het my lief en U gee om vir my. Ek prys U vandag hiervoor. Ek dank U dat ek deur geloof kan lewe omdat U getrou is. Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.